Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wat om te skryf . . . en wat nie

Lesers besef nie altyd dat ’n rubriek nie sommer net uit die niet opgetower kan word nie, skryf Willem Fransman jr.

Willem Fransman jr.

Ek loop my dikwels in skoolvriende of bekendes vas wat met my ’n praatjie oor my rubrieke aanknoop.

Maak nie saak of dit nou in ’n supermark of selfs tydens ’n wedloop is nie.

Hulle sal my in geen onseker taal laat verstaan of hulle daarvan gehou het of nie. Of dat ek dalk hierdie of daardie invalshoek kon gebruik het.

So sal Eddie King, ’n hardloopmaat, my gereeld verseker dat hy my rubrieke getrou lees en dan by sy vriende spog dat ons mede-atlete is.

Soms komplimenteer hy my oor my navorsing.

Dit het my laat besef dat lesers dalk die felste kritici kan wees. Hulle is nie onnosel nie en daarom moet jy hulle nooit onderskat nie.

Dit is egter so dat lesers nie altyd besef dat ’n mens dikwels enkele dae voor jou spertyd nie ’n idee het waaroor om te skryf nie. Daar is idees, ja, maar dis net asof jy die heeltyd vir jouself sê: “Dit gaan nie werk nie.”

Jy tik so 50 of ’n bietjie meer woorde, en dan delete jy maar weer. Ter versagting moet ek darem sê dat ek nóóit, maar nóóit, pogings van my sommer delete nie.

Hulle lê maar op my rekenaar se hardeskyf en sommige het wel al volwaardige artikels geword.

Die geheim is seker maar om voortdurend ’n paar kritieke vrae aan jouself te stel. Die belangrikste is natuurlik: “Wat wil my lesers hê?” Of “Wat sal die redakteur tevrede hou?”

Tussen dié twee pole moet jy ’n goue middeweg soek en soms Salomo se wysheid aan die dag lê.

En wanneer die rubriek klaar geskryf is, moet jy weer krities daarna kyk.

En die belangrikste van alles is dat rubriekskrywers nooit moet nalaat om ietsie van hulself aan hul lesers deur te gee nie.

Byvoorbeeld: Is dit interessant genoeg? Sal hulle nie al met die lees van die eerste sin na die volgende artikel oorslaan nie? Is die onderwerp van so ’n aard dat daar tog mense sal wees wat dit prikkelend genoeg sal vind om enduit te lees én dalk by ander aan te beveel?

Daar is ’n klompie rubriekskrywers wat my inspireer. Vir die skryfwerk van Martie Meiring, Johann Maarman, Dana Snyman en enkele ander het ek ’n heilige respek.

’n Mens moet toesien dat jou artikel nooit te “kommin” is nie. Daar moet altyd iets leersaam daaruit kom.

En die belangrikste van alles is dat rubriekskrywers nooit moet nalaat om ietsie van hulself aan hul lesers deur te gee nie. Hulle wil weet of jy ook ’n gewone mens is. Skryf maar so een of twee keer per jaar oor jou eie kat of hond. Vertel hulle soms van jou pyn, plesier ensovoorts, maar darem nie elke week nie. Hulle soek soms ook universele onderwerpe.

Daar word vertel van ’n Britse rubriekskrywer wat keelkanker gehad het.

Hy was kwaad vir God wat toegelaat het dat hierdie 'ding' hom tref, dat die gevreesde 'K' in sy lyf kom nesskop het.

Hy het weke lank gesit en tob. Hy was kwaad vir God wat toegelaat het dat hierdie “ding” hom tref, dat die gevreesde “K” in sy lyf kom nesskop het.

Soos die spertyd vir sy maandelikse rubriek gevaarlik nader kom, bly die inspirasie weg.

Sy stryd met die siekte veroorsaak ook dat hy depressief raak.

Met spertyd op hom, besluit hy om oor die “ding” te skryf wat sy lewe oorgeneem het.

Hy vertel sy lesers van sy persoonlike wroeging. Terwyl sy vingers koorsagtig die een sin ná die ander uit die toetse van sy ou Remington-tikmasjien voortbring, tref dit hom dat hy soveel plesier uit sy skrywery put.

En hy verander net daar die trant van sy rubriek van “Waarom ék Here?” na “Waarom nié ek nie, Here?” Nodeloos om te sê, het hy nie net die simpatie van sy lesers gehad nie, maar ook hul bewondering.

Hy kon alles én almal raaksien. Niks het sy oplettende en alsiende oë ontgaan nie.

As kind het ek in die biblioteek geboer. Daar het ek eendag op die verhaal van die mitologiese Griekse god Argus afgekom.

Volgens oorlewering het Argus 100 oë regoor sy lyf gehad. Hy kon alles én almal raaksien. Niks het sy oplettende en alsiende oë ontgaan nie.

Dáárin, volgens my beskeie mening, behoort die hart en siel van joernalistiek te lê.

’n Rubriekskrywer moet iets van alles weet, maar nie alles van iets nie.

* Willem Fransman jr. is ’n skrywer en vryskutjoernalis.

Meer oor:  Rubrieke  |  Rubriekskrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.