Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Watter vondste wag dalk in die ondergrond?
Tom Dreyer

Die dag begin mooi vir ’n beendroë Boland, en belowend vir iemand wat opsien teen ’n stukkie tuinwerk.

Selfs voor die wekker se bohaai maak die reën my wakker, druppels wat hoog uit die bome tot op die olifantspore buite ons kamervenster plof.

Wanneer dit lig word, beweeg wolkslierte langs Stellenboschberg verby, in dieselfde rigting as ’n drietal hadedas wat hul klam neste verlaat om te gaan wei of kerjakker of doen wat ook al hadedas doen – iets waaroor hulle luidkeels en onverstaanbaar aan die wêreld verslag doen.

Tog voel dit asof ek hul mengsel van blydskap en mistroostigheid begryp: Ek is self bly oor die verrassende feit van lewendig wees, en triestig oor die ritse rekenaarkode wat ek vandag moet skryf.

Terwyl die hadedas klein raak in die rigting van Onder-Papegaaiberg, verrys daar vir my ook ’n baie spesifieke dimensie in hul roep: selfbejammering oor die opgeskote berkeboom wat by die agterdeur wag dat ek hom verplant. Kom wat wil, natuurlik afhangende van die weer.

Die verdekselse boom het uitbundige wortels, en hier gaan ernstig gegrawe moet word

Terwyl ek met my koffie by die venster staan, werk die reën voorlopig lieflik saam: diagonale hale wat die berg in ’n wit dynserigheid verhul. Maar teen laatoggend trek die hemel helaas oop, en ontneem my van my heel laaste sweempie verskoning.

Die verdekselse boom het uitbundige wortels, en hier gaan ernstig gegrawe moet word. Vir omtrent drie duim is die grond sag en toegeeflik, dan raak dit so hard my pik sidder en sing met elke slag. Dit skiet selfs klein vonkies, want tot hier aan die voet van die berg is die grond deurtrek met rivierklippe.

Al grawende dink ek hoe die Eersterivier deur die millennia sy loop verander het.

En wat anders skuil tartend net buite sig, iewers in dié tuin of buurt of dorp?

Omtrent twee voet laer stuit my pik op iets nuuts, iets wat ek versigtig uit die harde grond loswoel. Dis ’n geroeste stuk yster, so lank soos ’n liniaal, effens gedraai en met ’n ogie aan die een kant. Al wat ek met sekerheid kan sê, is dat dit mensgemaak is.

Dalk is dit deel van ’n perd se toom, of ’n antieke wa of vaatjie. Dalk is dit ’n stuk van ’n wasmasjien of die pedaalstang van ’n Morris Minor. Is dit sedert die sestigs hier begrawe, wonder ek, toe hierdie woonbuurt uitgelê is, of wag dit al vir dekades of selfs eeue langer hier? En wat anders skuil tartend net buite sig, iewers in dié tuin of buurt of dorp?

En nou kom daardie ou versugting weer by my op: om die middedorp in te vaar met ’n metaalverklikker en ’n hamerboor en ’n klein emmertjie vir al my skatte.

As ek maar net Stellenbosch se vloere en tuine en parkeerterreine kan oopbreek, soos ’n mens klip oopbreek op soek na fossiele, of met ’n koevoet ’n skatkis se slot afknak. Watter vondste wag in daardie ondergrond, donker met die vreugde en ellende van die eeue? Wat sal ek leer tussen klippe en gebeendere – riksdaalders, koeëls, kettings en ysters sonder naam?

Want hierdie is die eintlike kode: eeue se residu gekompakteer tot iets so alledaags ons vertrap dit onder ons voete.

Dis hierop waar die geboue staan en die reën val en waarbó die hadedas vlieg, immer skreeuend oor die dag se klein gebeurlikhede, maar ook, iewers in die naklank, oor alles wat al was of nog sal wees.

  • Dreyer is ’n bekroonde skrywer.
Meer oor:  Tom Dreyer  |  Boom  |  Sielsgoed  |  Herinneringe  |  Begrawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.