Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Gielie Hoffmann: ‘Biseksuele Blou Bulle is óók Afrikaners’

Ek skrik soms as ek die woord Afrikaner gebruik. Oor die woord gelaai is met soveel emosie. Oor die bestaan van die term vir die laaste dekade of wat betwis is. En omdat ek regtigwaar nie weet wat ek daarmee bedoel nie.

Ongeag dit als bestaan Afrikaners. Ek onthou ek het jare gelede gelees iemand het vir Eugène Terre’Blanche gevra hoe weet jy of jy ’n Afrikaner is. Sy antwoord? As jy wonder of jy een is, is jy beslis nie een nie.

Ek dink my skrik is omdat dit ’n sambreelterm geword het wat net negatiewe konnotasies het. En daarmee is ek bitter ongemaklik. Want ek twyfel nie dat ek een is nie. Ek is ook nie skaam om een genoem te word nie. Maar ek weet ook dis nie my enkele groot definiërende eienskap nie.

Ek ken Afrikaners wat Afrikaans praat en ander wat Engels praat. Wat fanatiese Christene is of glad nie glo nie. Sommiges wat nie glo nie is fanatiese Blou Bul-ondersteuners en van die gelowiges skree vir die WP. Heel party kan glad nie rugby verdra nie. Van hulle is heteroseksueel en ander homoseksueel. Ek weet van ’n paar biseksuele Blou Bulle. Party praat die mooiste Afrikaans maar sal nie veg vir die taal nie. Ander se greep op die taal gly kort-kort, maar sal in opstand kom vir die voortbestaan van Afrikaans. Die meeste eet nog malvapoeding maar baie bant nou sodat vetkoek en braaibroodjies vir hulle volksvreemd geword het. Baie stuur hul kinders na Afrikaanse universiteite. Die meeste stuur hulle bloot na universiteit. Vir party is die Groot Trek Hartenbos toe, vir ander is dit die Camino in Spanje. Sommiges herroep Racheltjie de Beer, ander Mariëta Kruger.

Ek onthou ek het jare gelede gelees iemand het vir Eugène Terre’Blanche gevra hoe weet jy of jy ’n Afrikaner is. Sy antwoord? As jy wonder of jy een is, is jy beslis nie een nie.

Ons almal kan iets gaan soek in die verlede waarna ons hunker. Dit is so. Daarmee saam smag ons almal na ’n beter toekoms. En die meeste Afrikaners wat ek ken, veg verbete om hul huidige realiteit te verbeter.

Gevolglik is dit maklik om onsself te wil losmaak van wat in die land aan die gang is. Om gekant te wees teen als. Onsself verder te vervreem as wat selfs die ANC sal kan regkry.

Ek is verstom as iemand namens die Afrikaner praat, aanvaar dat alle Afrikaners dieselfde dink en hulself as die hekwagters aanstel as dit kom by die poorte van die Afrikanerdom. Of dit nou by Orania of Lyttleton is. Ek vermoed as enigiemand die Afrikaner wil lei, hy of sy ’n beter kans het om ’n trop gemmerkatte aan te jaag in dieselfde rigting.

En tog gebruik ek die term. Want meer as ooit het ons ’n kans om onsself te herdefinieer tot ’n positiewe rolspeler in die groter Suid-Afrikaanse landskap. Hoe kan ons dit doen?

– Deur te let op die taal wat ons gebruik. Brei “ons” uit. Los oorlogsterme vir die loopgrawe.

– Kyk na die “kennis in die bloed” wat oorgedra word. Die storie wat vir ons kinders vertel word, word die storie wat hulle gaan lewe.

– Leer om beter te redeneer. Wees ingelig. Oorweeg iemand anders se standpunt. Erken jou eie blindekolle. Luister.

– Neem deel. Skep gemeenskapinstellings. Aktiewe burgerskap is die hoogste vorm van leierskap. Stem in verkiesings. Maak die skool in jou woonbuurt sterker.

– Omarm ongemak. Die ANC raak al hoe meer desperaat. Die aanslae op dit wat vir ons belangrik is, gaan al hoe feller word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.