SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Sielsgoed
Waarheen vlug jy deesdae vir rus en vrede?
Johan van Wyk

As hy dit kon voorsien, sou die sestiendeeeuse Engelse digter John Donne waarskynlik twee keer gedink het voordat hy sy stelling “no man is an island”, bedoelende dat die mens nie in afsondering kan bestaan nie, die wêreld ingestuur het. Hy sou die teendeel dalk selfs aangeprys het.

In sy Devotions upon Emergent Occasions beskryf Donne die diep menslike behoefte na gemeenskaplikheid só:

“No man is an island entire of itself, every man is a piece of the continent, a part of the main. If a clod be washed away by the sea, ­

Europe is the less, as well as if a promontory

were, as well as if a manor of thy friends, or of thy own were.”

Vierhonderd jaar gelede was dit dalk ’n groot waarheid. Nie meer vir my nie.

Is daar nog ’n toevlug in Suid-Afrika waar dit wel die geval is? As jy van een weet, bly stil!

In die geharwar van ’n siek, gewelddadige, oorbevolkte wêreld waarin sotterny en vernietiging daagliks hoogty vier, sal ek glad nie omgee nie om my alleen op ’n tropiese eiland met ’n eksotiese drankie in die hand te bevind, terwyl ’n pragtige blondine in ’n skrapse bikini, soos Ursula Andress in die ou James Bond-fliek Dr. No my uit die see tegemoet stap. Om ’n wyle ver weg van

alles en almal te wees, soos die titel van Thomas Hardy se roman

Far from the Madding Crowd aandui, moet salig wees.

Dis sekerlik ook die versugting van baie mense vermoeid en belas deur die enorme probleme en toenemende onsekerhede oor waarheen Suid-Afrika op pad is.

Nie dat ek dit hardop wil sê nie, want dan storm almal op soek na rus en stilte soontoe, maar ek het iets daarvan ervaar gedurende ’n kuier by vriende op die Eiland by Groot-Brakrivier. Nie meer ongeskonde nie, maar steeds idillies.

Is daar nog ’n toevlug in Suid-Afrika waar dit wel die geval is? As jy van een weet, bly stil!

Presies hoe die Suid-Kaapse kus die afgelope 50 jaar ontplof het, het my juis opnuut getref.

Presies hoe die Suid-Kaapse kus die afgelope 50 jaar ontplof het, het my juis opnuut getref.

Gehuggies soos Groot-Brakrivier, wat jare nadat sy beroemde skoenmaker en weldoener, Charles Searle, hom in 1859 daar gevestig het, klein dorpies was, is nou bedrywige voorstede van die ontluikende metropole van Mosselbaai en George, waarheen derduisende mense jaarliks uit die onhoudbare noorde en ooste vlug.

Vanaf die rustige Eiland is die N2 dag en nag ’n magtige stroom van menslike beweging.

Daarteenoor is die Groot-Brakrivier, wat die Eiland omring, as gevolg van ontwikkeling en besoedeling ’n kwynende stroom.

’n Dapper stryd word deur ou families gevoer om dit van verdere agteruitgang te red en die Eiland se unieke leefwyse te bewaar.

Nie sonder humor nie. Soos toe ’n perd op ’n ramparty uit sy klere geraak het.

Toe hy met ’n handdoekie om sy onderlyf verby die huis van twee Engelssprekende oujongnooiens vlug, het een van die stoep af uitgeroep: “Drop that towel, we haven’t seen that in years!”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Vakansie  |  Vrede  |  Rus  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.