Dit is die heel eerste keer dat ek ’n Springboktrui oor my kop trek. Ons is op die Eurostar-trein, op pad Parys toe om die Bokke op die Stade de France teen die Hane te sien uitdraf.
Dít is die voorreg van ’n lewe in Europa. Enigiets is moontlik – mits jy natuurlik in enigiets behalwe rande betaal word.
Die gees is onbeskryflik. Dit is net landsvlae wat wapper, en van die een kompartement tot die ander dreunsing die Saffas “Shosholoza”. As jy jou oë styf toeknyp, kan jy jou maklik verbeel dit is weer 1995. Ons gaan nou enige oomblik weer daai skepdoel van Joel Stransky beleef in die laaste paar minute van Madiba se Wêreldbekerrugbytoernooi.
Nie ek of die boerseuns op die Eurostar ken regtig “Shosholoza” se woorde nie, maar later sou ek lees dat dit gaan oor die trein wat migrantewerkers heen en weer tussen Suid-Afrika en hul families in die ou Rhodesië vervoer het. Ons is hiervan salig onbewus, maar ’n paar van die Saffas hou mekaar styf vas wanneer hulle saamsing.
Dit is meestal ’n onsamehangende geneurie, maar plek-plek hoor jy iets wat klink soos “Stimela si qhamuka e South Africa”. Rofweg vertaal, beteken dit hierdie trein is volstoom op pad na Suid-Afrika.
“Hottie! Hottie! Hottie!” skree een van hulle.
Ek en my reisgenoot kan doen met ’n koue bier. Ons loop nou na die kroeg, iewers aan die voorkant van die trein – doer in die laaste kompartement net voor die eersteklasdeel. Dit voel soos ’n skoolreünie, want die meeste van die manne is omtrent my ouderdom en selfs jonger. In die volgende kompartement loer een van die Saffas in ons rigting.
“Hottie! Hottie! Hottie!” skree een van hulle.
Hy lê van die lag. Van die ander kyk waaroor die bohaai gaan en wys na my. “Hottie! Hottie! Hottie! Hy’s ’n Hottie!” sing hulle nou saam.
Ek kyk verdwaas om my rond. My reisgenoot lyk nogal verleë en beduie met sy een hand in die rigting van die treinkroeg. Dit neem my ’n rukkie om te besef dat hulle van mý praat – ek is die Hottie in hulle midde. Hulle glimlag en lyk gaaf, en as ek nie ook Afrikaans magtig was nie, sou ek regtig gedink het dat hulle eerder verwelkomend teenoor my was.
Dit is die eerste keer dat enigiemand so openlik rassisties met my is. Ook die eerste keer dat ek ’n wit mens daardie woord hoor sê. Ek is te geskok, te bang om iets terug te sê; te platgeslaan oor hulle my nie bloot as ’n mede-Suid-Afrikaner herken en erken nie. Al skree ons vir dieselfde span.
Die Bokke het daai dag 20-13 verloor. Ek was veral ontnugter omdat hulle so jonk was; die reënboogkinders was tog oud genoeg om van beter te weet; ook jonk genoeg om mense van verskillende kulture as hul gelykes te kan aanvaar.
Lank daarna het ek anders na die wit mense in my geselskap gekyk – selfs na dié wat net vir my goed is en was. Ek het skuldig gevoel, want ek het toegelaat dat ’n paar vrot appels onder my vel inkruip. Ek moes ’n doelbewuste besluit neem om hulle te vergewe.