Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sielsgoed
Weet jy altyd waarheen met die lewenspad?

As ’n gereelde reisiger het ek die voorreg om mense dop te hou in die oomblikke wanneer hulle nie weet dat enigiemand vir hulle kyk nie. Dis die oomblikke wanneer hulle dit nie nodig ag om maskers te dra om hulle teen die wêreld en hulself te beskerm nie. Wanneer hulle doodgewoon net mens kan wees.

Ek sien hoe vreemdes se gesigte in die aankomssaal ophelder wanneer hulle met ’n beminde herenig word. ’n Man wat sy vrou se bagasie uit haar hande neem en dit self verder karwei. ’n Verliefde wat effens op haar tone staan wanneer sy haar geliefde toeoog soen. ’n Gryskop wat geduldig op sy lewensmaat wag, en dan van voor af op haar verlief raak wanneer sy oplaas aangestap kom. Ek sien ’n kind wat na die ope arms van sy ouer aangehardloop kom. Almal het ’n storie wat hulle in hul binneste ronddra.

Dikwels daal daar egter ook ’n swarigheid oor my neer wanneer ek in die vertreksaal sien hoe geliefdes sukkel om mekaar te groet. Hoe hulle mekaar nie in die oë kan kyk nie. Hoe hulle net ’n oomblik langer aan mekaar probeer klou. Hoe hulle sukkel om die een ding te sê wat elkeen van ons die heel graagste wil hoor: “Ek het jou lief.”

Voor oorsese vlugte is die drukkies gewoonlik langer en die trane meer onbeheers. En in daardie oomblikke maak dit nie saak wie of wat rondom jou is nie, of dat enigiemand sien dat jy huil of uitbundig lag nie. Dis asof almal verstaan dat die sosiale norme vir emosionele uitdrukking nie op lughawens geld nie; dat ons in die knapste van ruimtes die meeste aan mekaar verbind is.

Soms wonder ek hardop oor alles wat tussen hallo en totsiens gebeur.

Soms wonder ek hardop oor alles wat tussen hallo en totsiens gebeur. En ek wonder of ander mense ook wonder oor wat in andere se koppe aangaan wanneer hulle na hul selfoon staar om oogkontak met vreemdelinge te probeer vermy. Ek wonder wat die gesprekke is wat mense met hulself voer wanneer hulle treetjie vir treetjie op lughawens vorentoe beweeg voordat hulle hulle eindelik in ’n vliegtuigsitplek vasgordel.

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek dat die lughawe en al sy mense elkeen van ons verteenwoordig – stadig maar seker op pad na ’n eindbestemming, waar dit ook al mag wees. Sommige van ons is altyd haastig en ongeduldig. Ander is weer altyd hartseer of reis dalk alleen met ’n tas vol onnodige items. ’n Koffer wat simbolies is van al die dinge wat ons eintlik op hierdie lewensreis behoort agter te laat om vorentoe te kan beweeg.

Toe, asof vir die eerste keer, kyk ek ook na my eie tas en al die bagasie waarmee ek reis. Dit is weliswaar al aansienlik ligter as ’n paar jaar gelede, maar bevat steeds ’n paar onnodige items wat ek in my kop en hart gebêre het. En ek kry ook terstond ’n nuwe perspektief op die reisigers wat saam met my die pad aandurf. Hartsmense, die meeste van hulle. Maar toe ek op die vliegtuig klim, kon ek nie help om te wonder waarheen ek werklik op pad is nie.

Meer oor:  Ivor Price  |  Reis  |  Herinneringe  |  Lewenspad  |  Kontinente  |  Reisiger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.