Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wanneer dit tyd is om siel skoon te maak
Annemarie van der Walt

Dit begin iewers agter die krop op ’n mens se maag, sak af tot in jou bene en klim terselfdertyd tot in die diepste hartkamers – daardie veg- of vlugreaksie wanneer iets onverhoeds en slegs oor jou pad kom.

Wanneer dit met my gebeur, moet ek summier aan die beweeg kom. Of ek veg of vlug weet ek nie so lekker nie, want albei laat my ewe kortasem.

Maar synde die dae in die verre verskiet is dat ek tekkies aangetrek en kilometers ver gehardloop het, begin ek deesdae skoonmaak.

En dis dan wanneer ’n mens weer jou huis intiem leer ken, daardie ruimte wat jy meestal met groot dankbaarheid aan die huiswerker oorlaat en meestal maak asof jy nie spinnerakke agter die blindings en geitjiemis teen die mure sien nie.

Dit ontgaan my nie dat daar iets Jungiaans aan dié doenery is nie; ’n skoonmakery van die siel, as’t ware.

Miskien is dit waarom meestal in die klerekaste begin word, ek my êrens in die middel van die nag in die spens bevind en voordag gewoonlik in die werkkamer eindig. En eindelik, moeg en gelate en wanneer die son oor die bergkim klouter, sal ek tuin toe stap om die dag te sien breek.

Dit ontgaan my nie dat daar iets Jungiaans aan dié doenery is nie; ’n skoonmakery van die siel, as’t ware.

Die wegspring is byna koorsagtig, asof uit woede of vrees – dit lê tog so na aan mekaar – en alles word van rakke afgesmyt en op bondels gegooi.

Wat het my besiel om dié te koop, wie was ek toe ek dát gedra het, wanneer laas het ek dít aan my lyf gevoel?

In die bedkassies is ou gunstelingboeke wat ek gedag het verlore is, ’n radio wat nooit weer sal werk nie, ou tydskrifte wat om die een of ander duistere rede bewaar is.

Drie, vier verslete notaboeke waarin ander nagte se duister gedagtes opgeteken is, beland in die kaggelvuur.

Kyk, hier is die klein Psalmboek waaruit as kind gesing is

Dit is nie die tyd om terug te lees op vroeëre verlangens nie.

Langsaam syfer die angstigheid weg, en is dit asof die huis se engte óópmaak, toegee, meegee, en suutjies met klein skatte troos aanbied. Kyk, hier is die klein Psalmboek waaruit as kind gesing is, ’n brief van ’n hartsvriendin, ’n koevert met kaartjies van die kinders.

Met elke vonds van iets wat so diep weggebêre was dat ek vir wie weet hoe lank nie my hand daarop kon lê nie, is dit asof geliefdes die een ná die ander geruisloos en in gelid saam met my deur my huis beweeg.

Daar sal ’n tydstip wees wat ek voor die boekrak gaan staan en soek na die dun boekie met die heilige Johannes van die Kruis se 16de eeuse gedig oor die donker nag van die siel: “All in the dark went right, down secret steps, disguised in other clothes [ . . .] in dark when no one knows, when all my house lay long in deep repose.”

Soms moet ’n mens nie veg of vlug nie; net maar in die hoeke van die nag skoonmaak sodat jy hopelik, ten laaste, in die Tuin beland.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Skoonmaak  |  Siel  |  Huisskoonmaak  |  Menings  |  Huis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.