Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Vrouemaand is tyd om te doen

Patriargie wat lywe breek, moet soos brood gebreek word, skryf Cas Wepener.

Hoe dink ’n mens anders oor nagmaal in Vrouemaand?Foto: Charl Devenish

Dit is Vrouemaand en dit voel asof dinge in ons land sedert Augustus verlede jaar nie verbeter het nie. Die pratery en skrywery oor geweld teen vroue terwyl die haglike situasie feitlik onveranderd bly, het my aan ’n gesprek vroeër vanjaar laat dink.

Saam met ’n dramadosent beplan ek ’n praktiese klas vir teologiese studente. Sy spesialiseer in beweging, nie spraak nie. Tokkelokke (etimologies glo van “talk-a-lots”) kan praat, hulle benodig nie veel aanmoediging nie. Net so vaardig en flink as wat die tonge is, so lomp is die lywe. Die kollega moet die studente nie leer perform nie, inteendeel. Dit gaan oor hulp vir studente om gemaklik en eg in hul eie lywe te raak.

Sy vra my uit om te verstaan wat ek van haar verwag. In die ou dae was haar bydrae duidelik, haar voorgangers moes die tokkelokke help om “JEEsusss”, “GenAAde” en “HEEre” te sê, met die nodige oorronding sodat die woorde met gesag in die kerkruimtes kon nagalm tot lank nadat die laaste orrelklanke reeds weggesyfer het en kerkgangers ’n week lank bly sidder.

Tuis in jou eie lyf

Tye het verander – klankstelsels het verbeter en mense verkies “menslik” en “natuurlik” bo sogenaamde gesag. Met die pratery gaan dit op die oomblik nie te sleg nie, maar die lywe bly lastig, want om egtheid en omgee te beliggaam, beteken jy moet tuis wees in jou eie lyf.

My pogings om te verduidelik dat ek in 2020 nie ’n “JEEsusss” wat slegs vanuit ’n ontliggaamde paar stembande opwel en alles aards oorstyg in haar departement kom soek nie, maar ’n baie gewone een van vlees en bloed, is redelik onbeholpe.

Die herinnering aan Siebelink se verhaal help my en ek verduidelik dat ek en my studente in ’n konteks waarbinne geweld teen vroue en kinders gedy, sekerlik nie op presies dieselfde wyse brood kan breek as in ander tye nie.

Hoe verduidelik jy dat jy hulp soek, sodat teologie nie net op papier en in klanke bly sit nie, maar deel moet word van ’n lyf? Dit is die oorsprong van ons teologie, die woord het ’n lyf geword. En dis deur lywe wat dit weer woord word, lywe wat meer as net ’n larinks behels. Teologie sit altemit klaar in kerkgangers se lywe.

’n Vriendin in Nederland het my bewus gemaak daarvan hoedat Doppers anders voor die erediens hoes as byvoorbeeld Metodiste, effens meer gedemp, wat by die teologie pas.

Bewende hande

Terwyl ek gesels en woorde soek om te verduidelik, onthou ek die beskrywings in Jan Siebelink se roman Knielen op een bed violen. En hoe dit vir die klein groepie oergereformeerdes in daardie verhaal bykans onmoontlik was om na die nagmaaltafel te gaan en die brood te eet en wyn te drink, gegewe hul diep sondebesef en gepaardgaande vrees om ’n oordeel oor hulself te eet.

Die gevolg was dat hulle bykans nooit die nagmaal gevier het nie.

Die herinnering aan Siebelink se verhaal help my en ek verduidelik dat ek en my studente in ’n konteks waarbinne geweld teen vroue en kinders gedy, sekerlik nie op presies dieselfde wyse brood kan breek as in ander tye nie.

Drama-mense weet hoeveel wysheid in lywe opgesluit sit en verstaan op ’n bykans instinktiewe wyse dat hoe jy in Augustusmaand brood breek, anders moet wees as hoe jy dit in Julie of September doen.

In sy gedig “Nagmaal (1)” uit 1972 is I.L. de Villiers as dominee bekommerd oor “ ’n ligte bewing” in sy hande wat die nagmaalsbrood moet breek en wanneer hy die taffellaken met rooi muskadel vlek is dit ’n “klein ramp”. Die troos vir hom het in die slotreëls gekom toe hy sien hoe “U die beker gee vir iemand aan U sy, / rustig, soos Een wat weet waar Hy sy kudde lei.”

In 2020 is daar vir my meer troos in die eerste deel van De Villiers se sonnet, daar waar sy hande bewe, hy bewus is van die slinkses en twyfelaars in sy midde, hy die glasies uit hul plek stamp en wyn op die wit tafeldoek mors.

Krummels en wynvlekke en bewende hande – ek vermoed dit is nader aan hoe daar nou brood gebreek moet word.

Bygesê, indien ons enigsins mag brood breek en of ons nie solank as wat patriargie in ons land gedy, keer op keer ’n oordeel oor onsself eet by al die tafels in Suid-Afrika nie.

Woedende brood

Gisela Ullyatt begin haar gedig “Om ’n vrouetafel” met die reël “sy onthou die uitgestrektheid van ’n feestafel” en roep al die “oumas moeders en tantes” by die tafel in herinnering, maar eindig “tog / om hierdie tafel onthou sy / geen oupa / geen oom / geen vader nie”.

Soms is die vaders in die vlees afwesig, en tog sit patriargie in die DNS van ons samelewing.

Voor ons lê Vrouemaand, en dit is soos al ander 11 maande van 2020 ’n maand waarin ons gaan eet: ’n sny roosterbrood, ’n toebroodjie, ’n pizza.

Cas Wepener

Dit maak nie saak hoe die brood lyk nie. Wat wel saak maak is dat Suid-Afrikaners onmoontlik op dieselfde wyse daardie brood in Augustus kan breek, as in ander maande.

In Augustus moet die eerste drie letters van nagmaal gekursiveer word tot nagmaal. In Augustus is al ons brood Cussons se “woedende brood” met “ . . . die Furie en die oorvloedige Bloed.”

Daar is al genoeg gepraat, te veel geskryf (soos hierdie bydrae), dit is tyd om te doen, tyd dat lywe in alle egtheid reageer.

Tyd dat hande wat brood breek weer bewe en tafellakens gevlek word. Tyd om die woorde “sonde” en “oordeel” opnuut deel te maak van ons woordeskat voordat ons hierdie Augustus aan ons heilsame volkoring- en rogbrode met die vuil hande van patriargie vat.

Patriargie wat lywe breek, moet soos brood gebreek word.

Mag ons tydens elke maal hierdie maand onthou – dis nag.

  • Wepener is hoogleraar in praktiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Cas Wepener
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.