Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Voggies kan jou in die sop laat beland

Moenie dink dit is net die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat steier van een krisis na die ander nie, skryf MC Botha.

MC Botha

Lugrederye om die wêreld heen – so ver soos hul vliegtuie vlieg, kan jy sê – het hul eiesoortige probleme. Op Heathrow is ’n Japannese vlieënier in ’n bus vervoer na sy Boeing waar hy doodluiters in die kajuit wou inklim en teen die bestemde tyd laat waai.

Die busbestuurder het egter letterlik snuf in die neus gekry: dié Jap in uniform stink mos na drank.

Hopelik was die medevlieënier minder geswael, anders het nog ’n vliegtuig kort ná opstyging in die see beland.

Nie dat vlieëniers seker noodwendig so nugter hoef te wees nie, want is vliegtuie deesdae nie feitlik uitsluitlik op “automatic pilot” gestel nie? Dit wil sê rekenaars is in beheer van alles, en dié het tot dusver nog nie na alkohol gegryp vir koerasie nie.

Die Japannese dronkie is gearresteer en bloedtoetse het gewys dat hy bykans tien keer die toelaatbare hoeveelheid alkohol in sy bloed het. Sy eie lugdiens se vooraftoetse het egter gewys hy’s heel kapabel om te vlieg.

Hoe dít werk, weet nugter alleen.

Skynbaar het hy hom wel gehou by die verpligting om geen alkohol agt uur voor die vlug te gebruik nie. Wat net vóór dié tyd gebeur het, het helaas teen hom getel: twee bottels wyn en ses biere.

Plaas dat hy hom maar dik gevreet het aan soesji ná die vergryp, dan sou hy minstens nie na ’n suiplap geruik het nie, maar na iets ergers.

Wie peul saam met die bagasie uit?

Nader aan sy geboorteland het ’n ander Japannese vlieënier vaal om die kiewe by die kajuit opgedaag toe hy na die een of ander eiland in die Stille Oseaan moes vertrek. Op ’n vraag wat makeer, antwoord hy dat hy vreeslik opgegooi het vanweë ’n babelaas. En daar verpas hy by wyse van spreke sy eie bus.

Intussen het die drankduiwel aan die ander kant van die aarde ook nie geslaap nie. Anders as by vlieëniers word werkers wat help om passasiers se bagasie te laai, duidelik nie vir dronkenskap getoets nie, want dié werker in New York was só beskonke dat hy tussen al die tasse wat hy in die bagasieruim van die vliegtuig help inlaai het, geval en bly lê het. Uitgepass.

Groot was almal se verbasing toe die vliegtuig in Chicago land en saam met die passasiers se bagasie peul ’n wankelende man uit wat sy kop vasgryp vanweë ’n erge hoofpyn.

Die vliegtuig het skaars sy kruishoogte bereik of die romp gaan verskriklik aan die bewe.

Ek het self ’n maand of twee gelede ’n klein ervarinkie moes oorkom so op die hakke van die orkaan Florence. Ons het opgestyg van JFK, op pad Havana toe.

Die vliegtuig het skaars sy kruishoogte bereik of die romp gaan verskriklik aan die bewe. Jy hoef nie eens ’n sober vlieënier te wees nie om te besef die vliegtuig staan in dié erge turbulensie gevaar om uitmekaar te begin val.

Eensklaps gaan al die ligte af, ’n passasier of twee gil, maar die kaptein kom tot almal se redding toe hy bykans opgewek en nogal poëties aankondig dat dit maar net Florence se stert is wat ongelukkig ons pad kom kruis het.

Die vliegtuig ritteltit nog, maar die kelner staan verbasend stewig op sy voete toe hy aan my versoek vir ’n paar stywes voldoen.

* MC Botha is ’n skrywer wat in Hermanus bly. Die rubriek het oorspronklik in Hermanus Times verskyn.

Meer oor:  Mc Botha  |  Japan  |  New York  |  Heathrow
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.