Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wanneer die saadjies van maniere begin blom

Om vir seunskinders manierlikheid te probeer leer, voel dikwels soos om vir ’n apie klere aan te trek, skryf Carina Stander.

Carina Stander

Laat daar nie eendag gesê word dat ek versuim het om ’n titsel finesse by die manne onder my dak in te dril nie. Aan ontbyttafel loof ek opnuut ’n beloning vir etiket uit: sodra die son vandag ondergaan, sal ek ieder mansmens in my huis vir roomys stiek, mits:

* Kleuter Ilan dit kan regkry om vir ’n 12 uur lank nie sy bord uit te lek nie, nie die toilet mis te piepie of op sy boetie te nies nie.

* Laerskoolkind Aden daarin kan slaag om nie ’n enkele gebrom of belediging vir sy boetie toe te snou nie en sy eie appel met ’n toe mond te kou.

So ja, al die voorwaardes vir roomys-beloning is duidelik uitgestippel en algar stem saam dat dit ’n blink plan is op die warm Vrydag.

Skaars klim ons in die kar, netjies betyds vir skool, of ek gewaar uit die hoek van my oog hoe Ilan vir Aden met “vuur” spoeg en Aden iets afgryslik grom terwyl die vader des huis die spul tot orde roep met ’n burp soos ’n bees. Nodeloos om te sê is die spul sonder roomys bed toe.

More is ’n nuwe dag. Of oormore, volgende maand, volgende jaar. Want wanneer mens dit die minste verwag, beginne die saadjies wat jy jare lank hoopvol gestrooi het op onverwagse plekke te blom. Om sesuur op ’n doodgewone Donderdagoggend die sitkamer binne te stap en daar wag die verrassing op jou: Ontbytpap met amandels, sonneblomsaad, jogurt en ’n titseltjie heuning – geskep in die gesin se gunsteling-papbakkies. Oggendkoffie, presies soos jy en jou man daarvan hou. Die kombuis opgeruim, alles weggepak.

As dit waar is dat karakter in hierdie vroeë lewensjare vasgelê word, dan voel ek tog om ’n dansie te dans oor die sorgsame manne wat die outjies so in die stilligheid besig is om te word.

Aden (toe agt jaar oud) vertel dit het hom ’n halfuur gevat om dié groot bederf reg te kry, waarna hy op eie inisiatief die katte kos gegee het. Hy moes ’n stoel nader sleep om die koffiebekers te kon bykom, die ketel in die donkerte van die onderste verdieping gaan haal, op sy tone sluip om ons nie wakker te maak nie. Dis nie asof ons geskimp het hiervoor of hom betaal vir huistakies nie. Daarom wonder ek hardop: Genade, my kind, waarom doen jy soveel moeite? . . .

“Ek’t sommer gedink julle het nou hard genoeg gewerk vir my, nou wil ek bietjie vir julle werk,” het hy laat hoor, in sy noppies met sy liefdesdaad.

’n Week later sien ons een oggend hoe ons (toe vyfjarige) karnallie soos ’n muishondjie van kamer tot kamer skarrel. Hy het besluit om ons hele gesin se beddens voor skool op te maak. Uit sy eie. Kussings uitgepof, plooie uitgestryk. Sommer sy verrassing aan ons. En nee, hy vra ook geen vergoeding nie, dis net sy manier om ons te bederf soos wat sy boetie ons die vorige week met ontbyt bederf het. Want die liefde is mos om vryelik te gee en te ontvang; te ontvang en te gee. En daardie soort uitruiling gebeur nie in ’n japtrap nie. Dit loop ’n lang, lang pad.

Ek bieg: om vir seunskinders manierlikheid te probeer leer, voel dikwels soos om vir ’n apie klere aan te trek. Etiket is belangrik, natuurlik, maar karakter is blywender.

As dit waar is dat karakter in hierdie vroeë lewensjare vasgelê word, dan voel ek tog om ’n dansie te dans oor die sorgsame manne wat die outjies so in die stilligheid besig is om te word.

* Stander is ’n visuele kunstenaar, vryskutjoernalis en skrywer van twee digbundels en twee romans. Haar nuutste roman, Die Bergengel, het by Protea Boekhuis verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.