Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Kry speel-speel jou kind se skryfhand aan die skryf

Daar’s iets wat haar hart laat gloei en dis werksetiek. Carina Stander skryf skoolwerk is ’n eerste ervaring in werksetiek. 

Carina Stander

Kind grootmaak is mos maar soos boerdery: ’n Mens weet nie aldag in watter seisoen jou spruite gaan vrug dra of watter sade deur die kraaie opgepik gaan word nie. Dit bly ’n daad van liefde, dié ding van kind grootmaak.

Toe ons negejarige ’n paar jaar gelede as ’n haasbek graadeentjie ingeskryf is by ’n oulike skool waar die seemeeue pouses die kinders se toebroodjies gaps, was ons twyfel oor hoofstroomonderrig gou na die maan.

Hy had lekker speelmaats en ’n slimme juffrou wat agtergekom het sy propriosepsie (die wisselwerking tussen die brein en spierstelsel wat inligting aan mekaar oordra) ontwikkel stadig. Dit het veroorsaak dat sy skryfhand vinnig moeg raak en hy nie lekker kon bal vang nie. ’n Arbeidsterapeut wat in kinders spesialiseer het hom deurgekyk en (om ons die ontsaglike terapiegelde te spaar) het sy ’n rits tuisspeletjies uitgewerk wat kernspiere versterk.

Gerrit, die ster-pa, was die energie agter dié speletjies: ’n halfuur elke dag het ons hele gesin saam die “speletjiesdokter” se oefeninge gedoen: boontjiesakkies gevang, tegelykertyd met twee hande geteken, blindemol gespeel, gekruiwaloop. Elke ses weke het ons weer ’n draai by die terapeut gemaak, sodat sy die vordering kon dophou en nuwe speletjies uitdeel. ’n Halwe jaar lank.

Wat eers ’n hengse hindernis was – om ’n potlood vas te hou sonder dat sy hand in jellie verander – is so speel-speel oorkom en ons kind is beloon met ’n puik rapport en die plesier om saam met sy maats te kan bal vang. Ditsem!

Hy moet sy eie drome droom

Iets waarin ek en Gerrit glo, is dat kinders nie vir elke ditjie en datjie beloon hoef te word nie. Om jou bed op te maak, jou kouse in bolletjies te rol, jou handdoek op te hang, jou kat te voer en al jou speelgoed self te bêre, is deel van die gewone gesinslewe – daarvoor kry jy net mooi woorde en ’n drukkie. Niks ekstra nie.

Daar nie ’n sweempie kompeterende ek-wil-my-klasmaatjies-wen gemors by die kind nie

Skoolwerk is egter iets heel anders. Dis werk, ’n eerste ervaring in werksetiek. As ons grootmense beloon word vir goeie werksetiek, mag kinders seker ook beloon word? Van graad R af het ons vir Aden aangemoedig om aan die begin van elke kwartaal vir homself ’n doelwit te stel en ’n beloning te kies. Dis vir ons belangrik dat hy sy eie drome droom – ons gaan beslis nie vir hom vertel waarvoor hy moet mik nie. Daar is géén prestasiedruk nie. (Ons vertel gereeld vir hom dat inkleur my vrotste punt in graad 1 was en ek later ’n honneursgraad in Beeldende Kuns behaal het, terwyl sy pa byna graad 2 se somme gepluk het, maar op universiteit was wiskunde sy topvak.)

Daar nie ’n sweempie kompeterende ek-wil-my-klasmaatjies-wen gemors by die kind nie; ons is erg in ons noppies met hoe hy homself ken, hoe realisties sy drome is en watter oulike pryse hy uitdink. In graad 1 wou hy sy Engels verbeter en die skaakstel waarvoor hy gewens het, het hy gekry. (Hy en sy pa speel steeds byna elke dag ’n potjie!) ’n Ander keer wou hy probeer om vir ’n kwartaal lank in die groen te wees op sy juffrou se “gehoorsaamheidsrobot”, ’n reuse-uitdaging vir ’n outjie wat mal is oor gesels en rondhol.

Op eie stoom het hy naslaanboeke uitgepak en 36 diere wat in die Kongo voorkom, uit klei gemaak

Maar hy kon homself inhou wanneer hy gedink het aan die Monopoly-stel wat hy begeer – uiteindelik was hy toe sommer daai hele jaar in die groen! In graad 2 wou hy volpunte vir wiskunde hê, en daarvoor het hy die sokkerbal gekry wat hy so graag wou hê. Toe het hy gehoop dat sy rapport presies dieselfde sal bly, waarvoor hy ’n 1 000-stuk-dinosouruslegkaart in 3D gekies het. Die soet vrug van getroue werk en speel.

’n Daad van liefde

Hy was sewe jaar oud toe hy op ’n dag vir ure aaneen in sy kamer verdwyn en teen die middag was daar die heerlike onthulling: Op eie stoom het hy naslaanboeke uitgepak en 36 diere wat in die Kongo voorkom, uit klei gemaak. Okapi, woudolifant, sjimpansee, kuifkoploerie en ’n boomslang uit ’n naslaanboek uit . . . ’n Vadersdagverrassing vir sy pa.

Buiten dat kuns vir hom ’n daad van liefde is, is daar iets anders wat my hart laat gloei: werksetiek. Wanneer jy vir jouself ’n haalbare mikpunt stel en rustig dog doelgerig daaraan woeker, op eie stoom en met ’n lied in jou hart, word die vreugde van voltooiing jou heel grootste beloning.

Dis ’n eienskap wat ek elke skeppende mens toewens.

* Carina Stander is ’n visuele kunstenaar, reisjoernalis en die skrywer van twee digbundels, ’n roman en ’n kinderboek. Haar tweede roman Die bergengel verskyn in Mei 2017.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.