Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Ware geestelike herlewing in SA broodnodig

Staatskaping was nie die ergste skade wat aan ons land gedoen is in die Zuma-era nie. Uiteraard is staatskaping verskriklik, veral omdat kritiek belangrike bronne misbruik en van armes gesteel is en in die sakke van gierigaards beland het. Noodsaaklike gemeenskapsdienste is nie gelewer nie. Politici is verryk.

Reggie Nel

Wat veral verskriklik is, is die diep letsel wat dit op jong mense laat. Onlangs is daarop gewys dat tussen 2018 en 2019 die persentasie jong mense tussen 15 en 24 jaar wat nie onderrig ontvang of enige werk het nie, met 2,1% tot 3,4 miljoen gestyg het. Baie van hierdie jong mense is betrokke by die een of ander oorlewingstrategie, selfs misdaad.

Dit sal sekerlik een van die hoogste prioriteite vir pres. Cyril Ramaphosa en sy regering wees om onderwysgeleenthede en werkskepping vir hierdie jong mense ’n werklikheid te maak.

En ja, ons almal sal sy hand moet sterk om hierdie droom ’n werklikheid te maak.

Maar selfs dit is nie die ergste skade wat aan ons land – en ons land se jong mense –gedoen is nie.

Die ergste skade is op ’n geestelike vlak. Die nalatenskap van Madiba en aartsbiskop Desmond Tutu was diep geestelik. Hul stryd om geregtigheid is nie gedryf deur die soeke na mag en persoonlike verryking nie; hulle het iets beliggaam van hoop vir ware vryheid. Die onsigbare (geestelike) het mens geword. Hier tussen ons.

Hulle was menslik soos almal van ons – feilbaar en broos, en tog het ons in hulle iets beleef en gesien hoe dieper waardes soos versoening, geregtigheid, hoop en medemenslikheid (ubuntu) lyk, hoe dit kan lyk tussen ons en dat die onmoontlike wel moontlik is. Ons het weer geglo.

In die laaste dekade of so is hierdie geestelike geheim van ons menswees egter op ’n verskriklik bedenklike wyse verkwansel. Ons het dit onlangs weer in die verkiesingstryd gesien – hoe politici dit misbruik, bloot as ’n goedkoop middel tot ’n bedenklike doel. Ek wil nie weer verder teruggaan in ons dieper donker verlede nie. Dis dieselfde storie.

Skeptisisme en materialisme is die gevolg van ’n diep geestelike armoede.

En dan, toe ek onlangs kyk hoedat openbare figure en politici in raadsale openlik hul geloof verklaar en dit ook uitleef, dan is daar die tikkie hoop wat opvlam. Maar kom ons wees eerlik, dan wonder ons soms tog hier diep in ons hart – is dit eg? Is dit gepas?

Om die geestelike dimensie van ’n nuwe verbeeldingryke era vir ons land te ontsluit gaan nie maklik wees nie. Dit is egter noodsaaklik.

Ons moet weer kan glo en sien dat die onmoontlike wel kan gebeur – tussen mense, in ons gemeenskappe, in ons ekonomie – ter wille van volgende generasies. Skeptisisme en materialisme is die gevolg van ’n diep geestelike armoede.

Om die droom van ’n nierassige, nieseksistiese en volhoubare Suid-Afrika te bou, saam met nuwe generasies, sal ons egter weer iets van ’n ware geestelike herlewing moet beleef.

  • Prof. Nel is dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Staatskaping  |  Skade
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.