Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Tegnologie laat warmte van verhoudinge kwyn
Retha Fick

Kollega Charles Smith skryf vandeesweek in ’n rubriek op Netwerk24 ons moet práát oor seuns en pa’s. Ons seuns is in die moeilikheid, sê hy. En dit is pa’s se skuld. Die name Don, Henri en Xander sê baie oor die krisis. Daarom beplan Charles pa-en-seun-kampe en vra mense wat dit wil bywoon moet hom laat weet. Want daar is baie Stellas wat verhoed kan word.

Kollega Jo Prins en sy vriend Melusi Tshabalala se eerste broodbreekbyeenkoms, oftewel ubudlelwano-gesprek (“ubudle­lwano” beteken “verhouding”), het Saterdag in Melville plaasgevind. ’n Poging om rasse bymekaar te bring – en te práát. Saam te eet, mekaar in die oë te kyk. Mekaar te begin verstaan.

Ene Eric braak gal onderaan die aanlyn berig oor dié byeenkoms. “Hierdie tipe indabas is waarmee mense hulself besig hou wat aan die koerant wil skryf watter kampvegters hulle nou is vir ander.” Nog ’n bitterbek voeg by: “Het in die 1990’s ook aan die gesprekke deelgeneem. Was net ’n saametery en daarna het niks verbeter nie.”

Dit is ’n sware, sware dag as ons ophou praat – as ons begin glo nie eens praat kan meer help nie.

Dit is ’n sware, sware dag as ons ophou praat – as ons begin glo nie eens praat kan meer help nie. Dit is júís wanneer ons dapper genoeg is om woorde te gee aan die dinge wat ons van mekaar wegdryf, vir ons diepste pyn en ons grootste vreugde, dat ons uit ons boeie kom, gesond word en mekaar waarlik kan kén. En begin vertrou.

Die dilemma is dat ons daardie vaardigheid aan’t verloor is. Ons woorde is te dikwels nie woorde van genesing en hoop nie. Dit het vervlak tot die gif­pyle van onverdraagsaamheid en venyn wat elke dag op sosialemediaplatforms en in kommentare onderaan aanlyn nuusberigte rondvlieg.

Want, dink ons, die sleutelbord van ’n rekenaar of selfoon is ’n vrypas om alle respek, ook selfrespek, by die venster uit te gooi.

Ook op Beeld se SMS-lyn. As ek nie met jou saamstem nie, mag ek jou beledig. En in die afbrekendste, vieslikste taal denkbaar. Want, dink ons, die sleutelbord van ’n rekenaar of selfoon is ’n vrypas om alle respek, ook selfrespek, by die venster uit te gooi. Dié soort lafhartigheid, want dit is wat dit ten diepste is, is soos ’n kanker wat hoop wegvreet.

Tegnologie laat die warmte kwyn wat eens sinoniem met verhoudinge was. In Januarie verander Facebook sy algoritmes sodat gebruikers meer gereeld plasings van vriende en familie sien en minder van nuuswebwerwe of smouse. Jou ervaring moet betekenisvoller en waardevoller wees, sê dié sosialemediareus.

Maar ís baie likes onderaan jou plasing net so betekenisvol soos ’n oproep van ’n familielid of ’n koppie koffie saam met ’n goeie vriend? Het die bossie blomme in die WhatsApp-boodskap dieselfde waarde as die ware Jakob op jou voorstoep?

Want sien, dit kos nie vreeslik opoffering om die like-knoppie te druk nie. Om jou hart oop te maak, verg baie meer.

  • Fick is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Mishandeling  |  Politiek  |  Praat  |  Omgee  |  Rassisme  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.