Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Wees ’n goeie rentmeester
Prof. Rantoa Letšosa

‘Mammon” kom van die Aramese “mamona”, wat verwys na enige rykdom – geld, vee, grond . . .

Baie mense beskou Mammon as ’n demoon of selfs duiwels. Dit is nie noodwendig so nie.

In Lukas 16:11 praat Jesus van die oneerlike Mammon. Die Griekse woordjie “adikos” in hierdie spesifieke konteks kan ook vertaal word met “wêrelds” en ’n mens kan dit ook lees as: As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike/wêreldse Mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?

Dit gaan hier nie oor goed wat op ’n oneerlike wyse bekom is nie. Dit gaan oor die verantwoordelike hantering van dít wat aan jou toevertrou word.

Ons is nie die eienaars van die wêreldse Mammon nie, maar ons moet goeie rentmeesters wees daarvan.

Jy moet vertrou kan word met die klein goedjies sodat jy meer vertrou kan word met die groter dinge.

Hierdie leer kom baie voor in die Nuwe Testament.

Ons word beskou as rentmeesters oor iemand anders se besittings en daarom is betroubaarheid uiters belangrik om nog meer vertrou te kan word met meer dinge.

Ons moet nou betroubaar wees met die wêreldse Mammon sodat God ons kan toevertrou met die hemelse rykdom.

Ons moet nou betroubaar wees met die wêreldse Mammon sodat God ons kan toevertrou met die hemelse rykdom.

Rentmeesterskap beteken nie om ’n slaaf te word van dít waaroor ons heerskappy moet voer nie. Ons kan nie God én Mammon aanbid nie. God wil dat ons eksklusief lojaal aan Hom moet wees, en nie aan Mammon nie. Mam­mon moet ons nie beheer nie. Ons moet Mammon beheer.

Dit is baie jammer dat ons in ’n tyd leef waarin rentmeesterskap nie meer as belangrik beskou word nie.

Baie mense tree verskriklik oneties op met wat aan hulle toevertrou word.

Sodra iemand ’n tender kry, sien hy of sy die geld onmiddellik as “my geld”: Ék het ’n tender gewen. Ék kan nou maar my eie deel kry en gebruik soos ek dit goed vind. Dit gebeur nou al oor jare. Ongelukkig is dit nie net die geval met tenders nie, maar ook in die private werkplek. Dikwels voel iemand wat met geld werk, daardie geld behoort aan hom of haar.

Dit was nie vir persoonlike verryking nie, maar tot voordeel van almal.

Ons lees baie in die koerant en hoor oor die nuus van geld wat toegeken word vir sekere projekte, maar wat verlore gaan en nie by die regte plekke uitkom nie. Dit is nie asof dit nie daar was nie, maar iemand het dit vir iets anders misbruik. Dit is nie goeie rentmeesterskap nie. Rentmeesterskap beteken dít wat toegeken word, moet by die regte plek uitkom, op die regte wyse gebruik word, en waar nodig met rente groei. Ek moenie verloor nie, maar ek moet rente verdien vir die eienaar. Dit moet vermeerder.

Dink maar aan Josef. Hy het nie sy eie sak volgemaak nie, maar het voorsorg getref dat daar vir almal vir die volgende sewe jaar van droogte genoeg sou wees.

Dit was nie vir persoonlike verryking nie, maar tot voordeel van almal. Daar moes genoeg kos wees en daarom met verantwoordelikheid omgegaan word.

Ek moenie selfsugtig wees en net aan my eie mense of vriende dink nie, maar aan die behoeftiges, die regte mense.

Die besit van Mammon is nie gelykstaande aan sonde nie. Wat egter belangrik is, is dat ek nie aan Mammon moet vashou en God vergeet nie. Ek moet Mammon gebruik om diensbaar in die Koninkryk te wees. Mammon moet my nie beheer en ek moet hom nie aanbid nie. God alleen moet oor my heers en Hom alleen moet ek aanbid.

Ons word almal aangestel as rentmeesters. Moet Mammon nie begrawe nie, maar gebruik hom tot voordeel.

Meer oor:  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.