Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wag 'n bietjie
Waldimar Pelser: Hoe durf die DA só ’n SA verbeel?

"Ekonomiese geregtigheid” ontwyk steeds die meeste Suid-Afrikaners, sê die DA in sy beleidstukke.

So far, so good.

“Ons weet wat in die pad van ekonomiese insluiting staan: Daar is langdurige ongelykhede wat hul oorsprong het in ’n apartheid- en koloniale verlede en wat vererger is deur ’n onbekwame en korrupte staat,” sê die party.

In die kol.

Die antwoord kan nie wees om bloot harder te probeer om die ANC se bestaande idees oor die ekonomie en regstelling te implementeer nie, want daar is fout met die idees self. Korrupsie is boonop allermins al rede vir al die armoede.

Ek wag vir nog iets omstrede . . .

Dan die bom: “Geen politieke party het nog ooit ’n beleid voor die publiek geplaas wat sal help om die nalatenskap van ekonomiese uitsluiting aan te pak en Suid-Afrika terselfdertyd te bevry van rasseklassifikasie uit die apartheid-era nie. As die moontlikheid bestaan om albei hierdie edele doelwitte te bereik, moet ons so maak.”

Die DA het nie die memo gekry dat nierassigheid uit die mode is nie. Die politiek skarnier vandag juis aan daardie aspekte van ons identiteit wat ons lank gelede geleer is nie saak behoort te maak nie: Velkleur, geslag, gender, seksuele oriëntasie.

Enige beleid wat hierdie eienskappe as die bepalers ontken van ons wêreldbelewing hoort volgens vandag se ortodoksie in die asblik.

As die DA in ontkenning is oor wie die slagoffers van apartheid was en daarvoor mik om wit bevoorregting te verskans, is die beleidstukke ’n snaakse manier om dit te wys.

Vandaar dat die DA se beleidstukke, wat net soos hul nuwe dokument oor waardes en beginsels ’n nierassige, meer gelyke en meer voorspoedige Suid-Afrika verbeel, die afgelope sewe dae tot so ’n hovaardige gerol van die oë gelei het.

Kommentators het met PW Botha-vingers en in meewarige ouderlingstemme en soms met paternalistiese tongklikke gemaan dat geen swart kieser weer DA sal of behoort te stem nie, want die party lees die tydsgees so verkeerd. Hulle is ras-ontkenners en antiswart, soos die vertrek (te midde van dissiplinêre stappe) van John Moodey mos bewys, al bly soveel swart leiers oor.

Die DA se “regte agenda is om wit bevoorregting te verdedig deur te ontken dat dit bestaan,” skryf Carol Paton (Business Day). Ras sal “vir ewig” saak maak, sê sy tevrede.

Die DA se verwerping van die ANC se swart ekonomiese bemagtigingsbeleid herinner vir Marianne Merten van Daily Maverick aan Donald Trump. Die party moet inval by die “heersende benadering in die akademie en openbare diskoers waar kritiese rasseteorie ras sentraal plaas in sosio-ekonomiese magsverhoudinge in die samelewing”.

Die Universiteit van Wes-Kaapland se prof. Bheki Mngomezulu sê aan Netwerk24 dit is “baie naïef van die DA om beleid te aanvaar waarin ras en geslag nie oorweeg word in ’n land met ’n geskiedenis soos Suid-Afrika s’n nie. Hulle speel ’n gevaarlike spel van ontkenning wat hulle duur te staan gaan kom.”

Op News24 word geskryf die DA se regstellingsbeleid het in 2014 al ontspoor “toe Helen Zille, destyds partyleier, en (Lindiwe) Mazibuko, destyds leier van die DA-koukus in die parlement, gebots het oor rasgegronde bemagtigingsbeleid. Zille het fisiek ingegryp in ’n koukusvergadering om te verseker dat die party nie inval by die ANC se sienings oor transformasie nie.”

Hoe durf hulle.

Volgens die skrywer verwerp hierdie “ware liberale die idee dat swart mense die grootste slagoffers was van apartheid se uitsluitende politiek in die onderwys en ekonomie”.

As die DA in ontkenning is oor wie die slagoffers van apartheid was en daarvoor mik om wit bevoorregting te verskans, is die beleidstukke ’n snaakse manier om dit te wys.

Die party skryf met gesag en empatie oor ’n land waar die helfte van die bevolking eers deur apartheid en nou deur onkundige en korrupte regering verdoem is tot afhanklikheid van ’n bankrot staat.

Hoewel die DA dié afhanklikheid as onvolhoubaar beskou – dit is beter dat mense hul eie brood verdien – stel hulle ’n nuwe maatskaplike toelaag voor om honger kinders van ’n ontwikkelingsagterstand te red.

Hulle vra ook: Is dit reg dat soveel van die winste van die nuwe bedeling vloei na ’n polities invloedryke elite? Dien dít die belange van die heel armstes?

Dit kon anders gewees het: Singapoer was in die 1960’s etnies verdeeld en 82% van die bevolking het in krotbuurte gewoon. Teen 1985 was niemand meer haweloos nie, niemand brandarm nie, en niemand in etniese enklaves gekluister nie.

Die DA praat nie in die welluidende idioom van die ANC en ideologiese hekwagters nie, maar maak erns met die oorsake van en oplossings vir armoede, wat swart mense veral tref. Om nie ras nie maar behoeftigheid as die basis van regstelling voor te stel, is ’n erkenning van ’n waarheid wat eens in die mode was: Dat niemand arm is omdat hulle bruin of swart is nie, maar omdat hulle voor én sedert 1994 stelselmatig verdruk is deur regerings wie se beleid ’n kliek met politieke bande dien.

Meer oor:  Politiek  |  Waldimar Pelser  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.