Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sonja Loots
Sonja Loots: Is Slim Wim dan eintlik Slinkse Wim?

Die Universiteit Stellenbosch se pasafgelope, veelbesproke konvokasievergadering is gehou nádat besluit is om Afrikaans as onderrigtaal in die regsfakulteit te skrap. Dít is konvokasielede egter nie vertel nie.

Met die ink reeds droog op gefinaliseerde planne om Afrikaanse lesings in dié en ander fakulteite te staak, het die rektor, prof. Wim de Villiers, sekere versekerings en waarborge gegee.

“Daar is ’n groot behoefte aan en vraag na Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch en daarom duur ons aanbod daarin voort,” het hy gesê.

“Die Universiteit Stellenbosch is verbind tot meertaligheid en daarom brei ons parallelmediumonderrig uit,’’ het hy bygevoeg.

Sy woorde was skaars koud toe sneuwel Afrikaans as onderrigtaal in die meeste fakulteite – moontlik álmal – in weerwil van die November-raadsbesluit dat Afrikaans ’n gelykwaardige onderrigtaal by Maties moet bly. Daarmee word die demokratiese proses waarvan die raadsbesluit deel was, bespotlik gemaak.

De Villiers het in sy konvokasietoespraak op ’n eerlike en oop gesprek aangedring. Op daardie noot wil ’n mens vra dat hy verduidelik hoe die versekerings in sy konvokasietoespraak klop met wat in werklikheid gebeur? Hoe eerlik was hy toe hy konvokasielede in die oë gekyk het, gewag het tot die kameras rol en verklaar het dat die universiteit verbind is tot meertaligheid en ’n volgehoue aanbod in Afrikaans? Hoe oop en deursigtig het hy gekommunikeer toe hy die konvokasielede nié vertel het wat in werklikheid op Afrikaanssprekende studente wag nie?

Dit is noodsaaklik dat De Villiers spoedeisend en helder uitstippel wat hy bedoel het. Dit sal jammer wees indien duisende oudstudente tot die gevolgtrekking moet kom dat hy willens en wetens vir hulle gejok het. Die versoeking sou dan groot wees om nie meer van Slim Wim te praat nie, maar eerder van Slinkse Wim of Wolhaarwim.

Dit sou die konvokasie laat met gronde vir diepe ongelukkigheid en moontlik selfs twyfel oor die rektor se integriteit.

Dit is onweerlegbaar dat Maties met die skrapping van Afrikaanse lesings openlik die gesag van sy eie uitvoerende liggaam minag. Dit beteken dat sekere belangrike besluitnemers, ondanks die bedrieglik sjarmante aanslag en kastige beroepe op eerlikheid, besig is om hulle soos rampokkers te gedra.

Teen hierdie agtergrond is dit bisar dat prof. Anton van Niekerk, een van De ­Villiers se getrouste hosannasingers, vandeesweek in Die Burger verwytende geluide maak oor die feit dat daar nou ’n hofstryd dreig. Sonder aarseling word die skuld vir wat aan’t gebeur is, op die skouers van die beswaarmakers gepak.

Dit is húlle, pleks van die korporatiewe kultuurvernielers, wat as agitators uitgebeeld word.

In hierdie omstandighede kan Slim Wim hom ongelukkig nie die luukse toe-eien om stilletjies in sy kantoor weg te kruip nie. Daar rus ’n verpligting op hom om verantwoording te doen oor presies waar hy staan.

Indien hy dit nie doen nie, is dit hý wat die oop gesprek waarvoor hy kastig pleit, nekomdraai. Dan is dit tyd om te erken dat daar geen sprake meer is van ’n taaldebat op Stellenbosch nie.

Tensy hy vinnig en met oortuigende blyke van integriteit optree, laat hy sy universiteit se studente, raad en konvokasie met ’n dialoog tussen doofstommes, pleks van ’n debat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.