Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Voorspraak vir vrede mág nie verpas word nie
Annelie Botes

Op 11 September het ek geskryf oor die lydingshel toe Al-Kaïda-vlieëniers in die World Trade Center vasgevlieg het. En hoe opponerende soldate gedurende die Eerste Wêreldoorlog op Oukersnag 1914 vanuit die loopgrawe vir mekaar Kersliedere gesing het.

Die tyd tussen September en nou het soos ’n wasempie verbygevlieg. Sedertdien brand ons land steeds, en nêrens is niemand met iets tevrede nie. Dis net oorlog, oorlog, oorlog.

Tans is daar ’n opwipkanaal op DStv, 100 Years of War, en ek vind dit so ontstellend dat my eetlus skoon verdwyn.

Nogtans kyk ek verstard, en wonder hoe groot is die mens se kapasiteit om in ’n ommesientjie ’n gewetenlose monster te word.

Op Google lees ek van die doodskamp by Sobibór in Pole waar ’n kwartmiljoen Jode in die gaskamers uitgewis is.

Die gruwels by Sobibór was so weersinwekkend, selfs vir die Duitsers, dat die kamp omgedolwe en vernietig is. Dis toegegooi en beplant met dennebome, en vandag is dit die tuiste van die Sobibór-museum. Navorsers en antropoloë sê die voëls in die omgewing het tot vandag toe ophou sing. Asof die natuur wéét.

Die gruwels by Sobibór was so weersinwekkend, selfs vir die Duitsers, dat die kamp omgedolwe en vernietig is.

Volgende Sondagoggend is dit weer singtyd by die Parkheuwel-gemeente met ons Kerssangdiens. Vanjaar was dit bykans spontaan om ’n tema te kies: Vrede in ’n oorlogsiek wêreld. Kort-kort terwyl ek met die program doenig was, het ek gehuil. Die totaal van Auschwitz, Sirië, Afganistan, die Grensoorlog, die Falklandeilande en Anglo-Boereoorlog het my emosioneel omgegooi.

Maar weer eens het ek gesien uit die donker put van omgegooidheid kan ’n wonderwerk verrys. Want ’n inspirasie het my beetgepak.

Summier het ek uniformmense begin soek. Verpleegsters, kadette, mense in die weermag en gevangenisdiens. Hulle gaan hand aan hand saam met die engeltjies en herdertjies by die kerkdeur inkom.

Vooraan die prosessie, in volle mondering, loop twee doedelsakspelers en lei die engelvlerkies en uniforms binne op “Amazing Grace”.

Dan gaan die Oukersnag in die loopgrawe van 1914 ontvou. Naby die einde gaan Anneli van Rooyen se “Seënbede” uitgestort word, ook oor nie-teenwoordiges. En ons sluit af met “The Battle Hymn”, oftewel die “Oorwinningslied”. Dan gaan ons saal toe vir koffie en malvalekkers.

Dié wat in of naby die Baai bly, is welkom. Maar in elke dorp in ons land, van die Vrystaat tot Natal, in elke straat, elke huis, elke werksplek, elke skool en kerk, sal ons met groot erns moet begin voorspraak maak vir vrede. Verdraagsaamheid. Lankmoedigheid.

En ons moet onthou dat voorspraak alleen weinig werd is, soos uitgekafde koring. Dit kry eers gestalte as jy die hand aan die ploeg slaan.

Ons het eintlik geen keuse nie – ons móét. Die Britse skrywer Herbert George Wells, bekend as die vader van die wetenskapsfiksie, het gesê: “If we don’t end war, war will end us.”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Wreedheid  |  Sielsgoed  |  Oorlog  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.