Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Veel meer van súlke gelowiges is nou nodig

Die afgelope twee weke het ons in die euforie van ’n Wêreldbeker-rugby-oorwinning gebaai. Goue oomblikke soos hierdie is kosbare gawes in die geskiedenis van ’n jong demokrasie. Maar ons word egter telkens weer teruggeroep na die rou werklikhede.

Die beleidskonferensie van die South African Faith Communities Environment Institute het verlede week in Johannesburg plaasgevind, waar duidelik uitgewys is dat ons krisis veel groter is as die debat oor CO2-vrystellings en klimaatsverandering.

Nadat 11 000 wetenskaplikes 40 jaar se data geëvalueer het, waarsku hulle dat ons op ’n klimaatsnoodtoestand afstuur – dus is daar veel meer wat ons aandag verdien. Die berge plastiek wat oseane en riviere besoedel, die chemikalieë wat water en grond vergiftig, die gifgasse wat die lug besoedel, die mishandeling van diere, en skrikwekkende vernietiging van biodiversiteit kan nie langer geïgnoreer word nie.

Die moderne mens het steeds drie basiese behoeftes: Ons moet êrens bly, ons het vervoer nodig en ons moet eet. Hoe ons hierdie behoeftes bevredig, sal radikaal herbedink moet word.

Tog is daar drie menslike neigings wat ’n stok in die wiel steek: selfsug, hebsug en gemaksug.

Ek het genoeg vertroue in die wetenskap dat ons ’n plan kan maak. Tog is daar drie menslike neigings wat ’n stok in die wiel steek: selfsug, hebsug en gemaksug. Dit voel vir my of pres. Donald Trump met sy onttrekking van Amerika aan die Parys-klimaatooreenkoms nie net sy rug op die ooreenkoms gedraai het nie, maar ook op die wêreld en die planeet.

Die vraag is dus of 8 miljard mense, en veral die rykes, gereed is om ’n nuwe lewenstyl te aanvaar. Hieroor is ek diep onseker.

Ons is nie verhewe bo die ekologiese stelsel nie, maar deel daarvan. As gelowiges glo ons dat ons deur God geskep is uit die aarde, en sal terugkeer na die aarde.

Die ekostelsel het ’n manier om wanbalanse te herstel. Die uitwissing van ’n groot deel van die mensdom is beslis nie meer ’n onmoontlikheid nie. Onthou egter dat jy, van jou geliefdes of nageslag kan deel wees daarvan. (Google gerus “Holocene extinction” of “sixth mass extinction”.)

Die mensdom sukkel verder met twee probleme. Eers ontken ons te maklik en wanneer die spreekwoordelike tsoenami oor ons breek, gee ons te maklik boedel oor.

Die tyd en geleentheid vir die mens om daadwerklik op te tree raak al hoe minder. Dit is hier waar geloofsgemeenskappe ’n groot bydrae kan lewer.

Dit sal moet gebeur deur profetiese en selfs aktivistiese optrede, maar veral ook deur konkrete voorbeelde. Ons sal die weg moet wys na ’n eenvoudiger, groener en soberder lewenstyl.

Ek sukkel soms erg daarmee, maar hoop dat ek in die toekoms al hoe meer as ’n “groen Christen” beskou sal kan word.

  • Dr. Hanekom is direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Hoop  |  Gelowiges  |  Wb-Sege  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.