Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
‘Wanneer die heuwel ’n berg word’

Natuurlik was sy stupid om in die fleur van haar loopbaan haar tyd op vingerverf, lemoendrukwerk, Dr. Seuss, Lego en boomklim te verspil, maar sy sal die liggroen jare saam met haar spruite vir niks verruil nie, skryf Carina Stander.

Carina Stander

Op Ilan se vyfde verjaardag het hy in ’n filosofiese luim opgemerk: “Mamma kom by Pappa se skouer. Aden kom by Mamma se skouer. Ek kom by Aden se skouer. Ons almal kom by mekaar se skouers.

“Pappa is ’n groot berg. Mamma is ’n gemiddelde berg. Aden is ’n groot heuwel. En ek is ’n klein heuweltjie wat besig is om ’n berg te word. ’n Berg is nie beter as ’n heuwel nie. ’n Heuwel is net ’n berg wat jonk is.”

Nou is dit al ’n jaar later. En my heuwel-wat-’n-berg-word, gaan Woensdag graad O toe.

Ilan was net drie oggende per week in ’n kleuterklas, die res van die tyd was hy by my. Op sulke dae het ons soms saam uit die kinderkookboeke gebak, legkaarte en blokkies gebou, albaster gespeel, geskoppelmaai, geverf, stapels stories gelees en dikwels saam in die tuin gewoel. Ek het gesaai, blomme verplant, rankers teruggebind en gesnoei terwyl my seuntjieskind saam met sy kat boomklim. Hy het gespeel dat ek ’n meermin is wat hy uit ’n akwarium red of dat ons ’n eiland bewoon waar hy vir my liederlike geregte voer – walvisoë, slakbiltong, krakentande en seekatbrein wat ek met uiterste diplomasie van die hand moes wys.

Partykeer het ons nuwe bordspeletjies ontwerp (dobbelstene is hoeka goed vir somme maak). In die namiddae het ons hele gesin saam ’n berg uitgeklim of met die lyfplanke deur die branders geduik totdat die skemerlug ’n diep pers was en die seeswaeltjies hul sit vir die aand kry.

Want wanneer my wakker rakker by die huis was, het ek nie eens probeer om in stilte te skryf nie. Al die skryfwerk moes maar gebeur in die 15 uur per week wanneer hy by die kleuterklas was en dan weer saans wanneer hy slaap.

Feminisme, het sy my geleer, gaan daaroor dat ’n vrou teen die verwagtinge en modes van haar tyd in besluit om te leef soos sy wil.

Teen agtuur saans, met die kroos in die kooi, sou ek en Gerrit ’n glas rooiwyn skink en dan het my eintlike werkskof begin. Voor middernag was ek uit soos ’n kers, maar baie dikwels teen 03:00 weer aan die tik.

Slaap ’n paar ure. Tik-tik-tik.

Met dié ritme kon ek in die dekade van kinders-onder-my-vlerk darem ’n gerf van 200 artikels, vier boeke en drie kunsuitstallings pleeg, maar dit was alles baie stadiger as wat ek wou, met ’n horde werkopdragte wat ek van die hand moes wys en met bitter min slaap in my lyf.

Ironies genoeg is een van die mense wat my die meeste aangemoedig het om die mawees-ding op my eie voorwaardes te doen, ’n kinderlose gay vriendin met ’n doktorsgraad in genderstudies. Feminisme, het sy my geleer, gaan daaroor dat ’n vrou teen die verwagtinge en modes van haar tyd in besluit om te leef soos sy wil. Om al hierdie jare by die seuns te wees was geheel en al my eie, eiesinnige, stroomop besluit.

Natuurlik kon ons dit nottehel bekostig en moes ons vele luukses opoffer. Natuurlik was ek stupid om in die fleur van my loopbaan my tyd op vingerverf, lemoendrukwerk, Dr. Seuss, Lego en boomklim te verspil. Natuurlik het ek dikwels gebrand om in ononderbroke sinne te kon skryf of soos ’n bliksemstraal te teken.

Natuurlik sal ek hierdie liggroen jare saam met my spruite vir g’n geld of goeie woorde verruil nie. Want eendag as ek verkreukeld en kieriekrom in die tuin sit, gaan ek ’n oggend onthou toe my kleuter geskaterlag het toe hy verfkwas in die hand besef het dat ’n sappige, Ingelse orange so wraggieswaar ook die kleur orange is.

Dié week breek ’n nuwe seisoen vir my aan. Vir die eerste keer in nege jaar gaan ek meer as skraapseltjies skryftyd hê, want nou gaan my jongste kind vir vyf oggende per week skool toe.

Ek gaan my amper-sesjarige heuweltjie by sy graad O-klas aflaai. Ek gaan swaar sluk aan die knop in my keel wanneer hy die groot skool binnestap – ’n skaduwee wat veels te lank, veels te vinnig agter hom uitgroei.

* Carina Stander is ’n visuele kunstenaar, reisjoernalis en die skrywer van twee digbundels, ’n roman en ’n kinderboek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.