Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Vrouedag het byt, nes hondsdoldag

Wie op die liewe aarde het besluit om Internasionale Bierdag en Oumadag op dieselfde dag te hou, en dit nogal op ’n Vrydag?

Nie dat ek en my ou maters enige gewetens- of politieke besware teen bier op Vrydae het nie, maar wat gemaak as dit rugbydag en Saterdag word en jy daar sonder ’n leeuplesier of vier sit?

Blouwillem

En wat maak ’n ouma op Oumadag as al die kleinkinders in die skool en peuterskool is?

Laat my weer dink aan ouma Tinkie, wat toe sy al amper 90 was vir my vertel het dat sy in haar lewe net één enkele bier gedrink het, daar in Brandvlei of Kenhardt se hotel se lounge.

“Was dit dan nie lekker nie, Ouma?” vra ek toe. “Nee, juis omdat dit so lekker was, my kind!”

Ek het maar nie toe vir haar die foto van Seun by intervarsity gewys met die T-hemp waarop staan: “Bier gaan my lewe verander, ek weet nog net nie hoe nie.”

Betoger, ou Dik Daan se laaitie, het weer vir hom gevra hoekom hy dan sy rybewys moet wys om te kan bier koop as jy nie mag drink en bestuur nie.

Oumadag en Bierdag en Donderdag weer Vrouedag.

Jaaa, swaer, jy beter dan klaar wees met Bierdag as jy weet wat goed is vir jou. Daai’s nou die een dag (behalwe internasionale hondsdolheidsdag) waarop jy maklik gebyt kan word.

’n Onbekende kryger staan mos op Vrouedag op en vra vir vroutjie of sy saam met hom wil gaan draf.

“Hoekom, wil jy vir my sê ek is vet?”

“Nee, maar dis goed vir jou gesondheid,” sê hy versigtig.

“So, nou is ek skielik sieklik.”

Hy, verbouereerd: “Jy verstaan my verkeerd, skat, dis nie wat ek bedoel nie.”

Maar hulle kan maar hul tyd vat, want jy kan nie glo hoeveel minder rekeninge ek deesdae het om te betaal nie.

Sy, nou erg omgekrap: “So, ek is onnosel en verstaan skielik niks?”

“Dis nie wat ek gesê het nie, skat,” probeer hy.

“Wil jy nou vir my sê ek lieg?”

Hy sug, gee oor en sê: “Slaap maar nog ’n bie­tjie, skat, ek gaan maar alleen draf.”

“Ja, tipies, jy doen mos alles alleen, so geniet dit!”

Die les, manne: Maak klaar met daai bier van laas Vrydag, lê maar laag en onthou, ’n sagte woord keer die grimmigheid af.

Dik Daan sê ons kan darem diep dankbaar wees dat die posstaking hier by ons én die verkiesing is Zimbabwe nou iets van die verlede is.

“Waar ek tydens die posstaking sewe dae ’n week niks pos gekry het nie, kry ek darem nou net op werkdae niks.

“Maar hulle kan maar hul tyd vat, want jy kan nie glo hoeveel minder rekeninge ek deesdae het om te betaal nie.”

En wat sal ons sê oor verkiesings in ons liewe buurlandjie, behalwe dat dit die een land is waar die stemme twee weke voor die verkiesing al emmersvol klaar getel is.

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.