Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Tyd vir deernis, geregtigheid

Die Suid-Afrikaanse teoloog Klaus Nürnberger het jare gelede drie praktyke voorgestel om armoede en sosio-ekonomiese ongelykheid in die land te pak – deernis, geregtigheid en opoffering. In hierdie tyd van die korona-pandemie moet ons hierdie praktyke opnuut ontwikkel en uitleef.

Deernis, ontferming, barmhartigheid, erbar- m­ing, bewoënheid, ons binneste en ingewande wat in beroering kom as dit sleg gaan met ons medemens – maagsenuwees as’t ware – is wat ons nodig het in die aangesig van swaarkry en ellende, redeneer hy. Dit herinner ons aan Hosea 11:8, wat God beskryf as die God wat, met respek gesê, maagsenuwees ontwikkel as dit nie goed gaan met Sy mense en skepsels nie.

Die tweede praktyk is geregtigheid. Nürnberger voer aan dat ons na die beste teorieë en modelle vir geregtigheid moet soek. Met hierdie teoretiese oefening moet onder meer ekonome, politieke wetenskaplikes, filosowe, regskenners, sosioloë en teoloë help.

Jare gelede het prof. André van der Walt van die regsfakulteit aan die Universiteit Stellenbosch juis so ’n projek gelei waarin op interdissiplinêre wyse gesoek is na teorieë wat die implementering van sosio-ekonomiese regte kan bevorder.

Die derde praktyk wat Nürnberger as onontbeerlik beskou, is opoffering.

Hy redeneer dat Christus se opoffering op Golgota ’n einde maak aan rituele opofferings wat vra vir die vloei van bloed.

In ’n Radical Sacrifice (2018) skryf die Britse literêre teoretikus Terry Eagleton oor die vooroordele teen die idee van opoffering.

Dit word geassosieer met onder meer die verheerliking van martelaarskap, met byna sieklike vreugde in lyding, met politieke druk om voorregte eensydig en selfvernietigend prys te gee, en met ’n ekonomies teenproduktiewe logika wat in die weg van ekonomiese groei en vooruitgang staan.

Eagleton bied insigte wat ons vandag só baie nodig het. Hy redeneer dat Christus se opoffering op Golgota ’n einde maak aan rituele opofferings wat vra vir die vloei van bloed.

Golgota baan die weg vir morele opofferings wat, soos die opstanding van Christus, ’n radikaal nuwe lewe inlei. Die pyn van opoffering is die transformerende en selfs revolusionêre pyn van ’n nuwe geboorte.

Om opofferend en mededeelsaam te leef, om te leer om jouself nie eerste te stel nie, en met minder te leef, is nie irrasionele en onverstandige passie nie. Die etiek van opoffering is eerder die groter redelikheid om saam welwees vir almal te vind.

Korona tref ons in ’n tyd van armoede, werkloosheid, ongelykheid, korrupsie, staatskaping, talle sosiale euwels, en ekonomiese afgradering. Ons word opgeroep om te leef met harte van deernis, hoofde wat geregtigheid bedink, en hande wat opofferend gee en deel.

En in die krisis reeds moedig begin bou aan ’n radikaal nuwe samelewing.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Geloof  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.