Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Verloopte siel bring opkikkering
Annemarie van der Walt

Die kaggelvuur se geeloranje weerkaatsing teen die venster was op dié wintersaand ’n uitnodiging. Of dalk eerder ’n verleiding om te vergeet van die stilte wat wag by die huis; so stil ’n mens hoor die tik-tik-tik terwyl die geiser aan die gang kom.

Hulle was nog almal daar: Seun, die blas kroegman, wat sedertdien ’n kroon (die presiese kleur van die res van sy gebit) gekry het in die plek van die verlore oogtand; Valerie, eens van die takeaway en nou Seun se vrou, op wie se aandrang hy tandarts toe is; Johan van die bandeplek het soos altyd met die veerpyltjies in sy hand rondgestaan en gewag op ’n niksvermoedende toeris teen wie hy kon verloor; en Flip en Eddie het om die beurt dooierus geneem op die kant van die potspeltafel totdat net die swart bal oor was.

Ek het Nicolette van Visser Makelaars nie dadelik herken nie: Haar hare was korter, donkerder. “Kyk, dit lyk nes Kate se hare,” het Valerie fluisterend beduie terwyl sy ’n glasie rooi muskadel oor die kroegtoonbank aanskuif. “Die prinses s’n, mos. Dink seker ons is blind, maar ons sién mos hoe sy haar na-aap. Jy moet die skoene sien waarmee sy deesdae hier aankom . . . asof sy oor Trafalgarplein of iewers trippel.”

Toe die eerste note van ‘Sarie Marais’ beginne, kon ek die misnoeë op haar gesig sien.

Nicolette het nie soos gewoonlik op ’n koue aand Allesverloren-port gedrink nie, maar ’n lang glas gin en tonic elke keer presies op dieselfde klam sirkel op die toonbank neergesit. “Ingelse gin,” het Seun gesnuif, “maak nie saak hoe ek probeer om haar van die nuwe boetiek-gin van hier oorkant die berg te laat proe nie.”

Die kroegdeur het oopgegaan, Johan het hoopvol opgekyk en Flip en Eddie het opsy gestaan sodat die man met die kitaar oor sy skouer kon verby stap. Niemand het snaaks gedink nie; ons is gewoond aan verloopte siele.

Valerie het die musiek sagter gedraai toe die man met ’n vraende kopknik sy sit met die kitaar kry. “Green, Green Grass of Home” was die eerste lied, en Nicolette het opgekikker en met haar hakskoene tyd gehou, tik-tik-tik. “Eendag is eendag . . .” het sy gesug. Toe die kitaarspeler later wegtrek met “Lady Greensleeves”, was sy ’n bietjie tranerig.

Ek’t gesien Johan fluister iets in die musiekmaker se oor, dié het geknik en ’n bekfluitjie van iewers opgediep. Johan het Nicolette gevra om te dans, en sy het opgestaan en bokant hom uitgetroon op die hoë hakke. Toe die eerste note van “Sarie Marais” beginne, kon ek die misnoeë op haar gesig sien, maar Johan het sy greep op haar gehou, die veerpyltjies soos ’n bondeltjie tarentaalvere hier agter haar oor.

En het hulle nie gedans nie. Eddie en Flip het Johan om die beurt afgelos, want toe’s daar nie einde aan Nicolette of die kitaarman se reper­toire van die FAK-bundel nie. Haar gladde hare het met die swetery die ou bekende kinkel
teruggekry en toe ek wegglip, sien ek die hoë- hak­skoene lê eenkant, vergete soos die plastiek­krone waarmee meisietjies prinses-prinses speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.