Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Verwagtinge in die tyd van Covid

Voordat Covid deel van die lewe geword het, het ons nog voornemens gehad, veral aan die begin van ’n jaar. Nou het ons net verwagtinge, skryf Dawid Kuyler.

Hoe lank gaan ons nog maskers dra? Foto: Reuters

Ons verwag die ergste, of ons verwag die ergste sal ons nie nou tref nie. Ons almal leef met hierdie die verwagtinge.

Daar is twee oorheersende verwagtinge waarmee ek saamleef.

Ek verwag dat Covid-19 dalk op die een of ander manier na my kant toe kan kom. Te veel vriende en kennisse wat verantwoordelik leef, het die siekte opgedoen – en sommige het dit nie gemaak nie.

Dié wat dit onder lede het en dié wat daardeur is, het baie swaar gekry.

Die verwagting en vrees om positief vir Covid-19 te toets loop soos ’n skaduwee saam met ons.

Covid-19 spaar niemand nie. As jy nie sterf nie, laat hy jou die dood in die oë kyk. Dié wat sterf, sterf alleen sonder hul nabye familie.

Die verwagting en vrees om positief vir Covid-19 te toets loop soos ’n skaduwee saam met ons. Elke hoesie, elke keelseer, elke pyn en keer wat jy kort van asem is, vrees jy dat die verwagting waar geword het. Hierdie sombere verwagting oorskadu al die ander verwagtinge wat ons het.

Dit is soos om rugby te speel. Iemand gaan jou duik, die vraag is net: wie en wanneer en hoeveel keer en hoe hard?

Tog leef ek ook met die verwagting dat as ek die reëls nakom deur my afstand te hou, hande te ontsmet, masker te dra en vitamiene te drink, dan kan ek dalk soos ’n Naas Botha met ’n skoon wit broekie van die veld af kom.

Dalk kan ek Covid-19 probeer systap tot ek die inenting ontvang – eendag. Ek is mos in die regte ouderdomsgroep wat nie laaste in die ry staan nie.

Wat van entstowwe?

’n Bejaarde man in Frankryk word teen die koronavirus ingeënt. Foto: Reuters

Ons verwagtinge oor ’n entstof is ook maar gedemp. Soveel samesweringsteorieë oor die entstof doen die ronde dat sommige nou al botweg weier om ingeënt te word.

Hul verwagtinge is dat die entstof ons DNS gaan verander en die merk van die dier vir jou gaan gee.

Die verwagtinge van diegene wat hoop op ’n entstof, is ook laag omdat die regering so getalm het om dit te kry, en mense wonder of die entstof uit China of Indië op standaard is, of dit reg vervoer is en reg geberg word.

Ons verwag om die een of ander tyd gedurende die jaar inentings te ontvang en teen die gevreesde Covid-19 beskerm te word.

Die regering is nie deursigtig nie en ons weet nie of dit die volle waarheid is as pres. Cyril Ramaphosa sê die entstowwe is bestel nie.

Ons weet ook nie hoe die staat dink hy die inentings sonder private mediese fondse se hulp gaan doen nie.

Maar ons verwag om die een of ander tyd gedurende die jaar inentings te ontvang en teen die gevreesde Covid-19 beskerm te word.

Ons verwag as die mediese personeel in die voorste linie van die geveg teen Covid-19 inentings gekry het, dan is daar hoop. Ons verwagtinge is dat ons nie te lank sal wag nie.

En die politiek?

Wat kan ons van regter Raymond Zondo se verslag verwag? Foto: Gallo Images

Menige Suid-Afrikaners het ook nie veel verwagtinge oor die politiek nie. Die ANC is soos ’n alkoholis wat homself wil rehabiliteer. Hy maak mooi beloftes in die openbaar, maar drink skelm en meestal openlik.

Daar is geen sprake dat die ANC homself vir rehabilitasie sal laat opneem nie, behalwe as die rehabilitasiesentrum deur tenders aan sy eie kaders gegee is en hulle jou sommer gerehabiliteer verklaar nie. Die integriteitskommissie waar diegene wat dronk aan korrupsie verskyn, is soos drinkebroers.

Die ander politieke partye vaar nie veel beter nie en bied ook nie oral ’n alternatief nie.

Die Covid-situasie het meegebring dat persone soos die ministers van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede en polisie outokraties optree en lyk asof hulle dit geniet. Die gebeure die afgelope tyd waar Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, die polisie toegelaat het om mense met ’n waterkanon te spuit wat vir hul karige Sassa-toelaes gewag het, laat ’n mens vra: Is daar dan geen ander manier om mense se geld aan hulle te gee sonder dat hulle in rye moet staan nie?

Die werklikheid van die politiek maak dat die politieke verwagtinge van die meeste mense soos ek ’n sterk siniese streep het.

Ons verwag dit gaan nog lank aanhou, hoe lank weet ons nie. In 2020 het ons agtergekom jy beplan nie te ver vooruit nie.

Wat verwag ons van die nasionale vervolgingsgesag?

In 2020 is ’n paar groot sake op die hofrol geplaas, maar wat gaan op die Zondo-kommissie se verslag volg? Kan ons verwag dat oranje oorpakke vanjaar uitgedeel sal word?

Wat is ons verwagtinge oor die ekonomie?

Die afgelope weke se styging op die aandelebeurs bring mee dat die verwagtinge positief kan wees, maar gegewe die stand van die Suid-Afrikaanse ekonomie is ons verwagtinge ook maar laag. Te veel mense sit sonder werk. Te veel ondernemings moes sluit. Te veel Covid-19-geld is gesteel en wanbestee. As ons net die geld kan terugkry wat gesteel is, kan die prentjie dalk meer rooskleurig wees.

Wat is ons verwagtinge van die nuwe normaal?

Ons verwag dit gaan nog lank aanhou, hoe lank weet ons nie. In 2020 het ons agtergekom jy beplan nie te ver vooruit nie.

Wat verwag ons van die kerk?

Dawid Kuyler

In hierdie situasie van negatiewe verwagtinge leef ek en jy ook as gelowiges. Watter verwagtinge het ons van die kerk en van God in die tyd?

In 2020 moes die kerk nuwe maniere vind om kerk te wees. Teen sommige se verwagtinge in en met wisselende sukses het kerke en gemeentes oorleef en ’n verskil in die samelewing gemaak.

Baie is gedoen om menslike nood te verlig en ek haal my hoed af vir hulle. Sommige kerke, veral swart kerke in die townships wat afhanklik van finansiële bydraes by die eredienste is, kry swaar en daarom kan ’n mens die konfrontasie met die polisie in Sebokeng verstaan.

Wat kan ek van God verwag?

Dit is ’n diep vraag waarmee ons almal worstel.

Moet ek verwagtinge koester dat God Covid-19 sommer sal laat verdwyn?

Nie een van die pandemies in die geskiedenis het soos mis voor die son verdwyn nie.

Kan ek verwag dat God ons deur Covid-19 heen sal dra? Kan ek verwag dat God ons dalk wil help dat ons nuut na onsself, ander en die wêreld kyk?

Om in God te glo is ’n belydenis. Jy glo dat die God wat in en deur Christus sy liefde vir ons geopenbaar het, dieselfde sal bly.

Die getuienisse van mense wat Covid-19 oorleef het, vertel van ’n God wat saam met jou deur die dal van doodskaduwee loop. Dit vertel van mediese personeel wat instrumente in God se hande is om jou weer hoop en nuwe verwagtinge te gee.

Dit vertel van mediese personeel wat die tweede en die derde myl loop.

My verwagtinge is om meer van God in ander se lewens en hul omgee te sien en te beleef. My verwagtinge is dat God my ook sal gebruik om ander by te staan.

Ons sou verlede Maandag met klasse begin het, maar ook hier (in Lusaka) is die klasse tot 1 Februarie uitgestel.

Ek skryf hierdie rubriek terwyl ek in Lusaka sit, waar ek vir die volgende ses maande aan die Justo Mwale-Universiteit in teologie gaan klasgee.

Ons sou verlede Maandag met klasse begin het, maar ook hier is die klasse tot 1 Februarie uitgestel. Saam moes ons begin om ons lesings aanlyn te verpak en solank so te begin totdat ons weer fisiek kan klasgee.

Saam met my kollegas en studente gaan ons oor ons verwagtinge oor die huidige pandemie en oor God praat. My verwagtinge is dat dit moeilike maar vrugbare gesprekke sal oplewer.

Dalk het ek nie aan al jou verwagtinge voldoen met dié rubriek nie, maar ek verwag dat jy ook oor die sake sal nadink.

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.