Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Mogoeng se moed is wapen vir Mantashe

Raai wie het gesê: “Ons kan met trots sê dat ons demokrasie in aksie gesien het op ’n ongekende en progressiewe wyse en dat dit ’n groot prestasie vir ons land was.”

’n Mens sou sulke liriese taal dalk verwag van adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), nadat sy by haar draadloos sit en luister het na hoofregter Mogoeng Mogoeng se vernietigende beslissing Donderdag dat die president onwettig opgetree het deur haar Nkandla-verslag te ignoreer.

Maar op 8 September 2011 het dié woorde eerder uit die mond van Jacob Gedleyihlekisa Zuma gekom. Dit kom uit ’n verklaring waarin hy die onderhoude deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) beskryf wat tot die aanstelling van Mogoeng as hoofregter ­gelei het.

Dit moet ’n aanstelling wees wat Zuma nou bitterlik berou.

Want terwyl hy ’n goeie beleggingsopbrengs geïn het uit die aanstelling van inskiklike funksionarisse in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, in die nasionale vervolgingsgesag en by die Valke, het hy hom met Mogoeng (55) misreken – wat die openbare beskermer in die konstitusionele hof se eenparige uitspraak die publiek se Dawid genoem het, wat teen die Goliat van magsmisbruik deur die staat veg. Ampsdraers speel met vuur as hulle hul grondwetlike pligte ignoreer, het hy bygevoeg. “Dit is só omdat konstitusionalisme, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg die skerp en magtige swaard is wat gereed is om die aaklige kop van straffeloosheid af te kap.”

Die DA se geraas het weinig gevolge. Die DA kan Zuma nie laat kantel nie. Dit is die ANC se plig en prerogatief.

Mogoeng het die “monumentale belang” van die saak onderstreep voordat hy nougeset die bevinding verdedig het dat Zuma in stryd met sy pligte opgetree het ingevolge art. 83(b) van die Grondwet om einste Grondwet te “handhaaf, verdedig en eerbiedig”.

Ook die Nasionale Vergadering – wie se ANC-koukus ’n klakkelose naprater van hul baas se bedenklike bevele en ’n onbeskaamde beskermer van die heerser, eerder as die mense geword het – het onwettig en strydig met sy grondwetlike pligte gehandel.

Hiermee het die konstitusionele hof opnuut sy onafhanklikheid en verbintenis tot die grondbeginsels van ons demokrasie bewys te midde van ’n vertrouenskrisis in die gehalte van regering, die aanstelling van kaders eerder as konstitusionaliste in talle sleutelposte, endemiese korrupsie, kruipende armoede, ’n verlamde ANC en ’n korrupte president.

Maar wat nou?

Die DA het gedink hulle gaan iets bereik met ’n parlementêre proses om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas, wat die instemming van 267 LP’s (66,75%) uit die 400 sou vereis.

Dat Zuma verdien om in ’n staat van beskuldiging geplaas te word wat hom en sy kabinet sal dwing om te bedank, is mos seker. Maar niemand in die al hoe meer verbeeldingarm DA wonder klaarblyklik langer as ’n oomblik of dit konstruktief sal wees nie. Dit is mos eintlik politieke teater – ’n spel wat die DA hoop hom punte op die politieke telbord sal besorg.

Vir die feit dat die DA miljoene rande aan regsaksie bestee om die president, die regering en die ANC in die howe aanspreeklik te hou, verdien die party ons dank en steun. Maar die alewige gesanik om die president deur middel van die parlement vas te vat met ’n mosie waarvoor die DA goed weet ANC-LP’s se steun onontbeerlik is, is irriterend én teenproduktief.

As ek ’n ANC-LP was wat raadop was met Zuma en insae had in die soms Bisantynse, dog onomkeerbare prosesse in die party om Zuma uit te stoot op ’n manier wat die party sélf die minimum skade sal berokken, net om te hoor die DA mik weer lomp na impeachment , sweer ek was ek in die versoeking om die nar van Nkandla te beskerm nét om die DA die genot van ’n openbare sege te ontneem.

Die DA se geraas gaan niks bereik nie en het weinig gevolge. Die DA kan Zuma nie laat kantel nie. Dit is die ANC se plig en prerogatief.

Sal die ANC dit doen?

Donderdagaand se skielike vergadering van die party se topleierskap is ’n teken iets is aan die kom. Met Weekliks se ter perse gaan was Zuma nog in sy amp en het geen koppe nog gerol nie. Maar Mogoeng se dapper, byna veglustige uitspraak was dalk genoeg van ’n ultimatum om Gwede Mantashe en ander bekommerde ANC-leiers te laat afsien van hul plan om Zuma eers veel later uit te stoot.

Weens die DA se truuks in die parlement het die ANC realisties gesproke nie meer die opsie om die parlement vir koningsmoord in te span nie. Die nuwe momentum danksy Mogoeng verskaf dalk eerder ’n uitweg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.