Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Virus laat ons ook met dieper vrae worstel

Verlede Vrydag het ons in ’n ander land wakker geword. Dit is ’n ongekende tyd, een waarin antwoorde skaars is.

Mag ek egter vir ’n oomblik my hart oopmaak: Ek dink dit gaan tyd neem – veel meer tyd as waarop ons hoop – maar ons gaan hierdeur kom.

Ons gaan armer, maar gelukkiger wees. Broser en afhankliker, maar nederiger en veel wyser. Ons gaan meer omgee vir mekaar, en die aarde gaan dankbaar sug.

Ons het ’n kans gekry om nuut en dieper te dink, te bid en te glo. Die stop-knoppie is ferm gedruk. Mag ons die oomblik reg gebruik.

Intussen is ons vasgevang in teenstrydige ervarings en vrae.

Daar is die bykans doodse stilte in die woonbuurt waar ek woon, terwyl ek wonder hoe dit gaan in ons arm, informele nedersettings, waar te veel mense ingehok is in klein ruimtes. Die stilte en rus voel soos ’n vakansie, maar my denke bly maal, geïnfiltreer en oorspoel met ontstellende nuusberigte en sosiale media.

Waar lê die grootste gevaar? By die virus of wankelende ekonomie? Hoe gaan dinge uitspeel?

Waar lê die grootste gevaar? By die virus of wankelende ekonomie? Hoe gaan dinge uitspeel?

Alles voel soos ’n groot oorlog, sonder bomme en geweerskote. Ons baklei maklik, maar skielik besef ons hoe nodig ons mense om ons het. Ons is verder van mekaar af, maar voel nader aan mekaar.

Bure word skielik iets baie kosbaars. Ek wou dikwels al net wegbreek en die stilte gaan opsoek in die Karoo, weg van alles en almal. Nou is dit anders.

Daar is egter ook dieper vrae waarmee ons nou worstel. Is daar regtig ’n lewe ná die dood? Skielik is dit nie meer net nog ’n dogmatiese gesprek nie.

Het die mens die ding oor onsself gebring? Is die natuur besig om sy eie gang te gaan en is ons besig om ’n massiewe ekologiese korreksie te sien? Is God besig om met ons te praat?

Ou vrae waaroor die kerk reeds eeue tevore gedebatteer het, doem ook weer op.

Hoe direk betrokke is God by ons lewens? Laat Hy soms toe dat dinge gebeur? Gryp Hy soms in en hoe direk?

Hoe bid ek en wat vra ek in ’n tyd soos dié? Of is dit ’n tyd vir bloot stil word en luister? Dalk wil God vir ons iets sê.

Die ou kerkvaders het ’n gebed gebid wat my nog altyd inspireer het. Hulle het die woorde, “Jesus Christus, Seun van God, wees ons genadig”, oor en oor gebid. Eers 300 keer per dag en later tot 3 000 keer per dag. Ek glo dit is ’n tyd om dié gebed weer te bid.

’n Vriend herinner my in hierdie dae weer aan Psalm 94:18: “Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het U vertroosting my tot rus gebring.”

Mag ons vrede groter wees as ons vrees. Mag ons in Sy liefde rus.

  • Dr. Hanekom is die direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis.
Meer oor:  Braam Hanekom  |  Oorlog  |  Covid  |  Korona  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.