Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Waardemoer en Brics se Blink Stefaanse

Nee kyk, as ons ou landjie die slag die wil het om sy beste voetjie voor te sit, lyk ons darem lekker Blink Stefaans, hoor!

Soos verlede week met die Brics-beraad toe dit net swart pakke (wat het geword van Madiba-hemde?), bloulig-motorkavalkades en uithangonthale was.

Blouwillem

Toe oom Johnny laasweek vir die eerste keer oor die draadloos hoor die Brics-leiers sê sus en so oor die wêreldorde en die heelal se ekonomiese situasie, wil hy by ons weet van wanneer af ons land se bricklayers soveel te sê het oor sake wat niks met messel te doen het nie. En dan boonop tolke nodig het.

Ten minste het ons darem nou weer ’n Nommer Een wat lyk of hy gemaklik in ’n swart pak is en wat vir Waardemoer Poetin kon verduidelik wat hy met sy kernkragsentrales kan doen.

Maar as Brics uit net vyf lande bestaan, wat sou al hierdie ander lande se piepols hier gemaak het?

Dik Daan sê hy hoor by sy ou diplomatieke bronne die ander

ouens was hier vir die stigting van ’n nuwe Afrika-groepering, wat bekend sal staan as Baksteen (Botswana, Afri­Forum, Kongo, Soedan, Togo, Egipte, Ethiopië en Nigerië).

Intussen was die ander groot nuus die afgelope week natuurlik die maansverduistering wat waarskynlik deur Zimbabwe se nuwe ruimte-agentskap gereël is (’n ou landjie wat deur die droewe Moergabe-jare meesters van verduistering geword het).

As ’n mens die maan nie wíl sien nie, kan jy natuurlik maar net in die kooi gaan klim voordat hy opkom, maar Vrydagaand staan ons daar langs die braaivleisvuur en wag met ons verkykers vir die groot oomblik (by gebrek aan teleskope). Ons vat toe maar so ’n ou knertsie of twee (ook om beter te kan sien, Ouma) en skielik sê neef Bartel: “Daar’s hy, manne, daar bokant die buurman se dak!” Teen halfelf kom die vroutjies uit en wys ons toe vriendelik daarop dat die versluierde ou maantjie reg bo ons is en ons ons inderwaarheid die afgelope uur met verkykers aan die buurman se TV-skottel verwonder het. Ja, ek moet erken ons was ’n bietjie verleë, maar dat ons daai TV-skottel mooi duidelik gesien het, dié is seker!

Ons vat toe maar so ’n ou knertsie of twee.

Dit was klaar ’n redelike tameletjie om vir oom Johnny die verskil tussen baksteenleiers en layers te verduidelik en toe wys hy boonop vir ons die berig in die gesinskoerant van die Chinese maatskappy WMDOLL, wat nou sekspoppe vervaardig wat oor kunsmatige intelligensie beskik en selfs elementêre gesprekke kan voer. Dié poppe se woordeskat bestaan blykbaar net uit eenvoudige woordjies soos “ja” en “nee”, maar dan kos hulle so tussen R15 000 en R90 000 elk.

Nadat neef Bartel al blosend en stotterend vir oom Johnny verduidelik het watter eensame (?) ouens met sulke speelgoedpoppe trou, hou die oom sy hartspier vas en vra: “Manne, hoe mal moet ’n ou wees as hy soveel gaan betaal vir ’n pop wat vir hom “nee” sê?!

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.