Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wat gebeur as Zuma loop?

Gelowiges moet dit met protesoptrede teen pres. Jacob Zuma duidelik maak dat hulle nie net téén iets is nie. Hulle moet ook met alternatiewe vorendag kom en kan nie weer die land se armes in die steek laat nie, skryf Nico Botha.

’n Deel van die skare wat vroeër vandeesmaand na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om pres. Jacob Zuma se bedanking te eis. Foto: Felix Dlangamandla

Met die optog na die Uniegebou op Vrydag 7 April is predikante en pastore versoek om vooraf by St. Albans-katedraal in Pretoria byeen te kom.

Met togas in verskillende kleure het ’n groterige groepie geestelikes daar opgedaag en hul eie klein optoggie gehou van die katedraal na Kerkplein om hulle daar by ander belanghebbendes vir die groot optog Uniegebou toe aan te sluit.

Sommige het onwillekeurig teruggedink aan die stryd teen apartheid toe geestelikes ook met gewaad en al aan betogings deelgeneem het. Die vraag wat geestelikes en gelowiges in kerke en moskees sal moet beantwoord, is waarom hulle aan hierdie optogte deelneem. Op die oog af lyk dit asof die agenda redelik eenvoudig en duidelik is: Jacob Zuma moet gedwing word om as president van Suid-Afrika terug te staan.

’n Mens sou verder kon sê dat dit ’n manier is om weerstand teen ernstige vorms van korrupsie en staatskaping te bied. Selfs net ’n oppervlakkige lees en begrip van die heilige boeke regverdig al die optrede van godsdienstige groepe.

Maar hoe vermy godsdienstiges die fout wat in die stryd teen apartheid begaan is deur te dink dat dit slegs gaan oor om téén iets of iemand te wees sonder om ook na te dink oor wat daarna moet gebeur? In alle redelikheid teenoor godsdienstiges moet ’n mens miskien darem noem dat daar weliswaar ’n droom gekoester is oor hoe nierassig of nierassisties, nieseksisties, demokraties, vry en voorspoedig die nuwe samelewing moes wees.

Maar ondemokratiese praktyke, patronaatskapsnetwerke, selfverryking, magswellus en magsmisbruik het die droom verydel. Daarom kan daar geen kompromie wees oor wie nou moet terugstaan en watter wanpraktyke wat ernstige gevolge vir die ekonomie inhou, gestuit moet word nie. Die vraag wat geloofsgemeenskappe egter sal moet beantwoord, is wat as die onwaarskynlike wel gebeur en Zuma bedank of word deur sy party herroep.

Keer geloofsgemeenskappe dan soos ná 1994 weer rustig terug na hul eie sake of is daar ’n ander agenda wat wag? Hoop die geloofsgemeenskappe met ander woorde op ’n normalisering van die situasie sodra Zuma van die toneel verdwyn, of benut hulle die kans tot herbesinning oor die rol van die godsdiens in die samelewing?

Te oordeel na die Paasboodskap van aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk is daar ’n paar dinge wat deur veral die Kerk in ’n tydperk van kreatiewe spanning bymekaargehou behoort te word.

Eerstens, as jy met ’n korrupte regime gekonfronteer word, bied soveel moontlik geweldlose weerstand.

Die kerk is nie 'n soort ambulansdiens nie.

Tweedens, dring aan op ’n nasionale dialoog oor grondhervorming en; derdens moet daarom nie weer die armes in die steek laat nie, maar bepleit ’n indringende gesprek oor groter gelykheid in die land.

Hoe hierdie gesprekke presies moet gebeur en wie met wie moet gesels, is ’n komplekse saak. Maar wat allereers vereis word, is ’n verandering in mentaliteit wat dit duidelik maak dat dinge in die land nie dieselfde bly nie. Ons kan ook nie vir ewig toi-toi en optogte hou asof dit die wesenlike aard is van die dinge waarmee ons onsself besig moet hou nie. ’n Mens sou selfs kon sê dat die Kerk nie soseer geroep is om ’n gebroke samelewing te herstel nie, maar eerder om ’n nuwe samelewing te help skep.

Die Kerk is nie ’n soort ambulansdiens wat die sirene aanskakel en homself na die ongelukstoneel haas wanneer dinge skeefloop nie, maar hy moet ’n goeie en gesonde samelewing daarstel as medeskeppers van God self.

Om dus vir ’n oomblik terug te keer na die téén-metafoor: ’n Mens sou ook kon praat van die néé-metafoor. Ons roeping is nie net om téén iets of iemand te wees of net néé te sê nie, maar om ook ’n duidelike profetiese en praktiese já vir ’n gelyker en regverdiger samelewing te laat hoor.

Jesus Christus is God se ondubbelsinnige já vir die wêreld en daarom is dit uiters betekenisvol dat die opstande in die land juis rondom Paasfees gebeur.

Die kruisiging en opstanding van Jesus Christus is ryk aan betekenis vir mense se lewens.

Te midde van onstuimigheid en onsekerheid bied dit die hoop dat die klippe in ons pad na ’n vreedsame samelewing uiteindelik weggerol sal word; al lyk dit asof dinge tot gekkerny verval het.

* Prof. Botha is verbonde aan die departement teologie aan Unisa en ’n tentmaker-leraar in die VGK.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.