Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Verpak jou lewe sodat inhoud saakmaak

Ons lewens word verpak in ons kultuur en tradisies. ’n Westerse verpakking van die lewe lyk anders as ’n Afrika-verpakking, maar die een is nie beter as die ander nie, skryf Dawid Kuyler.

Dawid Kuyler

Die verpakking van ’n item trek dadelik ’n mens se aandag.

Dink maar aan Kerstyd en die mooi paper waarin jou geskenk toegedraai word. Sit jy ’n duur geskenk in ’n gewone kardoessak, sal sommige mense dalk twee keer dink om dit te aanvaar.

Hierdie verhouding tussen verpakking en inhoud is nogal boeiend vir my as iemand wat in godsdiens belang stel.

Na aanleiding van die evangelie wat na Jesus as die brood van die lewe verwys, gebruik ek die metafoor met studente dat die Evangelie van Jesus Christus is soos ’n brood wat in ’n plastieksakkie of papiersak verpak word. Die brood is die belangrikste deel, maar soms gee ons meer aandag aan die verpakking as aan die brood. Ons kan selfs maak asof die verpakking die eintlike saak is waaraan ons moet aandag gee.

Die brood wat lewe gee en mense se honger moet stil, word deur verskillende kerklike tradisies verskillend verpak en aangebied.

In die Rooms Katolieke Kerk kom dit met ’n pouslike verpakking met die nodige aanwysings van sewe sakramente wat jou van geboorte tot die dood begelei. Vir elke stadium in die lewe is daar ’n bepaalde manier waarop die brood bedien word.

In die Gereformeerde tradisie het ons hard probeer om met die verpakking weg te doen en die brood net so aan mense te gee. Met die solas (sola scriptura, sola gratia, sola fidei) het ons ook weer die brood in skywe gaan sny vir beter vertering. Hierdie brood is veronderstel om sonder botter en konfyt geniet te word. Net so droog. Dalk miskien tog met ’n smeerseltjie botter.

In die Pinkster- of charismatiese kerke word die brood aangebied deur die verpakking van die Heilige Gees en moet jy die gawes van die Gees hê en beoefen as teken dat jy wel die brood ontvang het. Anders staan jy maar net voor die broodrak en bekyk die brood.

In die voorspoedteologie word die brood in geld en luukshede toegedraai. As jy nie botter en konfyt (of sal dit koue vleis wees?) op die brood het nie, dan is die brood nie reg nie. Dan moet jy meer betaal en sal jy ’n oorvloed brood/toebroodjies kry wat sommer ook vir jou goeie gesondheid en voorspoed sal waarborg.

Vir elke smaak gebak en gebrou en verpak

Só probeer elke tradisie om die brood volgens hul verpakking beskikbaar te stel. In al die tradisies raak mense ook meer bewus van die eters se smake en probeer daarby aanpas.

Sommige is glutenweerstandig en hulle verwag brood wat glutenvry is. Sommige verkies witbrood en ander bruinbrood.

Sommige hou van gesondheidsbrood wat ook nog ekovriendelik is. Hoe is die koring verbou? Het die werkers ’n menswaardige loon gekry?

Daar word baie vrae gevra.

Vir elke smaak word daar gebak en gebrou en verpak.

Adolf Hitler met sy Nazisme wou mense wysmaak dat sekere rasse soos die Jode nie die brood werd is nie. Hy het ook alle gestremdes en psigiatriese pasiënte nie waardig geag om brood te ontvang nie.

So gebeur dit dat die brood se resep binne bepaalde kontekste en ideologieë verander word en mense geïndoktrineer word om net ’n bepaalde brood of by ’n bepaalde bakkery te koop en te eet.

Adolf Hitler met sy Nazisme wou mense wysmaak dat sekere rasse soos die Jode nie die brood werd is nie. Hy het ook alle gestremdes en psigiatriese pasiënte nie waardig geag om brood te ontvang nie.

In Kommunistiese Rusland is brood, broodbakkers en broodeters verban en uitgewis. Min het die kommuniste geweet dat as jy koring begrawe kom dit op en dra opnuut koring vir brood.

In Suid-Afrika het die kerk en staat saamgespan om verskillende soorte brood vir verskillende rasse te bak en uit te deel. Wee jou as jy verbode brood geëet het of saam met die verkeerde groep brood geëet het.

Binne ons neo-kapitalistiese wêreld glo ons dat slegs hulle wat die kapitalistiese stelsel aanhang en ondersteun, brood, en sommer baie daarvan, op die tafel mag hê. Die ander kan van die krummels en korsies kry.

Kan verpakking en inhoud geskei word?

Hier in Afrika is gelowiges en kerke nog besig om te worstel met die verpakking en die brood. Reeds van vroeg af het Afrikane hul eie verpakking en broodresep ontwikkel wat by hul smaak pas. Hulle het nie kans gesien vir die Europese brood wat met ’n wit monopolie aan hul opgedwing is nie.

Ons verwys soms na hulle as Afrika-geïnisieerde kerke. Hulle gebruik ook die Groot Resepteboek, maar pas die resep aan na hul konteks.

Hier by Justo Mwale-universiteit in Lusaka waar ek bevoorreg is om klas te gee, is die saak op die tafel.

Die vraag bly: “Wanneer gaan dit oor die inhoud en wanneer oor die verpakking? Kan die twee geskei word? Moet dit geskei word? Hoe vergelyk ons brood en verpakking met die opposisie? Moet ons die ander bakkerye probeer toemaak? Moet ons ons prys verlaag? Moet ons beter advertensies hê? Moet ons ’n monopolie hê?

Ons lewens word verpak in ons kultuur en tradisies. ’n Westerse verpakking van die lewe lyk anders as ’n Afrika-verpakking. Die een is nie beter as die ander nie. Die inhoud is wat saak maak.

Dit is vrae waarmee ons nog lank gaan besig wees.

Ons staan voor die uitdaging om krities te kyk na wat ons as brood aanbied en hoe ons dit verpak.

Hierdie metafoor van verpakking en inhoud hoef en mag nie net alleen gebruik word rondom godsdiens nie, maar kan ook met betrekking tot die lewe gebruik word.

Ons lewens word verpak in ons kultuur en tradisies. ’n Westerse verpakking van die lewe lyk anders as ’n Afrika-verpakking.

Die een is nie beter as die ander nie. Die inhoud is wat saak maak.

Dink ons genoeg na oor wat die lewe nou eintlik is of behoort te wees, of fokus ons op ons eie kulturele verpakking?

Die geskiedenis leer dat verpakkings kom en gaan. Ons plastiekverpakkings is besig om die ekologie ontsaglike skade aan te doen. Net so kan ’n samelewing se verpakking van die lewe die lewe benadeel en uitwis. Materialisme is ’n gevaarlike verpakkingsmateriaal vir die lewe.

Die Brood van die lewe kan ons help om nuut te kyk na lewe en hoe ons dit verpak.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika en voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Dawid Kuyler  |  Kapitalisme  |  Kerke  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.