Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Transformasie moenie verdag gemaak word

Transformasie is ’n gewaardeerde praktyk in verskillende godsdienstige en sekulêre tradisies. Die invloedryke Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer het ’n teologie van transformasie ontwikkel. Vir hom is dit ’n reis van voortdurende omvorming wat lei tot konformasie en gelykvormigheid aan Christus.

In die Suid-Afrikaanse konteks sou ons kon sê transformasie is ’n reis van voortdurende omvorming en vernuwing wat lei tot groter eenvormigheid met die sentrale waardes van die Handves van Regte en die Grondwet – menswaardigheid, heling van die wonde, geregtigheid, vryheid en gelykwaardigheid.

Iets so kosbaar soos transformasie kan ongelukkig verdag gemaak word. Dit geskied op verskillende maniere: Party meen dit kan nie gedefinieer word nie. Dis ’n geval van soveel hoofde soveel sinne. Tydens apartheid het voorstanders van apartheid ook altyd gevra vir tegniese definisies van apartheid. Die beste antwoord was gewoon om te sê mense wat onder apartheid ly, is nie definisie-honger nie.

Iets so kosbaar soos transformasie kan ongelukkig verdag gemaak word.

Hulle wéét wat apartheid is. Hulle ervaar dit as verontmensliking, verminking, onreg, verdrukking, ongelykheid – presies die teenoorgestelde van dit waarvoor die Grondwet staan.

Ons kan dus van transformasie praat as ’n reis waarop individue, instellings en samelewings omvorm word sodat ons die gekoesterde waardes van die Grondwet beliggaam.

Sommige mense maak transformasie verdag deur dit as ’n reis voor te stel waar sommige wenners en ander verloorders is. Dit is egter ’n wen-wen-reis. Transformerende individue, instellings en samelewings wil nie inklusiwiteit hê wat nuwe uitsluitings skep nie.

’n NG predikant het dit lank gelede só raakgevat: “Ek weet die fakulteit (teologie aan die Universiteit Stellenbosch) is nie meer net ons huis nie, maar dit is ook nog ons huis”.

Waar transformasie nie as wen-wen voorgestel word nie, is dit nie ’n instrument van versoening, vriendskap en geregtigheid vir almal nie, maar van bedreiging, vervreemding en van ou en nuwe onregte.

Transformasie word ook verdag gemaak deur dit te beperk tot sogenaamde kwantitatiewe transformasie wat net op getalle fokus.

Dit is ook kwalitatief – die diversiteit van uitnemende persone sowel as die diversiteit van agtergronde, sieninge en gesigspunte. Dit gaan oor die omvorming van bewuste sowel as onderbewuste diskriminerende vooroordele.

Verdagmaking geskied ook waar sommige meen hulle staan net in die beskuldigdebank terwyl ander meen hulle is moreel meerderwaardig. Die ergste verdagmaking is egter juis die beoefening daarvan op ’n wyse wat nie die riglyne vir helende, vernuwende en toekomsgerigte transformasie volg nie.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Geloof  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.