Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Voëltjies, arende en kleur wat verrinneweer
Wilhelm Jordaan

Mense onthou gewoonlik hul eerste werk, maar onthou selde hul eerste dae by ’n nuwe werkplek – die gevoel van verlorenheid terwyl almal anders om jou lyk of hulle presies weet wat hulle doen. Jy is ’n beginner, ’n groentjie én stadig soos ’n slak.

So onthou ek my eerste klompie dae toe ek in 1961 as ’n leerlingjoernalis by Volksblad in Bloemfontein vakansiewerk gedoen het. My punte vir opstelle op skool het beduie ek kán skryf en ek was slaggereed om, by wyse van spreke, te wys die pen is magtiger as die swaard.

Die destydse nuusredakteur, G.P.D. Ter­blanche – of oom Gert, soos hy respekvol deur die jongeres genoem is – asook die redakteur, oom Bart Zaaiman, en oom Manie Muller, ’n gesoute vertaler, het my gou laat verstaan opstel skryf is nou nie juis in ’n koerant se trant nie.

Jy skryf eers onderskriffies by “sosiale” foto’s, klein beriggies oor dit en dat, miskien later groter nuusstories, en heelwat later kommentaar.

Hy stuur my na die sportkantoor waar hulle “vandag” hulp nodig het. Dit laat my goed voel. Jan Bouwer gee my ’n berig wat uit Engels vertaal moet word. Ek val weg met pen en papier. Jan kom kyk hoe ek vorder, frommel my skryfwerk op en sê: “Nee hier tík ons berigte. Hier’s papier, daar’s ’n tikmasjien.”

Ek begin weer. Soek letters op die tikker soos ’n haan wat mieliepitte pik.

Ek begin weer. Soek letters op die tikker soos ’n haan wat mieliepitte pik. Dis ’n berig oor ’n gholfkompetisie. Rugby, krieket en atletiek ken ek, maar met die gholfwoorde slaan ek die bal mis. Wat op aarde is “birdies”, “eagles”, “par”, “fourball”, “better ball” en “hole in one”?

Eers teen middagete het ek iets wat ’n berig genoem kan word. Jan gee dit een kyk en “pen” my berig – op ’n skerp spyker gemonteer op ’n houtblokkie waar ou of mindere nuus gehuisves word. En voeg by: “Jy moet vinniger werk. Die blad is lankal af.” Waar “af” beteken klaar geset en reg vir druk. Toe voel ek nie meer so goed nie.

Die volgende dag is ek weer “nodig” in die vertaalkantoor van die algemene redaksie. Ek kry ’n Engelse berig en drie keer verskyn ’n woord (“colour bar”) daarin waarvan ek nog nooit gehoor het nie. Kleur ken ek en kroeg ken ek, maar my verbeeldingryke samevoeging “kroeg vir gekleurdes” werk nie so mooi in die storie nie. Oplaas vra ek vir oom Manie. Sê hy: “Kleurskeidslyn, boetman. In watter land woon jy? Dis wat maak dat ons hier is en hulle daar.”

So het ek algaande meer bewus geword van apartheidswoorde, van apartheidstaal, en hoe dit “ons” en “hulle” lewens georganiseer én geskaad het. En hoeveel nuwe woorde gemaak is, steeds gemaak word, om ’n gesamentlike, uitgebreide nuwe “ons” te bewerkstellig . . .

Vir my was die eenvoudige les van dom wees en dom voel in die eerste dae by ’n nuwe werk dat dit ’n lewensplig is om te verstaan hoe die wêreld werk. Sodat jy weet van goed soos voëltjies en arende én hoe beheptheid met kleur ons verrinneweer.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Werkplek  |  Joernalis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.