Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Verweefdheid van die mens, tuin en sterstof

Toe ek Sondagoggend wakker word, begroet my vrou my met: “Ek wens jou ’n aangename Tuindag toe”. En die ganse dag dink ek net “Tuin”, want die voorskrif vir Internasionale Tuindag is geen spit, plant, snoei of natmaak nie. Net suiwer sintuiglike genieting.

Dit doen ons toe in ons eiesoortige “English country garden”, of wat Koos Kombuis “ ’n regte boeretuintjie” noem.

In ons aftreeplekkie het ons lappie grond ’n klein Namakwaland geword. Ook hier, dink ek, het bietjies-bietjies uit “ ’n sakkie van die Heer se beste saad per ongeluk gelek”.

Waarom tuinmaak? Is dit ’n bietjie mistiek? Soos A.G. Visser dit beduie in “Rosa Rosarum”: “Kom na my tuin waar die donkerrooi rose /Duist’re geheime vertrou aan die nag; . . . / Kom in die soel someraande en luister /– Wanneer die nagwind hul drome verklaar – / Na die veelvuldige blommegefluister . . .”

Dalk is dít wat die Duitse digter Friedrich Hölderlin bedoel het: “Die welluidende gesuis / van die bome in die bos was my skool / en van die liefde het ek / tussen die blomme geleer.” Meer prakties word gesê tuine is nodig vir jou estetiese sin. Daarsonder verlep jy. Boonop is tuine ’n “groen wins” vir die suurstofkringloop. Ander reken ’n tuin is ’n bate vir jou huis se waarde. Landskapargitekte en beroepstuiniers word dan gehuur vir die spoggerigste tuin in die buurt.

Daar is tuinwerkers, soos ek. Grawe gate, maak akkers, plant en maak nat.

Tuinmaak kom in minstens twee gedaantes. Enersyds diegene wat van nuuts af met ’n vaste plan en duidelike visie ’n tuin in ’n gegewe landskap skep. Soos om ’n Japanse tuin in ’n Suid-Afrikaanse voorstad aan te lê, of om net plante en blomme in potte te hê as jou tyd, plek en water beperk is.

Andersyds diegene wat eers met die landskap waar hulle woon, saamleef en algaande die natuurlike eienskappe aanvul of vervolmaak om as’t ware ’n ontvouende ekologiese ruimte waarin mens en natuur ineengerank is, voort te bring. Sommige sê sulke tuine is deurmekaar, sonder presisie en orde.

Daar is ook verskillende tuinmakers. Soos ek dit op eie werf beleef. Daar is tuinwerkers, soos ek. Grawe gate, maak akkers, plant en maak nat. Sit ook graag laatmiddae in die tuin en drink ’n drankie saam met my vrou. En bewonder die tuin. Dan die ware tuiniers, soos my vrou.

Hulle weet tot in die murg tuin en mens is diep verweef met die ontplooiende heelal en die sterstof waaruit alles kom. Ek hou dié vrou fyn dop. Hoe raak haar hande vat, hoe sag sy blomme aanraak en soms prewel as sy snoei en knip, of met argelose handgebaar geoeste saadjies oral strooi. Ek reken sy bid ook nog. Vir alles.

Daarom wil ek glo tuinmaak berei jou voor vir eenwording met die aarde – vir die terugkeer tot stof wanneer jou leefbeurt verby is. Want, soos die Mexikaanse digter Octavio Paz sê, ’n tuin is nie ’n plek nie, net ’n deurgang. Waarheen weet ons nie, maar om deur die tuin te gaan, is genoeg. Om dit te doen is om vir altyd te bly.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Aarde  |  Plante  |  Tuine  |  Tuinmaak  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.