Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
As jy dan móét kom, bring jou eie water saam

Met die laaste hoepel in sig, moes Patricia de Lille dit lankal gedoen het. Sy het nie (dalk omdat dit nie polities korrek is nie?), en daarom gaan ek dit nou doen. 

Aan almal in ander provinsies wat van plan is om Kaap toe te trek – bring jul eie water saam. Nog beter, bly waar julle is!

Nie dat die moontlikheid om met ’n plastiekemmer by ’n waterlorrie te gaan tou staan my afskrik nie.

Ek het tydens ’n droogte aangekom en het sedertdien net met agt-en-taggentag (1988 toe die Gariep 6 meter bokant sy hoogste vlak geloop het) se groot vloed nat geword.

Amper soos Bont Schalk. Hy het gespog dat die verpleegster wat hom voor ’n operasie in die Volkshospitaal in die Kaap moes was, ná drie dae op sy doopsokkies afgekom het.

Dit skrik my nie af om met ’n plastiekemmer by ’n waterlorrie te gaan tou staan nie.

Of oom Stoffel du Toit van Hopetown wat graag vertel het toe hy met bees in die Tuli-blok in die destydse Betsjoeanaland (Botswana) geboer het, het hy hom in ’n koppie water geskeer en gebad. Elke môre, van kop tot tone. So skaars en kosbaar was water toe daar.

Hy het darem nie met dieselfde koppie water vir hom koffie gemaak nie.

Wat hy wel gedoen het, was om in die geloof dat die reën naby is, maer bees teen ’n appel en ’n ei gaan opkoop en dan met hulle getrek na dele waar daar nog wel weiding was.

Die droogte van 1933 was nie oral ewe erg nie. Die risiko was nietemin geweldig en hy kon alles verloor. Toe begin dit reën.

Met die bees se geld kon hy vir elkeen van sy sewe seuns ’n plaas koop.

Op sy hoogste kon hy ’n tjek vir R1 miljoen uitskryf sonder dat hy sy bankbestuurder hoef te bel.

Voor R1 miljoen Monopoly-geld geword het, was dít min mense beskore. So werk geloof. Maar jy moet dapper wees. Ook slim.

Wanneer dit by Middelpos droog geraak het en hy verplig was om met sy skaap na ander dele, selfs so ver as die Vrystaat, te trek, het oom Spark Steenkamp van Matjiesfontein, destyds een van die grootste en rykste boere in die Roggeveld, hom as ’n arm, neergeslane ou boertjie voorgedoen.

Om die harte van boere waar daar weiveld was te verteder, sou hy, geklee in ’n verslete ou kakiejas toegeknoop met ’n haakspeld onder sy keel, met trane in sy oë vertel hoe arm hy is en hoe swaar hy kry.

Die foutjie wat hy gemaak het, was om uit ’n nuwe, swart Buick Eight, ’n duur en windmaker kar, op die boer se werf te klim.

Maar dit neem niks daarvan weg nie dat kerke toe nog bidure vir reën gehou het in die geloof dat gebed ’n langdurige droogte mettertyd sou breek.

Soos die boer geantwoord het toe die nuwe predikant op huisbesoek oor sy buurman uitgevra het: “Dominee, ja, hy sê hy is ’n Christen, maar eintlik is hy ’n Sap!”

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Trek  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.