Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Waarheid oor Christus moet uitgeleef word
Dr. Isak Burger

In ’n rubriek verlede week deur prof. Johannes Froneman, verwys hy na AB de Villiers en die uitnemende voorbeeld wat hy stel. Hy sê: “Hy (De Villiers) loop nie met sy geloof te koop nie. Hy slaan bloot die bal wat na hom geboul word en maak vriende met sy glimlag en medemenslikheid.”

Dit is nou in teenstelling met die onlangse kommentaar op sosiale media van sommige oudleerlinge van dieselfde skool waaruit De Villiers óók kom.

Dis ’n pragtige getuienis. Die woorde “hy loop nie met sy geloof te koop nie” het my aan die dink gesit. De Villiers dwing nie sy geloofsoortuigings op andere af nie, maar hóé hy lewe, maak duidelik ’n indruk op ’n wye spektrum van mense.

Dit het my laat dink aan die woorde van een van die mees gerespekteerde Christene in die Middeleeue – sint Franciskus (einde 12de begin 13de eeu): “Preek Christus, en indien nodig, gebruik woorde.”

Die betekenis was duidelik: Laat jou lewe Christus in so ’n mate weerspieël dat woorde net by uitsondering nodig sal wees.

Die betekenis was duidelik: Laat jou lewe Christus in so ’n mate weerspieël dat woorde net by uitsondering nodig sal wees.

Die mening word deesdae dikwels geopper dat godsdiens ’n private aangeleentheid is en dat jy dit verkieslik vir jouself moet hou. So ’n mening druis natuurlik lynreg in teen die wese van die Christelike geloof. Om die waarheid te sê, dis onmoontlik.

Die Kerk is ten diepste die resultaat van God se sending – die sogenaamde Missio Dei. Die genade, vergifnis, redding en vryspraak wat Christus deur sy kruisdood vir die mensdom bewerkstellig het, was nooit bedoel om privaat en in die geheim bewaar en beoefen te word nie. Dit was nog altyd bedoel om so wyd as moontlik bekend gemaak te word.

Dit was Jesus se Groot Opdrag vóór sy hemelvaart en dit was die doel en rede vir die uitstorting van die Heilige Gees.

Tussen God se sending van sy eie Seun om vir die redding van die wêreld te sterf, en baie mense se persepsie van Christene en Christenskap vandag, lê eeue van tradisies en verwringing van die wese van die Evangelie.

Die probleem is ongelukkig dat baie mense wat die naam “Christen” dra, se lewe, woorde en werk nie die egtheid en betekenis van ’n verhouding met Christus weerspieël nie.

Hierdie Evangelie, die beste nuus van alle tye, is nie om mee te dweep nie. Dit moet gelééf word – veral búite die kerkgebou, op die markplein en nie net in die privaatheid van jou binnekamer of gedurende ’n Sondag-erediens nie.

Die probleem is ongelukkig dat baie mense wat die naam “Christen” dra, se lewe, woorde en werk nie die egtheid en betekenis van ’n verhouding met Christus weerspieël nie. Die vroeë Christene het in ’n vyandelike omgewing hul verhouding met Christus só uitgelewe dat selfs hul vyande nie anders kon as om verwonderd te wees en hulle as metgeselle van Christus te herken nie (Hand. 4:13). Christus ín hulle het as ’t ware “deurgeskyn”, “deurgesypel”.

Die tyd waar die Kerk die wêreld gaan beïnvloed deur dít wat net bínne sy eie mure gebeur, het (minstens in die Westerse wêreld) grootliks verbygegaan.

Die waarheid oor Christus moet deur sy volgelinge in die openbaar en outentiek uitgeleef, gepraktiseer word.

Watter behoefte het Suid-Afrika nie daaraan nie!

Meer oor:  Isak Burger  |  Geloof  |  God  |  Sielsgoed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.