Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Waar is die beter SA waarvoor jy gehoop het?

Ondanks al die slegte nuus waarmee ons daagliks in Suid-Afrika te doen kry, sal Dawid Kuyler bly hoop op ’n beter toekoms eerder as om saam te begin kla.

Ralf Schmitt, dirigent van die Ndlovu-jeugkoor, met die koor se aankoms op die OR Tambo-lughawe. Foto: Deaan Vivier

Mense vra my soms of ek nog hoop vir Suid Afrika het. Hulle vra my dié vraag omdat ek teen apartheid gekant was en die nuwe bestel in Suid-Afrika verwelkom het.

Hulle vra dit omdat misdaad, ’n ekonomie wat agteruitgaan, politici wat droogmaak en die droogte in dele van die land vir ons ’n verhaal sonder hoop vertel.

Waar is die beter Suid Afrika waarop jy gehoop het? Het jy nog hoop of is jy ontnuger en sonder hoop?

Baie mense se kinders woon al die wêreld vol, maar nie almal kan uit ’n hopelose situasie ontvlug nie.

Tog sal ek bly hoop, want dit is hoe jy hoop verstaan, wat sal bepaal of dit die moeite werd is om te hoop.

Sal ek op die wa klim en saam oor alles begin kla?

Ja, my hart bloei ook oor die slegte dinge wat in ons land met al sy mense gebeur. Elke moord, elke verkragting, elke diefstal raak ons almal. Dit ontstel ons en maak ons kwaad.

Tog sal ek bly hoop, want dit is hoe jy hoop verstaan, wat sal bepaal of dit die moeite werd is om te hoop.

Ek is ’n hengelaar en hou van vars vis wat tuis gebak is. Dit smaak heerlik. As ek nou sit en hoop dat dit sal gebeur, sal ek lank sit en wag. Hoop bring nie vis huis toe nie. Ek moet maar opstaan en see toe gaan. Ek moet met springgety sorg dat ek die nodige aas versamel en dan moet ek gaan hengel. Soms in die dag en selfs ook in die nag.

Dit doen ’n mens in die hoop dat jy wel iets gaan vang. Sonder werk sal van hoop niks kom nie. Met werk word die hoop bewaarheid. Jy vang nie elke dag ’n grote nie maar die kleineres kan ook geëet word. Die grotes is ’n bonus vir die hoop wat jy bewerk het.

Mense gee gestalte aan hoop

Dawid Kuyler met een van sy vangste. Foto: Dawid Kuyler

In ons mooi land is daar baie mense en organisasies wat hoop en werk. ’n Facebook-kennis van my, Barend la Grange van South African Day, is so ’n persoon wat hoop laat werk. Saam met ds. Tewie Pieters van Coligny het hulle ’n stukkende en hopelose situasie in die dorp omgekeer deur mense te laat saamwerk.

Tans is Barend en die mense van Cradock en Waterval Boven/Emgwenya besig om die dorpe waar munisipaliteite gefaal het, weer mooi te maak. Jy kan die vordering in Waterval Boven op hul Facebook-blad, Boven Reboot, volg.

Charles Smith van Netwerk24 en Volksblad gebruik sy joernalistieke posisie en talente om nie net te vertel van hopelose situasies in die Vrystaat nie, maar om mense se lewens daadwerklik te verander. Dit is ongelooflik hoe mense reageer op ander se nood en hoe mense gewillig is om ’n verskil te maak. Dit gee hoop.

Die Ndlovu-jeugkoor van Moutse in Limpopo het begin omdat die dirigent, Ralf Schmitt, ’n verskil wou maak aan lewens van jongmense wat in hopelose omstandighede lewe. Hul roem het gekom omdat iemand werk van sy hoop gemaak het en almal saam hard geoefen het.

Vanjaar was hulle die naaswennners in America’s Got Talent. Hulle het dalk nie eerste geëindig nie, maar baie mense se harte geraak en gesteel, en baie Suid Afrikaners trots gemaak. Dit is ’n teken van hoop wat inspireer.

So is daar talle kerke en organisasies wat iets doen aan die hopelose situasies in ons land. Mense wat moue oprol en werk en ’n verskil maak. Terwyl sommige op die ashoop sit en hul lot bekla, is daar diegene wat iets doen. Sommige doen klein dinge, ander groot dinge, maar almal dra by om hoop te skep. ’n Vriend van my wat tans op Prins Albert betrokke is by ’n privaat skool vertel my dat mense hul huishulp se kind in die motor gelaai het en na ’n hospitaal in George geneem het toe hy siek geword het. Hulle ry ook elke dag met die ma na George om hom te besoek.

Al doenend en werkend gee mense gestalte aan hoop.

Terwyl sommige kla dat niks gedoen word aan die korrupsie in ons land nie, getuig mense voor die Zondo-kommissie en vertel wat gebeur het. Hierdie mense wat getuig al word hulle op verskillende maniere bedreig, is tekens van ’n werkende hoop.

Die talle berigte oor boere wat uitreik en ’n verskil aan die lewens van opkomende boere maak, is tekens van hoop. Baie boere is die regering ver voor as dit by die bemagtiging van swart boere kom.

Terwyl die regering se burokrasie en korrupte amptenare hopeloos in hul bemagtiging van swart boere is, sit baie wit boere nie agteroor en hoop iets gebeur nie.

Hulle doen iets. Hulle skep hoop vir ons almal.

Daar moet nog baie gedoen word en ek glo met elke huidige boer se betrokkenheid kan ons ’n groot verskil maak.

Burre Burger het nie gaan sit en hoop dat boere wat swaarkry weens die droogte geholpe sal raak nie. Hy het iets begin wat uitgekring het en ’n groot verskil gemaak het in die boere, hul werkers en hul diere se lewens.

Hoop wat werk, deel oorpakke uit en betrek ander.

Terwyl sommige kla dat niks gedoen word aan die korrupsie in ons land nie, getuig mense voor die Zondo-kommissie en vertel wat gebeur het. Hierdie mense wat getuig al word hulle op verskillende maniere bedreig, is tekens van ’n werkende hoop.

Wanneer die beskuldiges volgende jaar in die howe verantwoording doen, sal ons hoop verder toeneem.

Gelowiges moet ook ’n verskil probeer maak

Die hoop beskaam nie. Foto: Dawid Kuyler

Gelowiges en die kerk moet skeppers en draers van hoop wees. Te veel gelowiges in Suid Afrika dra tot ’n gevoel van hopeloosheid by.

As Christene wat glo in die opgestane Heer behoort ons draers van hoop te wees. Gelukkig is daar ook gelowiges wat glo dat hoop ’n werkwoord is en ’n verskil maak.

Een swaeltjie maak nie die somer nie, maar ’n klomp swaeltjies kondig aan dat die somer op pad is, al kom daar nog koue fronte.

So, as mense my vra of ek hoop het vir Suid Afrika, dan is my antwoord: Ja.

Dalk kort ons in die kerke ’n teologie van werkende hoop pleks van die oordaad van voorspoedteologie of piëtistiese vroomheid wat aan mense opgedis word. Ons kort ’n teologie met ’n oorpak wat ’n verskil maak. Ons kort ’n teologie wat gewone mense bemagtig om ’n verskil te maak daar waar hulle woon en werk.

Christus het aan individue wat hoop verloor het, mense wat siek was, mense wat blind was, mense wat melaats was, mense wat prostitute was en mense wat tollenaars was, iets gedoen. Hy roep Sy volgelinge om dieselfde te doen. Hy roep ons om saam te staan en ook kollektief saam te werk en ’n verskil te maak.

So, as mense my vra of ek hoop het vir Suid Afrika, dan is my antwoord: Ja, en ek probeer om ’n verskil te maak waar ek woon.

Ja, en ek is dankbaar vir die baie ander wat op vele terreine dinge doen wat hoop skep. Hoop jy of sal ’n mens eerder vra: Wat doen jy?

* Dr. Kuyler is ’n leraar van die Verenigde Gereformeerde Kerk en ’n voormalige skriba van die algemene sinode van die VGKSA. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Charles Smith  |  Suid-Afrika  |  Apartheid  |  Hoop  |  Ndlovu-Jeugkoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.