Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Die Kinderbybel en die skoenboks

Hilda de Villiers van die Paarl was vir jare huismoeder van een van die kinderhuise in Johannesburg. Sy vertel die verhaal van een van die meisies wat sy versorg het en die aand wat hulle saam die Kinderbybel in die drom gegooi het.

In my troosteloosheid ná eggenoot Izak se sterwe, kom die besef ek sal die yslike verdriet moontlik kan verwerk tussen ander wat erger ellende beleef. Gestremdes? Bejaardes?

Teen die sin van familie en bekendes wend ek my na ’n kinderhuis en ek word ’n driemaande-proeftydperk by ’n pragtige kinderhuis, De Wilgers *, gegun.

Diens as versorger by Huis Blinkloop * tussen meisies van verskillende ouderdomme, alles van kleuterkleinstes tot gr. 10-leerlinge hopelik op pad na matriek, het nie sonder suikerwater en baie bid verloop nie, want die meisies het vroeg in hul kinderjare geleer om selfstandig te wees.

Pure turksvybos

Een van dié meisies was Ronella *, pure turksvybos asof sy niemand te na aan haar wil toelaat nie.

Sy is stug en onbuigsaam en blyk tevrede te wees so op haar eentjie.

Haar kamer en die inhoud van haar kas, laaie asook die lessenaar was altyd netjies en al was sy nog kinderlik jonk, was sy ook gesteld op haar voorkoms.

Ronella het haar vrye tye graag in die tuin onder die groot wilgerboom deurgebring, waar sy na die voëls se vrolike geraas geluister het en hulle in stilte dopgehou het.

Een laatmiddag sien ek die kringetjie dogters om ’n vullisdrom geskaar, tienjarige Ronella die middelpunt, groot Kinderbybel in die hand gereed om bladsy vir bladsy los te skeur en in die drom te gooi.

Die meisies wat toekyk, is geskok. Een roep uit: “Dis mos sonde!” en dit wil lyk asof almal aandadig voel op pad hel toe.

Ronella se hartseergeskiedenis in gedagte, sê ek sy hoef nie blaaie uit te skeur nie, gooi sommer die Kinderbybel net so in die vullisdrom.

Stilte in die kringetjie toeskouers se deurmekaar gedagtes.

Met ’n oorwinnaarsglimlag en ’n “dankie” land die Kinderbybel in die vullisdrom.

(Later die aand het ’n seun die Boek vir homself kom uithaal.)

Die krulkoppie was hul keuse

Nadat sy reeds as baba in die kinderhuis opgeneem is, word Ronella op kleuterouderdom saam met nog ’n kinderhuis-krulkopmeisietjie deur ’n vriendelike ouerpaar versorg met die oog op permanente aanneming.

Ronella het geheg geraak aan die ouerpaar. Ongelukkig het die voogde se veranderde omstandighede vereis dat een van die twee meisietjies na die kinderhuis moes terugkeer.

Die krulkoppie bly hul keuse, terwyl Ronella wel vakansies mag kom kuier.

Vanselfsprekend was Ronella bitter ontsteld en sy het dikwels vreemd opgetree, maar ná goeie sielkundige leiding en sorg ­het sy mettertyd weer rustiger geraak.

Ronella is nie saam nie

Intussen kon Huis Blinkloop die stigma wat kinderhuise onnodig soos skarlakenkoors omhels, afskud.

Die meisies het in eie reg harte gesteel sonder die buitewêreld se samaritaansgedagtes.

Hulle kon gemaklik kommunikeer en sosiaal verkeer, selfvertroue uitstraal, selfs verskeie prestasies behaal en hulself mooi versorg – veral hul hare, waarna hulle laggend as hul krone verwys het.

Dit is tog wonderlik hoe aanpasbaar kinders is, welke omstandighede ook al.

Ronella, veral, het vele se aandag getrek en só het sy mettertyd ontdooi as ’n vriendelike meisietjie wat uitreik na maats en kuiergaste.

Tog het sy maar nog gereeld stiltes gaan opsoek.

’n Partytjie

Een jaar nooi dorpsvriende Huis Blinkloop om Ronella se verjaardag by hulle aan huis te kom vier.

Uiteindelik kon haar biologiese ma opgespoor word, wat die verjaarviering sal bywoon. Op die vrolike dag laat weet die ma ons moet haar in Johannesburg kom haal, die metgesel se motor wil nie verder nie.

Die behoeftige ma en haar grys-omie-metgesel met ’n kierie groet Ronella vreemd-terloops en gee vir haar ’n ou skoenboks sonder toedraai-geskenkpapier terwyl hulle die heerlike verversings geniet.

Ronella loer in die boks en draf vinnig eenkant toe, haar oë vol trane toe ek vra of ek kan help. “Ek is bang my maats wil die present sien,” en sy wys die oudste paar deurgeloopte plat vroueskoene in die boks.

Die present is miskien die ma se sukkeljare wat sy só aan Ronella wou verduidelik, wie weet?

Die ou skoene word netjies in ’n sak gebêre en ’n paar mooi sakdoekies en koekie lekkerruikseep kom in die skoenboks.

Laatmiddag het die kinderhuiskombi die ma en grys oompie terug Johannesburg toe geneem. Ronella is nie saam nie.

Nie meer die verworpene

Sonder verdere detail waarom ’n welbelese, suksesvolle sakeman eenstyd by Ronella se ma gekuier het sonder die wete dat hy later ’n dogter ryker is, was Ronella alte bly en baie opgewonde toe die maatskaplike werker uiteindelik haar biologiese pappie kon opspoor en hy sy volle samewerking gee.

Hy het daar en dan Ronella as sy dogter aangeneem.

Dit was ’n pragtige tydperk vir haar, met die mooiste rokkies, haar eie weelde-kamer, ’n ouerhuis en ’n werklike omgee-pa. Sy is nou nie meer die verworpene nie!

Maar die pa se vrou en dogter was nie so gelukkig nie en ná ’n tydperk waarin die pa werklik sy bes probeer en vir Ronella net die beste wou gee, moes sy weer terug kinderhuis toe. Hy het voor die keuse te staan gekom: Of sy vrou en dogter sonder enige verdere verbintenis met Ronella, óf Ronella. Hy gee die Kinderbybel saam as troosprys.

Op die skoon blaai heel voor, in sy netjies handskrif die belofte hy sal haar nooit vergeet nie en haar altyd liefhê.

Kinderhuise weet van genade

Verwerping is ’n kru seermaakding. Soos ’n matriekmeisie in Huis Blinkloop een nag vra: “Waarom ruik die buitewêreld so grof en ongenaakbaar? So sonder genade?”

Want kinderhuise weet van genade.

Ronella het verdere kontak met haar ouers geweier en oënskynlik van hulle vergeet.

Maar later jare toe sy van die kinderhuis moes afskeid neem, sit ons twee vir ’n rukkie in stilte saam in die tuin onder die groot wilgerboom, luister na die voëls en hou die raserige spulletjie dop, toe sy sag sê: “Ek vergewe diegene wat sê hulle is op papier my ouers sonder om my ouers te wil wees. Ek is gelukkiger sonder hulle.”

* Die name van kinders, die kinderhuis en die koshuis is verander om die inwoners se identiteit te beskerm.

Meer oor:  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.