Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Walging, oppas dit weerhou jou
Alida Kok

Walging – die sterk afkeer van iets of iemand – is ’n emosie wat vandag gereeld deur Suid-Afrikaners in gesprekke in openbare ruimtes aan mekaar gewys word.

Kyk byvoorbeeld na die sterk afkeer waarmee Helena Wasserman, die redakteur van Business Insider South Africa, skryf oor hoe die burgerregte-organisasie AfriForum haar kinders se laer skool wou besoek as deel van ’n bewusmakingsveldtog teen boelies. Wasserman skryf: “Nie een van ons het werklik gedink dat AfriForum – die verregse organisasie wat ontken dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was – in ons skole toegelaat sou word nie. ’n Organisasie met duidelike politieke doelwitte... wat spog oor sy noue bande met die Amerikaanse president, Donald Trump ... ” Wasserman het dit eens dat AfriForum nie naby aan haar kinders toegelaat mag word nie.

Ons ken hierdie reaksie goed, en daar is ’n goeie rede daarvoor. Die oomblik as politieke gedrag enigsins na “aparte ontwikkeling” begin lyk (en vir baie mense lyk AfriForum se gedrag soos “aparte ontwikkeling”), gaan baie van ons se walgings-sensors af.

Dit gebeur want die aparte ontwikkeling wat apartheid voorafgegaan het en wat deur apartheid meegebring is, is een van die grootste politieke ongeregtighede van ons tyd. As mense met ’n geheue van apartheid het ons geleer dat die trauma van só ’n regime nooit weer mag bestaan nie. Gevolglik wys ons met die emosie van walging dat aparte ontwikkeling nie geduld sal word nie. Met sigbare walging bevestig ons ook aan ander dat ons só ’n ideologie nie ondersteun nie.

Walging is soos ’n brandwag of bewaker by ons lippe.

Om walging soos hierdie beter te verstaan is dit die moeite werd om te kyk na die werk van Jonathan Haidt – `’n vooraanstaande walgingsnavorser van ons tyd.

Soos wat die mensdom ontwikkel het, het ons stelselmatig geleer wat ons in ons liggame kan inneem (watter kosse ons byvoorbeeld kan eet), en wat ons eerder nie moet inneem nie (want dit is ongesond vir ons). In ons kulture het ons dus oor jare heen geleer wanneer ons walging moet ervaar.

Walging is soos ’n brandwag of bewaker by ons lippe. Die oomblik wat ’n mens iets probeer inneem wat jy eerder nie moet eet nie (want dit is dalk vrot of toksies), is die kanse goed dat jou opgooi-refleks gaan inskop sodat jy die slegte ding nie kan insluk nie.

Walging bevestig waar ’n mens se grense is. Walging is ’n grens-bewaker.

Die voordele van walging is dus duidelik. Dit skep ’n maatskaplike en morele orde waarin ons as mense moontlik kan floreer.

As ’n kreatiewe en kulturele spesie is ons beliggaamde ervaring in die vorm van walging ook `n maatstaf vir die meer algemene morele ordes wat ons skep. Terwyl woede, byvoorbeeld, daartoe lei dat ’n mens ’n oortreder wil straf of geweld teen iemand wil gebruik, lei walging daartoe dat ’n mens jouself en ander soos jy wil afsluit en afsonder om “die kieme nie in te neem nie”. Op hierdie wyse is slegte idees (soos `n indruk van aparte ontwikkeling) ook soos kieme waarvan ’n mens jouself wil afsonder. Slegte idees is ’n bedreiging en Haidt noem spesifiek hier hoe ’n mens jou kinders teen so `n bedreiging wil beskerm: “We use disgust and we are afraid that (bad ideas) are going to contaminate our children.”

Die voordele van walging is dus duidelik. Dit skep ’n maatskaplike en morele orde waarin ons as mense moontlik kan floreer.

Dit is ook wel ons taak om ondersoek in te stel as ons walging weens politieke idees ervaar. Is só ’n sterk emosionele reaksie regtig gegrond op ’n verteenwoordigende waarheid?

Weerhou jou walging jou nie dalk daarvan om – tot jou en jou kinders se nadeel – ’n groter prentjie nie raak te sien nie?

Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.

Meer oor:  Alida Kok  |  Menings  |  Gemeenskappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.