Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Uncle Vic kon hom na ’n wêreld sonder kleur verplaas

In ’n wêreld waar velkleur en al die gepaardgaande vooroordele mense se lewens omgekrap het, het Uncle Vic se tromboon ’n universele taal gepraat, skryf Willem Fransman jr.

Uncle Vic se tromboon het ’n universele taal gepraat. Foto: Verskaf

’n Mens sien deesdae baie artikels oor sportmanne en -vroue waarin gekyk word wat van hulle ná hul dae van roem geword het. Ander handel weer oor sportlui op die kruin van die golf van beroemdheid.

Dit was juis met die lees van so ’n artikel dat ek aan Uncle Vic gedink het. Alhoewel hy in die middel van Januarie 2012 dood is, bly sy tragiese lewensverhaal my nou nog by.

Uncle Vic, soos almal liefderyk na hom verwys het, is eintlik Vivian Wilkinson gedoop. Hy was die oudste van vyf seuns en drie dogters, en is op 19 Augustus 1934 gebore.

Sy ouers was wit. Van pure opgewondenheid oor die geboorte van sy eerstelingseun vul sy pa die kind se ras verkeerdelik by die registrasiekantoor as “kleurling” in.

Vic lei niksvermoedend ’n gewone lewe as ’n wit seun en geniet al die voorregte wat daarmee saamgegaan het. Maar tog is dit opvallend dat hy dwarsdeur sy skoolloopbaan en latere grootmensjare in sy vriendekring as die een met die donkerder vel gesien is.

Gelukkig vir hom het sy ma die fout op sy geboortesertifikaat gesien en toegesien dat dit gekorrigeer word.

Vic sou later jare met homself spot en sê: “My probleem was ‘that I was tainted by the touch of the tar brush.’ ”

Hy het die weermag as loopbaan gekies, offisier geword en by ’n vermaaklikheidsorkes betrokke geraak. Hierin sou hy sy siel uitstort in sy geliefde instrument, die tromboon, en dit met toewyding bespeel.

Maar ondanks al die rasseprobleme wat Uncle Vic ondervind het, het musiek hom ten minste gemoedsrus gegee en ure se genot verskaf.

Sonder om hom in die saak te ken verander die weermag sy ras terug na “bruin”. Uncle Vic laat nie toe dat dit hom onderkry nie en trou met ’n wit vrou en laat hom wéér tot wit herklassifeseer!

Ná drie jaar skei hy, maar trou nog twee keer. Ook dié huwelike hou nie.

Ná sy derde egskeiding ontmoet hy Farina Muthen, ’n vrou van Indiese afkoms, in Windhoek. En dit nogal op ’n Clarence Carter-konsert.

As gevolg van sy betrokkenheid by die weermag se vermaaklikheidskonsert het hy dikwels in orkeste saam met oorsese kunstenaars opgetree, veral wanneer hulle die tromboon verkies het.

Vic en Farina met hul kroos. Foto: Verskaf

Oom Carolus “Soon” Swarts, ’n jare lange huisvriend van die Wilkinson-egpaar, het in ’n onderhoud ná Vic se begrafnis aan my gesê: “Farina en Vic was ware pasmaats. Sy het hom deur dik en dun bygestaan.”

Hy het haar liefderyk as Rani aanspreek. Vir haar en sy intieme familiekring was hy bekend as “The Blackbird”.

Ten einde met Muthen te trou, laat Vic hom dié keer vrywillig tot bruin herklassifiseer. Hulle tree in 1981 in Sun City in die huwelik.

Uncle Vic was ’n regte platjie en het nie geskroom om met homself te spot nie. “Eintlik behoort ek die Guinness World Records te haal omdat ek die enigste mens is wat al so baie van ras verwissel het!”

Die geval van Uncle Vic het my baie herinner aan die hartseerverhaal van Ronnie van der Walt, die Kaapse weltergewigbokser wat sy geveg in 1967 teen Willie Ludick ontneem is toe die nuus van sy gemengde herkoms aan die lig gekom het.

Maar ondanks al die rasseprobleme wat Uncle Vic ondervind het, het musiek hom ten minste gemoedsrus gegee en ure se genot verskaf.

Die laaste keer toe ek met tannie Farina gepraat het, het sy met trots geblaai deur Uncle Vic se talle plakboeke, wat sy self deur die jare bygehou het. Terwyl sy deur van die talle persoonlike boodskappe daarin lees, het sy dikwels ’n traan weggevee.

Van daardie persoonlike boodskappe was van internasionaal bekende sangers soos Lovelace Watkins, Rolf Harris, Dobie Grey, Jerry Lewis en ook The Platters.

Willem Fransman jr.

Wat my egter sal bybly, is 21 Januarie 2012 toe hy vanuit die eenvoudige Northpine Baptistekerk net buite Kraaifontein begrawe is. Sy gesinslede, intieme vriende en verskeie orkeste, soos die Dixie Swingers, was daar om hul laaste eer te betoon.

Hulle het op die diens ’n instrumentale huldeblyk aan hom met die “When the Saints Go Marching In” gebring.

’n Groep jong straatkinders, wat Vic gehelp het om musikante te word, was met hul instrumente teenwoordig. Ná die diens het hulle ’n erewag by die kerk se deur gevorm.

Hy kon homself verplaas na ’n wêreld waar velkleur en al die gepaardgaande vooroordele nie saak gemaak het nie.

Farina, en ons ook, sal Uncle Vic altyd wil onthou as die mens wat hom deur sy musiek uitgeleef het.

Hy was ook iemand wat kleur in ons eie lewens gebring het. Hy kon homself verplaas na ’n wêreld waar velkleur en al die gepaardgaande vooroordele nie saak gemaak het nie – net die klank van jou instrument.

Hy het geleef in ’n wêreld waar hy en sy geliefde tromboon ’n universele taal kon praat; helder en duidelik en sonder enige misverstande.

Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kraaifontein  |  Apartheid  |  Weermag  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.