Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wat het rugby-ondersteuning met etiek te make?

Met die Wêreldbeker-rugbytoernooi wat ten einde loop, kan ’n mens terugkyk op heelwat wat geskryf is oor die spelers, die spanne, die afrigters, die skeidsregters, asook insidente op en af van die veld af.

Maar sulke sportgeleenthede bied ook die geleentheid om na te dink oor wat dit beteken om ’n (goeie) ondersteuner te wees. Hoe, sou ons kon vra, speel etiek mee as dit by die ondersteuning van ’n rugbyspan kom?

In die lig van dié vraag, wat toegegee, waarskynlik nie tans vir die meeste rugbykykers vooropstaan nie, is Nicholas Dixon se invloedryke artikel “The ethics of supporting sports teams” (2001) interessante leesstof.

Hierin bespreek Dixon twee moontlike kategorieë ondersteuners wat hy onderskeidelik“die partydige” en “die puris” noem. Die “partydige” ondersteuner is ongekwalifiseerd lojaal aan ’n span met wie daar ’n persoonlike verbintenis of ’n geskiedenis van ondersteuning deur dik en dun is – dikwels met ’n gepaardgaande blindheid vir die span se gebreke. Die “puris”, daarteenoor, is meer neutraal. Die span wat die hoogste waardes en voortreflikhede van die betrokke sportsoort op ’n gegewe moment beliggaam, word ondersteun.

Dixon wys daarop dat die puris met die eerste oogopslag die morele gesagsposisie inneem. Leer ons dan nie ons kinders dat dit oor ’n liefde vir die spel gaan, en nie daaroor om tot elke prys te wen nie?

Tog voeg Dixon hieraan toe dat hoewel die partydige ondersteuner se provinsialistiese houding dikwels moreel verdag is omdat die wyse waarop ’n oorwinning behaal word nie ter sake is nie, daar ook iets lofwaardig daaraan is om ’n span deur goeie en slegte tye onvoorwaardelik te ondersteun.

Dit is soortgelyk aan romantiese liefde, waar die verhouding begin met die waardering van die ander se goeie eienskappe, maar waar ons later die ander lief het vir wie die persoon is, met swakhede en al.

Daarom argumenteer Dixon dat die ideale ondersteuner die sterk punte van beide tipe ondersteuners behou. Hy praat in diéverband van die “moderate partisan fan”.

Dit is natuurlike ’n vraag hoeveel van ons daarin slaag om so ’n mengsel van gesonde lojaliteit en kritiese afstand aan die dag te lê as dit by die ondersteuning van ’n sportspan kom.

Maar dit is wel goed om te onthou dat daar ’n element van waarheid is in die gedagte dat hóé ons sportspanne ondersteun ’n weerspieëling kan bied én as leerskool kan dien vir die karakter van ons ander lojaliteite en verbintenisse – ook aan die kulturele en godsdienstige gemeenskappe waarvan ons deel is. – RRV

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.