Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Tydigheid en ontydigheid

Die duurste horlosies help nie mense om betyds te wees nie, skryf Wilna de Klerk.

Detail uit Salvador Dali se ‘The Melting Watch’ (ook bekend as ‘Soft Watch at the Moment of First Explosion’) uit 1954.

’n Mens sou dink in hierdie tyd van inperking en van geen kuier en rondloop nie, sal die dae lank en uitgerek voor jou strek. Tog is dit nie so nie, die meeste mense wat ek ken, sê die kort wintersdae glip soos gedagtes verby, want hulle doen graag al daardie ou takies rondom die huis waarvoor daar nooit tyd is nie.

Tyd, het ek van kleins af geleer, tyd is kosbaar. My Pa was ’n man wat, as ons 9-uur iewers heen moes ry, reeds 8.45 gestewel en gespoor in die vaal Fordjie gesit en wag het. My Ma, aan die ander kant, moes dan “net gou” die hoendertjies kosgee, haar plantjies natmaak of vir Tant Sielie ’n paar koekies in ’n blik gooi.

’n Mens sou dink in hierdie moderne tyd van vinnige motors, goeie paaie en gesofistikeerde polshorlosies wat swaar aan hul eienaars se arms hang, sal mense darem betyds vir geleenthede kan wees. Maar daar’s nie so ’n ding nie. Jy word genooi (lees aangesê) om 10.00 by ’n vergadering te wees om na iemand baie belangrik te luister en haas jou uitasem om betyds te wees, net om te sit en dink aan al die onbegonne take by die huis terwyl jy wag vir die spreker wat om 11.30 sy opwagting maak.

Dan wil ek ook graag weet: wie het besluit dat mense genooi moet word vir 18.30 vir 19.00 uur. Hoekom nie net 19.00 uur nie. Die permanente lates wag in elk geval tot 19.15 en arriveer 19.30, net mooi wanneer die gasvrou se spog-soufflé besluit om plat te val.

Die inwoners van ons dorp – en sekerlik ook ander in soortgelyke omstandighede – het iemand soos “Miss Chrissie” van so dertig jaar gelede nodig om hulle ’n ding of twee te wys. Miss Chrissie was ’n onderwyseres uit een van die gesiene families van die dorp. Sy was ’n formidabele dame wat nooit getrou het nie en onderwyseres aan die plaaslike voorbereidingskool waar haar woord sekerlik ook wet was.

Sy was baie lief vir musiek en het in daardie tyd gewerk aan die opvoeding van haar mededorpenaars met die wonderlikste musiekkonserte wat sy met kunstenaars van ver en wyd gereël het. Die byeenkomste in die stadsaal is altyd baie goed bygewoon en kaartjies vir een of ander liefdadigheid is gou uitverkoop.

Maar, o wee, as Miss Chrissie gesê het die konsert begin om – daardie tyd nog sewe-uur – en jy is nie voor sewe op jou plek in die stadsaal nie, was dit neusie verby. Miss Chrissie het self, met die kerkhorlosie se eerste slag, die stadsaal se deur toegesluit en die sleutel in haar sak gesit. Die deur was vir die res van die konsert toe en of jy nou die burgemeester, dokter, skoolhoof of van die Broederbond was, ’n pap wiel of ’n kalf in die put gehad het, dit was nie ’n verskoning nie, jy het buite gebly, finish en klaar.

Wilna de Klerk

Ek wonder altyd hoe mense in die ou, ou tyd afsprake gemaak en gehou het. Jy kon wel sê “twee uur ná sonop” maar hoe het hulle geweet hoe lank ’n uur is? Sover ek kon vasstel, was die antieke Romeine die eerstes wat dag en nag in twaalf ure elk verdeel het. Dit moes seker omtrent kopkrap gekos het om die korter winter- en langer somerdae uit te sorteer.

Mense wat toe die eerste sonwyser ontwerp het, blykbaar die antieke Grieke, moes nogal slim gewees het, want die son en sy skaduwees verskil sekerlik aansienlik soos die aarde se breedtegrade wissel. En wat nou gedoen op ’n bewolkte dag of in die nag? Dis toe wat die gemerkte kers vir die nag en die waterklok vir die dag ontwerp is. So ’n klok, clepsydra, was ’n sestiende eeuse ontwerp van die Babiloniërs. Dit was glo ’n erdekruik met gaatjies waaruit water teen ’n sekere tempo gevloei het.

Hoe dit ook al sy – tyd was van die vroegste tyd af al belangrik en alhoewel dit nie as een van die deugde in die Bybel beskryf word nie, behoort mense die belangrikheid daarvan ter harte te neem. Ons het weer ’n Miss Chrissie op ons dorp nodig.

En nee, ek het nog nie my laaie reggepak, knope aangewerk of die dooie blomme in die tuin afgesny nie!

Meer oor:  Naweek  |  Horlosies  |  Wilna De Klerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.