Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Waarom ek nou saam met my selfoon eet

Baie keer is dit beter om saam met jou selfoon eerder as saam met ’n man te gaan uiteet, skryf Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Elke Maandagmiddag vat ek my selfoon uit vir ete. Hy stry nie met my oor waar ons moet gaan eet of kry ’n fronsie en sê die plek is te duur nie.

Boonop eet ’n selfoon nie juis nie. ’n Cheap date dus.

Natuurlik kan ek ’n man kry om mee saam te gaan uiteet. Maar ’n selfoon het net beter maniere.

My laaste ete-afspraak, die een wat my gedryf het na die arms van my selfoon, was met ’n welgestelde boer. Die middageteafspraak – ons eerste afspraak ooit – is gemaak. Hy het die plek gekies, want hy “ken glo van restaurante”.

Die restaurant was Italiaans.

“Wat gaan jy na die restaurant aantrek?” het hy gevra.

Ek was lus en sê ek het besluit om kaalgat en met spykerhakke aan op te daag. Maar dalk sou dit hom net aanmoedig.

“Hoekom?”

(Nota vir mans: As ’n vrou vra “hoekom” is dit nooit ’n eenvoudige vraag nie. Dis ’n strikvraag. En jy sál daarin trap.)

“Wel, wees tog net netjies. Jy weet, doen moeite.”

Ek moes dalk daar al die afspraak beëindig het, maar dan sou ek nou niks gehad het om vir julle te vertel nie.

My hare – wat reeds regop gestaan het van skok – het met waansinnige woede begin krul. Dalk selfs slangkoppe ontwikkel soos Medusa.

“Moeite?”

“Jy weet . . . sit grimering aan, was jou hare . . . ”

Ek moes dalk daar al die afspraak beëindig het, maar dan sou ek nou niks gehad het om vir julle te vertel nie.

Ek het opgedaag by die Italiaanse restaurant. My hare was nie gewas nie, maar skoon – want dis Kaapstad, dis droogte, en ’n mens was nie meer jou hare sommer vir enige man nie.

“Wow. Ek het nie gedink jy gaan so formeel lyk nie.”

Ek het afgekyk na my rok. Gesug.

“Dis wat ek altyd aantrek.”

Raak gewoond daaraan, wou ek byvoeg, maar ek het nie.

Maar Poppie, ek het al in die beste restaurante in die wêreld geëet, ook in Michelin-ster-restaurante. Laat dit in my hande.

Die spyskaart het opgedaag en die drama het begin.

“Ek sal vir jou bestel.”

My Medusa-slangkoppe het vir hom begin sis.

“Ek kan vir myself bestel, dankie.”

“Maar Poppie, ek het al in die beste restaurante in die wêreld geëet, ook in Michelin-ster-restaurante. Laat dit in my hande.”

Ek het hom net ’n kyk gegee. En self bestel. ’n Caprese-slaai.

Die welgestelde boer het mossels in wynsous bestel.

Ek en die kelner het na sy bord gekyk. Daar was ’n lepel en ’n vurk.

Toe daag die mossels op.

“Wat is dit?” het hy gevra.

Ek en die kelner het vir mekaar gekyk.

“Dis mossels, Meneer.”

“Ek kan sien dis mossels, maar hoe moet ek dit eet?”

Ek en die kelner het na sy bord gekyk. Daar was ’n lepel en ’n vurk.

“Daar is ’n lepel en ’n vurk, Meneer.”

“Ek kan sién daar is ’n lepel en ’n vurk, maar hoekom is die mossels nog vas in aan die skulp! Hoe verwag jy moet ek dit eet! “

Op my kop het my Medusa-slange geproes.

Die kelner het net daar omgedraai en die restauranteienaar gaan haal.

’n Vrou.

“Meisietjie, hoe moet ek hierdie mossels eet?”

“Jy hou dit met die een hand vas en dan haal jy die mossel met die vurk uit, Meneer.”

Op my kop het my Medusa-slange geproes.

“Nee, ek wil nie my hande bemors nie! Ek het al in die beste restaurante ter wêreld geëet. Selfs Michelin-ster-restaurante! En die mossels word nooit so bedien nie!”

Ons is twee Afrikaners in ’n Italiaanse restaurant wat aan Britte behoort en waar die kos heel moontlik deur ’n Zimbabwiese kok gemaak word.

Ek kon nie meer nie.

“Is ons dalk in Frankryk? Nee. Ons is twee Afrikaners in ’n Italiaanse restaurant wat aan Britte behoort en waar die kos heel moontlik deur ’n Zimbabwiese kok gemaak word.

“Hier kom die mossels in die skulp. Hier eet jy met jou hande en mag jou hande maar vuil raak. Smeer jou sopperige vingers af aan ’n stuk brood en dan doop jy dit in die sous.”

En dis waarom ek deesdae saam met my selfoon eet.

Michelin-sterre se moer.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Uiteet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.