Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Waar een deur toegaan, sal ’n ander oopgaan

Omdat ons ’n skaduweetuin en ’n waterdrinkplek het hier by nr. 22, is dit ’n hawe vir talle diertjies.

Annelie Botes

Langtoonklikkerpaddas, pienk wasagtige geitjies wat saans teen die stoepplafon insekte jag en jaag. Hommelbye, akkedisse, naaldekokers, skoenlappers, miskruiers, toktokkies, krieke en soms selfs verkleurmannetjies. Swerms voëls wat saadbak toe kom.

Een van dié wesentjies, genaamd Splitstertjie, is ’n pienk geitjie met ’n gevurkte stertpunt. As ons saans op die stoep eet of gesels, kruip hy binne ’n minuut van iewers af uit, asof hy kom groet. Ek het ’n foto van hom wat in 2012 geneem is, dus is hy minstens ses jaar oud.

Tot ons vreugde sien ons hierdie lente die eerste keer babageitjies, ook met splitstertjies. Dit maak die hart warm om te weet hy het óns huis uitgekies as sy adres.

In Spreuke 30:18 sê Salomo daar is vier dinge wat hy nie verstaan nie: hoe ’n aasvoël in die lug bly; hoe ’n slang teen ’n rots op seil; hoe ’n skip op die diepsee vaar; en hoe die liefde tussen ’n man en ’n vrou werk. Maar iets wat ék weer nie verstaan nie, is hoe
swaeltjies jaar ná jaar, oor duisende kilometers heen, na dieselfde nes terugkeer. Die internet sê trekvoëls gebruik magnetiese kolletjies bo hul neusgate. Of volg landskappe en kuslyne, riviere, berge en grootpaaie. Of word instinktief gelei deur die posisie van die son en sterre. Of die ouers leer dit vir die kleintjies.

Synde hoe, vandat ons 20 jaar gelede hier ingetrek het, is daar ’n swaeltjiepaar, of dalk hul afstammelinge, wat elke jaar teen September terugvlieg na hul moddernessie onder ons bure se stoepdak.

My vrees was dat hulle weens die trauma nie sou terugkom nie.

Dag vir dag swiep hulle in en uit die nessie, totdat daar op ’n oggend twee kleintjies saam met hulle op die muur in die son sit. As die laatherfs opdaag, verdwyn hulle. Om soos klokslag teen September terug te kom.

Verlede jaar was ons in die rou toe ’n kat een van die kleintjies gevang het. Die gryse het my getroos en gesê dis maar hoe die natuur werk.

My vrees was dat hulle weens die trauma nie sou terugkom nie. En tog, op die gryse se verjaardag in September, daag hulle weer op. Blydskap der blydskappe.

Maar vanjaar is hulle onrustig en raserig. Ons loer onder die bure se stoepdak in en sien tot ons ontsetting die helfte van die nessie het afgeval. Ná twee dae van bestek opneem, is hulle vort om ’n huis elders te bou.

Ek mis hulle en bly wonder waar is hul nuwe modderhuisie. Is daar ’n kat in die nabyheid? Onthóú hulle? Verlang hulle na die huis wat 20 jaar lank ’n somerhawe was?

Toe speel ek op die klavier ’n vaarwellied: “Sal ons ou vrinde ooit vergeet, en die goeie oue tyd . . .” En op dieselfde dag daag daar die eerste keer ’n rooiste-rooivink by ons saadbak op.

Dit wys net weer: Waar die een deur toegaan, sal ’n ander deur oopgaan. Dit is maar hoe die lewe werk.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Geloof  |  Sielsgoed  |  Deur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.