Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Vorster en Botha: Laaste indrukke
In die druk by ’n dagblad om altyd ’n nuwe hoek vir ’n storie te kry, is daar dikwels wetenswaardige inligting wat nooit die bladsye van die koerant haal nie. Só het Wiets Beukes, die redakteur van Die Burger van 1978 tot 1989, onderhoude met van die land se voorste politici gevoer wat nou eers die lig sien.
Die destydse eerste minister, B.J. Vorster (regs), geniet ’n grappie met P.W. Botha, tóé nog die minister van verdediging, voor ’n kabinetsvergadering op 18 Januarie 1977. Botha het Vorster in 1978 as eerste minister opgevol
Wiets Beukes (regs), die redakteur van Die Burger van 1978 tot 1989, en P.W. Botha, die eerste minister van Suid-Afrika, in 1981.

Einde van die sewentigerjare en dwarsdeur die dekade van 1980 was ’n tydperk van storm en drang in die land se politiek en in die interne sake van die Nasionale Party.

Met die twee topmanne het ek waarskynlik hul laaste onderhoude gehad voor hul voortydige vaarwel. Hulle het nie vir publisiteit gepraat nie en die inhoud word nou vir die eerste keer openbaar gemaak.

Komiese tussenspel

Die skandaal oor die departement van inligting wat in die geheim staatsgeld gebruik het om die propagandablad The Citizen te stig en etlike ander on­reëlmatige projekte teen sanksies aan te pak, was gou ná my oorname as redakteur in 1978 op my lessenaar. In die beskuldigdebank het die verantwoordelike minister, dr. C.P. (Connie) Mulder, gewag om tot rekenskap geroep te word. En toe lei ’n onverwagte tussenspel tot ’n stukkie komiese vermaak.

Dr. Mulder het hom verweer deur te sê alles is in die landsbelang gedoen, en wanneer die voortbestaan van die land op die spel is, geld geen reëls nie. Die Burger het dit verwerp. “Geen saak, hoe buitengewoon of geheim ook al,” het hy op 6 November 1978 geskryf, “kan deur die skending van vertroue of ’n oneerlike gekonkel met die publiek of staat se geld gedien word nie.”

Toe ek daardie oggend op kantoor kom, wag die sekretaresse my met groot oë in: “Stellenbosch soek u. Herhaaldelik nou al.” Ek het gewonder wie mnr. Stellenbosch kan wees, want ek het die plek nie so goed geken nie – ek was immers van die universiteit in Bloemfontein en was die eerste nie-Matie ooit wat redakteur van Die Burger geword het.

Ek bel en ek kry ds. J.S. (Kosie) Gericke, ’n moderator aktief op die voorste kansels en hoog op in die ranke by ’n ivy-gehalte-universiteit. Hy val dadelik aan en sê hy soek my “al heel oggend”, waar was ek? (Vroeë bellers vergeet dat ek die vorige nag waarskynlik tot eenuur gewerk het.)

Hy sê die hele Stellenbosch soek my en ek kan bly wees ek verskyn nie daardie dag daar op straat nie. Hoe kan ek ’n stoere volksheld soos dr. Mulder so in Die Burger beswadder? Dis ’n skande.

“Ek moet jou sê ek loop vandag met my kop in skaamte gesak. As ek ’n bekende sien aankom, kruip ek om ’n hoekie weg. Ek kan hom nie in die oë kyk nie, só skaam ek my oor Die Burger. Ons het altyd gewonder wat van Die Burger gaan word toe ’n vreemde uit die noorde ingevoer is.”

Hy sê ek het ’n geliefde seun van die land ’n onreg aangedoen. Dis ’n oneervolle daad en hy glo dit sal tot die einde van my lewe by my spook.

Net die volgende dag het dr. Mulder as minister bedank en maande later ook as Volksraadslid. In April 1979 is hy uit die Nasionale Party geskors.

Ek het tot sy dood nie weer van ds. Kosie Gericke gehoor nie. Ook nie ná sy dood nie.

Nog 'n vyand 

Die inligtingskandaal het die strop ook al hoe stywer laat trek om die nek van die medeverantwoordelike eerste minister, adv. B.J. Vorster, reeds verskuif na die destyds tandelose amp van staatspresident, en op pad uit. Die draaipunt het vinnig nader gekom, en ek kry ’n boodskap die staatspresident wil my sien.

Ek het geweet dit was nie vir tee en koekies nie.

Toe die swyende amptenare wat op dik matte sweef my by sy kantoor in Tuynhuys inwys, het hy doer ver agter ’n lessenaar gesit en by die venster uitgestaar. Hy het na ’n leë stoel beduie en steeds na buite gestaar.

Ek het ook begin staar. Buite het ’n suidoos gewoed wat die hoë bome tot brekens toe gebuig het. Toe kyk hy na my en fokus in die middel van my voorkop, tussen my oë.

In sy lae begrafnisstem sê hy afgemete: “Ja’k, buite woed ’n storm net soos in my gemoed.” Hy het altyd ’n sin vir die melodramatiese gehad. “Ek word gejag en nou wonder ek watter hulp kan ek van Die Burger verwag?”

“Wel,” het ek geantwoord, “ons kan nie die wyse goedkeur waarop staatsgeld en dus belastingbetalersgeld misbruik en valslik aangewend is nie. Dat dit alles in die geheim gedoen is, maak dit des te meer onverdedigbaar.”

“En wat van ons ooreenkoms dat ons bymekaar sal staan? Waar is die kameraderie wat ál die jare gegeld het?” het hy gevra.

“Ons kan nie ons beginsels verloën en ’n saak steun as daar van die wettige paaie afgewyk word nie,” het ek gesê. “Dan is daar geen meriete nie.”

Sy reaksie was hy het Die Burger nog altyd sy volle same­werking gegee. (Ek weet dit was waar. Hy was goed bevriend met ons politieke skrywer.) “En nou dat ek Die Burger nodig het, draai hy teen my. Hy druk ’n dolk in my rug en draai dit. Dit is stank vir dank vir my en vir die amptenare wat net die beste vir die land wou doen. Ek kan hulle nie in die steek laat nie, en ek sal julle optrede nooit vergeet nie.”

Ek het gesê ek besef opnuut hoe gevaarlik vriendskappe op ’n persoonlike vlak vir koerantmense is, veral in die politiek. Dit kan tot pynlike verleentheid na weerskante lei. Maar ek het besef my poging om te verduidelik is tevergeefs.

Nóg ’n geswore vyand – asof ’n redakteur nie reeds genoeg het nie – het ek gedink toe ek geruisloos op die dik matte na buite geneem word. Ek het bly wonder oor hoe belangrike mense dit regkry om jou te laat sleg voel as húlle die fout gemaak het.

Vorster het in Junie 1979 as staatspresident bedank, minder as agt maande nadat hy die amp oorgeneem het.

Die krokokdil wag

In 1978, pas ná sy oorname as eerste minister, het ek, self nog nuut as redakteur by Die Burger, ’n verwelkomingsdinee vir P.W. Botha bygewoon. Daar het ons eerste kommunikasie ­plaasgevind, by wyse van ’n ­tafelservet.

Die ete was pas aan die gang toe ’n kelner langs my sitplek verskyn met ’n kleinbordjie waarop ’n wit servet met ’n paar sopkolle op gelê het. Agterop was gekrabbel: “Snaaks dat ons twee Vrystaters gelyktydig opgeroep word om te kom red! Seënwense. P.W. Botha.”

Ek het die servet eers gehou, maar dis later deur die vismotte opgevreet. In elk geval, as dit ooit bedoel was om ’n toekomsbeeld van ’n veld vol madeliefies op te roep, het die verwagting gou verwelk.

Hoewel hy aanvanklik flink weggespring het, het Botha se vulkaniese uitbarstings en neiging om die pers aan bande te wil lê die oorhand begin kry. Ons het gou hieroor en as gevolg van verskille oor die pas van hervorming gebots.

Die verhouding het al hoe meer versuur, sodat hy by tye, ná lang aggressiewe telefoon­oproepe, alle verbinding met Die Burger verbreek het. Dinge het op ’n breekspul afgestuur.

Tydens so ’n kontaklose periode teen die einde van sy premierskap en in ’n tyd toe die druk binne die Nasionale Party sterk teen hom aan die opbou was, het ek eendag na ’n Volksraadsdebat sit en luister. Daar daag Jack Viviers, Botha se verheerlikte sekretaris, by die galerydeur op en loer in. Hy wou my sien.

Hy deel my met ’n alwetende glimlag mee dat Nommer Een vir my in die koffiekamer wag. Dit was so goed as om ’n boodskap te kry: Smeer jou lyf goed vet, die Groot Krokodil wag vir jou.

Botha het alleen by ’n tafeltjie in die uitverkose hoekie vir belangrike persone gesit. En sommer met die deur in die huis geval: “Vandag wil ek weet, met watse spel is jy besig? Vroeg vanmôre in die slaapkamer sê my vrou, Elise, vir my: ‘Wat is met Die Burger aan die gang? Wat wil hulle van jou hê?’ En onthou, sy is ’n geleerde vrou!” Sy het ’n universiteitsgraad gehad, P.W. nie.

Ek het geantwoord dat ek van geen spel weet nie en ook nie weet wat hy bedoel nie. Hy het woedender geraak en harder gepraat.

“O, jy weet nie? Dan sal ek jou sê: Jy is ’n beterweter! Oor alles weet jy beter! Wil jy nie liewer die land regeer nie?”

Hy het opgespring en nóg harder geskreeu. Ek was gereed om te koes en het gewonder hoeveel in die koffiekamer na ons sit en luister.

“Wil jý Suid-Afrika se eerste minister wees? Nou ja, dan kan jy dit word! Kyk wat het ek vir jou gebring. Hier, hier is my kantoor se sleutel,” en hy plak dit met ’n slag op die tafeltjie neer sodat die arme madeliefies in die potjie daarvan sidder.

“Wys vir ons vandag jy is nie ’n lafaard nie. Hier’s jou kans. Vat daai sleutel! Toe, moenie net daar staan nie!”

Ek het geantwoord dat dit tog belaglik is om te dink ek wil die land regeer.

Hy was nou wit om die neusgate: “Sê jy ek is belaglik? Kyk, mannetjie, vir jou sal ek trap dat jou gal spat!” Dit was een van sy lieflingsuitdrukkings.

Nodeloos om te sê ons is daar weg terwyl die koffie onaangeroer staan en koud word het. Ek het geweet dis die einde tussen ons. Op pad uit het ek met my een hand beskermend oor my blaas geloop omdat ek nie mooi weet waar sit my gal nie.

Buite by die ingang na Die Laan langs die parlementsgebou het ek ’n oomblik gaan staan en met afguns gekyk na ’n eek­horing wat sorgeloos met ’n grondboontjie wegskarrel. ’n Meeu het op my neergeswiep en ’n blerts gelos wat my rakelings gemis het.

Op pad na die kantoor het ek daaraan loop en dink in watter groot eensaamheid ’n redakteur werk, hoe alleen hy is wanneer hy moet oorleef in die een verwoede aanslag ná die ander.

Ek het geweet Botha sou dadelik die twee oudredakteurs wat direkteure is, dr. Phil Weber en mnr. Piet Cillié, bel – wat hy toe ook gedoen het met die “finale eis” dat hulle nou van “daardie vent” ontslae raak.

Ek het ook geweet wat hul reaksie sou wees en dat juis dít ’n mens staande hou: As jou direksie onwrikbaar in jou integriteit glo.

By die kantoor het ek aan die redaksie gerapporteer dat daar een groot les uit die onderhoud te leer is. Dit is dat ons te alle tye ’n leesbare koerant vir almal moet uitgee. ’n Straatveër wat ’n stuk koerant optel en begin lees, moet naderhand op die sypaadjie gaan sit om klaar te lees.

En in die ampswoning moet die premier se geleerde vrou hom vroegoggend met die elmboog in die ribbes pomp:

“Word wakker en drink jou koffie. Luister hier wat skryf Die Burger vanoggend weer oor jou . . .”

■ Wiets Beukes begin sy loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad en skuif later na Die Burger. In 1977 word hy redakteur van Die Burger tot in 1989. Daarna word hy hoof van Naspers se geskiedskrywing. In sy aftrede spandeer hy graag tyd aan sy voorliefde vir argitektuur en die ontwerp en bou van waterkanthuise. Hy woon in Kaapstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.