
Dr. Isak Burger Foto: Theana Breugem
Terwyl daar by sommige maatskaplike, politieke en finansiële ontleders ’n sprankie hoop vir 2020 is, is die meer algemene verwagtinge vir die jaar redelik gedemp – indien nie oorweldigend negatief nie. Dit geld veral die gewone mense op straat. Die redes daarvoor lê voor die hand.
Te midde hiervan, en met die nuwe jaar wat voor ons lê, het die belangrikheid van geloof in God – veral in tye soos hierdie, en vir my as Christen – opnuut en duidelik in my hart kom lê.
Dit was te midde van sy eie grootste be- noudheid – die aand van sy inhegtenisneming en onregverdige verhoor – dat Jesus aan sy dissipels in Joh. 14:1 gesê het: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.”
Geloof in God het nog altyd sterker na vore gekom in tye wanneer die mens op sy broosste en weerloosste is.
Baie mense ignoreer of ontken God totdat hulle sélf in ’n situasie kom waar daar geen hulp buite God is nie. Ek het dit so dikwels al teëgekom.
Dit was oor die jare opmerklik dat dit juis in die lande was (en steeds is) waar omstandighede die moeilikste is en daar dikwels vervolging is, dat die kerk die suiwerste is en die mees dinamiese groei toon.
Teëspoed en swaarkry laat meer mense na God soek as voorspoed en gemak.
Teëspoed en swaarkry laat meer mense na God soek as voorspoed en gemak.
In ons eie land is ek die afgelope jaar telkens diep geraak deur die verhale van mense wat te midde van krisisse en smart hulle geloof in God bely het.
Hier dink ek onder andere aan ons boere in die gebiede wat die ergste onder die droogte deurloop.
Baie mense het die afgelope vakansie weer die geleentheid gehad om tyd by die see deur te bring. Ek het dikwels in die verlede gekyk hoe die branders met wisselende geweld teen die rotse slaan en my dan verwonder dat die skulpies en mossels aan die rotse die een gevaarlike brander ná die ander oorleef. Die swak, eenvoudige skulpdiertjies se behoud lê natuurlik nie in hulle eie groot krag nie, maar in die feit dat hulle aan ’n rots vaskleef wat die golwe reeds eeue lank weerstaan.
Dít is presies die grondbetekenis van die woord “geloof” in die Bybel – om te vertrou, om staat te maak op die betroubaarheid, vastigheid en onfeilbaarheid van Iets of Iemand.
Geloof beteken om aan hierdie Rots geanker te wees; die Rots wat die toets van die tyd deurstaan het.
Dit is steeds elkeen se keuse en reg om in God as Verlosser te glo of nie. Vir dié wat gekies het om te glo, kan 2020 met al sy uitdagings en probleme maar kom.
Ons het die geloofsversekering dat niks – selfs nie die dood nie – ons van sy liefde sal kan skei nie!