Ek wil regtig nie my lewe deurbring in daardie tydgleuf waarin sommige vasgevang is nie. Hulle sit al hul hoop op die dag van môre. Hulle praat gedurig van môre, wanneer dinge gaan beter word; môre, wanneer hul gebede verhoor word; môre, wanneer die kerk vernuwe, die ekonomie omdraai, die misdaad afneem, die sport verbeter . . . Môre is altyd een dag te laat.
Eendag is selfs nog verder buite my bereik. Eendag is ’n reëndag. Dit lê wie weet waar in die toekoms.
Ek het net vandag tot my beskikking om te leef tot eer van die Heer. Daarom kies ek om Hom vandag lief te hê met alles in my. Vandag kies ek ook om nie liefdeloos te leef nie. Of my tyd met dwase dinge deur te bring nie. Vandag beywer ek my nogmaals om nie moeg te word om goed te doen in Jesus se Naam nie. (2 Tessalonisense 3:13). Vandag is ek van vroeg tot laat aan diens as Jesus se kneg. – Stephan Joubert