Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Vrede ‘nie bloot afwesigheid van geweld’

Ons sal ’n dieper verstaan van geweld moet ontwikkel – soos dat iets soos plaasmoorde ook ander grondliggende redes het, skryf Nico Botha.

Vrystaters van oor die hele provinsie wys op Swart Maandag hul teenkanting teen plaasmoorde. Foto: Mlungisi Louw

Om bloot te sê dat Suid-Afrika ’n kultuur van geweld het, klink dalk nie so sleg nie. Maar kom ons kyk ’n bietjie verder daarna: In sy eenvoudigste vorm het kultuur met ’n leefwyse te make. Om dus te beweer dat ons ’n kultuur van geweld het, sê ons eintlik dat geweld in Suid-Afrika ’n leefwyse geword het. En hoewel daar by individuele landgenote eenduisend-en-een verontskuldigings is oor hoe onbestraflik hulle is, ontkom ons as ’n kollektief nie aan die werklikheid dat geweld in tientalle vorme deel van ons gemeenskaplike identiteit is nie.

Ons land het reeds vanaf die vroegste tye ’n geskiedenis van bloedvergieting.

Met só ’n omstrede stelling is dit dalk reeds duidelik dat geweld in ons land veel dieper en verder strek as die statistieke oor geweld en moord op vroue en kinders: Agt vroue en drie kinders word daagliks vermoor en daar is tussen 50 en 80 plaasmoorde per jaar.

Ons land het reeds vanaf die vroegste tye ’n geskiedenis van bloedvergieting. Mense wat nog vattigheid het aan die groot boek van die Christene, die Bybel, sal weet dat die Bybel sterk metafore gebruik om duidelik te maak dat ’n mens nie groen druiwe kan eet en verwag dat jou tande nie stomp word nie. Jy kan ook nie onkruid saai en verwag dat daar nie wrange vrugte daaruit sal voortspruit nie. Genadiglik vertel die Groot Boek ook die storie van Een wat juis deurdat hy sy eie liggaam aan flarde laat skeur het, die spiraal van geweld deurbreek het en die moontlikheid van ’n nuwe versoende gemeenskap laat ontstaan het.

Regering het almal se steun nodig

Een van die grootste probleme in die Suid-Afrikaanse diskoers oor geweld is dat die een met ’n bebloede hand vinger na die ander wys. In die gesprekke oor geweld kom die lewensgevaarlike vergelyking tussen die goeies en die slegtes soms na vore. Maar soos met alle ander tergende probleme in die samelewing sal ons nie blywende en volhoubare oplossings vind as ons nie die genade vind om ’n veel sterker kollektiewe gevoel oor dinge te ontwikkel nie. En hierdie gemeenskaplike gees moet die volgende twee komponente bevat: Dat ons almal verantwoordelikheid moet aanvaar vir alles wat hier skeefloop en dat ons almal gelyke voordeel behoort te trek uit die goeie dinge wat die land bied.

Prof. Nico Botha Foto: Deaan Vivier

Dit sal uiteraard altyd so wees dat die regering ’n spesifieke verantwoordelikheid het om die veiligheid en beskerming van landsburgers te verseker. Maar hierin het die regering (in soverre as wat die staat reg kan optree in belang van geregtigheid en vrede) die ondersteuning van almal nodig.

Eerstens is dit dalk belangrik om ’n dieper verstaan van geweld te ontwikkel. Byvoorbeeld, dat die gruwelikste manifestasies van geweld in die vorm van moord op vroue en kinders, sowel as plaasmoorde, ander grondliggende oorsake het. Dikwels het dit te doen met die onverdraagsaamheid wat mense koester, onverwerkte bitterheid, gegriefdheid oor die onvermoë om sosio-ekonomies die mas op te kom of sommer net knaende gevoelens van minderwaardigheid en selfhaat.

’n Omvattende verstaan van vrede

Daar is natuurlik ook die meer komplekse situasies soos strukturele geweld. Miskien help dit om in dié verband enkele vrae te vra: Waarom is daar armoede? Word werkers oral regverdig besoldig vir hul werk? Is daar ordentlike werk vir almal en hoe lyk die werkomstandighede?

Daar is opnuut ’n groot behoefte aan ’n omvattende verstaan van vrede.

Almal behoort eintlik – afgesien van hul ideologiese of politieke standpunte – hierdie vrae te vra. ’n Deel van hierdie komplekse gesprek oor geweld is ons vergrype teenoor Moeder Natuur. Ons moet vir die ekologie in die bres tree wanneer mensekinders om hul vraatsug te voed hardhandig en gewelddadig die geskape werklikheid plunder.

Daar is opnuut ’n groot behoefte aan ’n omvattende verstaan van vrede. Dat vrede nie slegs die afwesigheid van oorlog en geweld is nie, maar ’n toestand waar mense na liggaam en siel, dus holisties, goed versorg word en veilig woon. Daarom sal die verwagting dat daar in Suid-Afrika ’n amperse duisendjarige Ryk van Vrede moet intree ten spyte van die flagrante verwaarlosing van mense en die gapende wond in Moeder Aarde, steeds teleurstel.

*Botha is emeritus-professor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Moorde  |  Kultuur Van Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.