Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Verruklik as dit mens sonder woorde laat . . .
Annemarie van der Walt.

Daar is eenvoudig min dinge so lekker as om as’t ware in die arms van ’n berg te wees. Beter nog wanneer jy met jou rug teen ’n skurwe boomstam of rots sit, en jou oë opslaan na die kranse.

Die heel beste is wanneer dit die Drakensberg is. Nie die verre uitlopers doer noord waarop my tuisdorpie teen wind en weer klou nie, nie die mak voetheuwels op die vlaktes duskant Weenen of waar nie, maar die propperse Berg met sy pieke en verborge klowe en diep ravyne.

Ek verstaan weer waarom mense obsessief raak oor die klim en klouter in, oor en op die Drakensberg. Het dit self gesien aan die jongste toe sy weke gelede impulsief saam met ’n groep ’n staptoer hier gedoen het. Dit was haar eerste keer (tot my ouerlike skande), en met haar tuiskoms was haar vertellings soos watervalle in vloed, en tog was sy soms sprakeloos wanneer sy die omvang van die uitsigte wou verduidelik.

Dit is goed wanneer iéts op hierdie aarde ’n mens sonder woorde kan laat. Dit is ’n eerste prys wanneer dit die natuur is, veral omdat ’n mens weens onder meer televisie en ander inligtingsbronne so half dink jy was reeds daar gewees.

Sedert die aankoms in die skadu van die Berg voel ek afwisselend vreugde, bewondering, hartstog, angs.

Die Nederlandse sanger Herman van Veen sing juis in sy lied oor die koms van televisie: “Iedere woning is opeens een glazen kist / Waar men het leven en de liefde niet meer mist / Waar men geen plaat beluistert en geen boek meer leest / Waar slechts gemompeld wordt: Ik ben al geweest /... / Daar is geen vreugde meer / En geen bewondering / Daar is geen hartstocht meer / En zelfs niet eens meer angst...”

Sedert die aankoms in die skadu van die Berg voel ek afwisselend vreugde, bewondering, hartstog, angs.

Alles anders behalwe die gang van die son en wolke oor die kruine en dale lyk maar nietig; die gekla en gekerm en bekommernisse verdwyn iewers heen – en ’n mens bodder nie eens om te loop soek waarheen nie.

Skielik is die grootste uitdaging om die pieke se volgorde uit ’n mens se kop te leer en opnuut te kýk na die subtiele verskille wat skynbaar vir die plaaslike mense so maklik is soos die ABC van bergtaal; ’n taal met tongknopers soos Langalibalele-rif wat oor hul lippe gly so moeiteloos soos ’n blink vis deur rivierklippe. Dit sing.

Daar is die teorie dat berge eerder as riviere landsgrense behoort te vorm: Berge is skanse, riviere bring mense natuurlikerwys bymekaar. Maar ek weet nie. Hierdie berg bring ’n klomp mense bymekaar wat klaarblyklik geen moeite ontsien om hier te wees nie. En dit sê iets.

Ek was lanklaas in die propperse Drakensberg. Heeltemal te lank gelede, soos die dogters kan getuig. En vir te lank het ek dalk maar gedink die diepte van my dankbaarheid vir die ontsaglikheid van Moeder Natuur is reeds deurgrond.

Maar nou weet ek weer met ’n heldere wete wat die woord “verruklik” werklik beteken.

En dít maak my werklik dankbaar.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Menings  |  Natuur  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.