Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Voëlklip: Hoe kan mense sulke stories versprei?

In plaas daarvan om te rou oor sy gesin, moes ’n pa vure doodslaan wat deur allerhande gerugte veroorsaak is. Is ons nie besig om in ons wêreld vol geraas perspektief te verloor nie? vra Louise Karsten.

Dit is ’n Maandagoggend in November 2019 om 06:30.

Ek maak reg vir die dag wat voorlê. My jongste is egter traag om aan te trek. Ek hou die horlosie dop en sy rol speels in haar nagklere op my bed rond. Sy strek haar armpies uitgelate bo haar kop en ’n haasbekkie prewel woorde wat slegs sesjariges verstaan.

“Hei! Gaan maak reg, ons gaan laat wees.”

Sy hou vir ’n oomblik op met rol, vee verdwaas die hare uit haar gesig en vra: “Is dit naweek?”

“Nee. Dis Maandag. Dis skool vir jou en werk vir my en ons gaan laat wees!”

Sy draai op haar maag en rus haar ken op haar hande terwyl sy my met groot oë aankyk.

“Vir Kersfees soek ek ’n Barbie, Rubble van Paw Patrol en daardie lekkergoedhouer met klomp marshmallows in. ”

Ek hou vir ’n oomblik op met wat ek besig was om te doen. En toe tref dit my – dáár, in my slaapkamer met my sesjarige wat sorgvry verder op die bed rondrol.

Nóg ’n jaar is amper verby. Nóg ’n raserige jaar.

Daar het baie gebeur in 2019 te midde van die alewige ambisie en behoefte om geld te maak, suksesvol te wees, harder te werk, beter te wees . . .

Maar het ons nie met dié gejaag alle perspektief verloor nie?

Onlangs was ek op ’n Karooplaas waar daar geen selfoonsein was nie. Toe ek ná drie nagte my selfoon aanskakel, kry ek 219 WhatsApp-boodskappe.

Weens die aard van my beroep is dit meestal werkgroepe.

Etienne en Heidi Scheepers met Cuzette. Foto: Ettienne Scheepers/Facebook

Ek loer vlugtig na die honderde boodskappe. Sommiges vang my oog: Nog ’n aanval op ’n egpaar, 18 is dood in motorbotsings in die Wes-Kaap, iemand is in sy voertuig doodgeskiet en die soektog na die sesjarige Cuzette Scheepers van George is afgelas.

Afgelas?

Cuzette was saam met haar ma, Heidi, en tweejarige boetie, Hugo, toe hulle op 22 Oktober laas lewend gesien is.

Hul voertuig se wrak is ná ’n soektog uit die see by Voëlklip, Heroldsbaai, gehaal. Dit het 150 meter by ’n afgrond afgestort.

Hugo was nog in sy karstoeltjie vasgegespe toe sy liggaam gevind is. ’n Verbyganger het Heidi se liggaam etlike dae later in die see sien dryf. Cuzette is nie gevind nie.

Daardie nag kom my sesjarige soos menige ander aand by my kamer in. “Mamma, ek het ’n nagmerrie gehad, kan ek by jou slaap?”

Sy klim oudergewoonte onder die duvet in met Teddy, haar groot beer, en lê knus teen my.

Ek hou haar vas en dink aan Cuzette.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd as joernalis voel ek emosioneel. Ons dek soveel stories, praat met so baie mense en sien soveel seer dat ek al die kuns bemeester het om ’n muur te bou tussen dít wat in my werk gebeur en dit wat met mý gebeur.

Maar hoekom verleer ons om empatie te behou? Hoekom is dit moeilik om te huil oor iemand anders se seer?

Ná die ontdekking van Heidi en Hugo se liggame het mense op sosiale media verskeie ysingwekkende skinderstories begin versprei. In plaas daarvan om te rou oor sy gesin, moes ’n pa vure doodslaan wat deur allerhande gerugte veroorsaak is.

Louise Karsten

Dié skinderstories op sosiale media het tot in so ’n mate handuit geruk dat die Suid-Kaap se polisiewoordvoerder die media versoek het om die publiek te vra dat opgehou moet word met die verspreiding daarvan.

Hoe kan mense onmiddellik ná ’n tragedie sulke stories versprei?

Dit voel vir my of mense net al meer raas: In kerke, skole en die politiek, op sosiale media, by ons huise en met mekaar.

’n Kollega vertel hoe sy en haar seun nou die aand by Gouritsmond op stoele in hul tuin sit.

“Ons kyk net vir ’n leë pad,” merk hy teenoor haar op.

“Ja, inderdaad. Maar ten minste is daar nie karre op die pad nie. Ten minste is die pad stil.”

* Louise Karsten is ’n joernalis wat saam met haar twee dogters in die Tuinroete-gebied bly. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.