Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Hanru Niemand: ‘Slegs feeste kan Afrikaans nie red’
Hanru Niemand

Ek sien baie kommentators oor die taaldebat noem, as ’n tipe troos, dat die Universiteit Stellenbosch darem steeds die Woordfees sal aanbied. Ander noem ook dat ander feeste (soos die KKNK) en kykNET van krag tot krag gaan. Afrikaans is dus nog springlewendig! Sodanige sienings verwar egter die produk van ’n lewenskragtige taal met die teelaarde daarvan.

Die Afrikaanse kunswêreld floreer wel sedert die eeuwending, deels weens ’n gees van bevryding, maar ook omdat dit sterk gewortel is in ’n intellektuele en kreatiewe tradisie. As sodanig steun dit steeds op die bruikbaarheid van die taal in die openbare sfeer. Om in Afrikaans te skep, moet dit deel van jou leefwêreld wees. Soos Afrikaans uit die openbare sfeer verdwyn, so verminder die bruikbaarheid daarvan en so verdwyn dit uit die individu se leefwêreld. Soos Afrikaans uit die openbare sfeer verdwyn, sal ons dus algaande ook sien hoe Afrikaanse kuns die kreeftegang gaan. Dink bietjie: Wie gaan ’n toneelstuk in Afrikaans skryf as sy omgang met drama amper uitsluitlik in Engels was? Dink bietjie hoeveel van ons bekroonde digters en gerekende liedjieskrywers het in Engels skoolgegaan. Ek kan aan net ’n paar dink.

Die verdwying van Afrikaans uit die openbare sfeer sal lei tot ’n vervlakking van ons kunsprodukte. Nou, ek is geen taalpuris nie. My betoog is nie dat hogere kuns of selfs Standaardafrikaans die somtotaal van die taal is nie. ’n Taal het egter beide sy “hoër” en “laer” funksies nodig om lewenskragtig te wees.

James de Villiers beweer dat ander Afrikatale sterk staan sonder hoër funksies. Hy is verkeerd. Wat in hul guns getel het tot dusver is ’n sterk geografiese konsentrasie van sprekers en goeie bevolkingsaanwas. Nietemin is hierdie tale reeds aan die kwyn. Persentasiegewys het Zoeloe, Xhosa, Noord-Sotho, Suid-Sotho en Tswana almal gedaal vanaf 2001 tot 2011. Engels het sterk gegroei terwyl Afrikaans ongeveer dieselfde gebly het.

Die verdwyning van Afrikaans uit die openbare sfeer sal ook mettertyd lei tot ’n daling in die getal Afrikaanssprekendes. Dit is daarom vir my geweldig irriterend as mense sê: “Solank daar nog mense is wat die taal praat, sal Afrikaans sterk staan”.

Dis juis dit punt! Die getal mense gaan mettertyd kwyn! Ek sien reeds toenemend Afrikaanse ouers met Engelssprekende kinders (wat nie ’n gesprek in Afrikaans kan voer nie), waar die kinders na Engelse skole is ter voorbereiding van die “regte wêreld”, waar “alles in elk geval Engels is”. Baie Afrikaanse studente uit Afrikaanse skole verkies reeds Engels in antisipasie van die taalklimaat wat vir hulle voorlê. Rakende die statistiek oor studentegetalle wat Prof. Wim de Villiers aanhaal, het ek begrip dat dit met sulke getalle al hoe minder finansieel haalbaar raak om Afrikaans as voertaal aan te bied. Dit is egter ook deels die produk van beleid wat dit die afgelope tien jaar moeiliker gemaak het om in Afrikaans te studeer. In ag genome dat die meeste handboeke reeds slegs in Engels beskikbaar is en dat klastyd soms meer as 50% Engels is (veral waar dosente nie Afrikaans magtig is nie), is dit nie vreemd dat Engels soms maar van meet af verkies word nie. So ja, dit is nie die US se verantwoordelikheid om Afrikaans te red nie, maar die verantwoordelikheid kan ook nie net voor die sprekers se deur gegooi word nie.

Vir mense om deel te neem aan ’n minderheidskultuur moet daar ’n herbergsame beleidsklimaat wees. Dit is ongelukkig die regering se verantwoordelikheid om so ’n klimaat te skep. Ongelukkig, want ons weet die politieke wil om dit te doen, ontbreek.

Ek glo egter nie dat uitnemendheid en Afrikaans op voorgraadse vlak so in skerp teenstelling staan nie. Op voorgraadse vlak lê die ware teenstelling tussen Afrikaans en demografiese verteenwoordiging.

Dat Afrikaans soms ’n hindernis is in die aanstel van topnavorsers en -dosente, kan ek insien. Ek glo egter nie dat uitnemendheid en Afrikaans op voorgraadse vlak so in skerp teenstelling staan nie. Op voorgraadse vlak lê die ware teenstelling tussen Afrikaans en demografiese verteenwoordiging. Laasgenoemde idee verwys na “ ’n homogene rasseverspreiding”, waarvolgens daar oral ’n verspreiding soortgelyk aan die nasionale demografie moet wees. Wat ons hier het, is botsende interpretasies van die visie wat die Grondwet vir die land daarstel. Een interpretasie sou stel dat Suid-Afrika ’n land moet wees wat werklik multikultureel is, wat diversiteit waardeer en daarna streef dat alle Suid-Afrikaners ten minste soms tuis voel in die samelewing. Die ander interpretasie sê Suid-Afrika moet getransformeer word sodat alle areas die nasionale demografie op ’n homogene wyse weerspieël. Ons regering steun natuurlik laasgenoemde interpretasie.

In dié verband word ook dikwels genoem dat die universiteit ’n nasionale bate is en as onderriginstelling breër toegang moet bewerkstellig. Nou, die kwessie van toegang is nie so eenvoudig as om net die deure wyer oop te maak nie. Dit pla byvoorbeeld dat ’n arm seun uit Khayamandi nie na sy naaste universiteit kan gaan nie, maar pla dit nie ewe veel dat die arm seun van ’n plaaswerker in Malmesbury nou nooit matrikuleer nie, omdat hy nie die mas sou opkom in sy tweede taal nie? ’n Eng beskouing van demografiese verteenwoordiging lei ons om slegs op eersgenoemde scenario te fokus, terwyl die breër prentjie ons ontglip.

Nou, ek weet Suid-Afrikaners is steeds baie sensitief vir uitsluiting en met goeie rede. Ek kan die woede verstaan, of probeer verstaan so goed soos iemand wat dit nog aan eie bas gevoel het nie. Voorts begryp ek dat ’n persoon met my herkoms nie juis kan pleit vir redelikheid nie: dit sou wees soos ’n verneuker wat op sy vrou se vertroue aandring nadat sy hom pas uitgevang het. Nietemin glo ek dat regverdige beleid nie op woede gebou kan word nie. Netso glo ek is demografiese verteenwoordiging ’n virus van ’n gedagte wat alle aspekte van ons samelewing infiltreer en diversiteit uitwis.

Demografiese verteenwoordiging as idee kan ook mettertyd die feeste impakteer. Hoe lank voor dosente begin mor dat die fees nie inklusief genoeg is nie, dat die gehore nie swart genoeg is nie? Hoe lank voor “progressiewe” groepe en buiksprekers luidkeels protesteer by Media24 se geboue, dat hulle dit waag om sulke eksklusiewe feeste te borg? Voor jy jou oë uitvee, is dit nie meer die Woordfees nie, maar die Stellies Litfest en al wat oorbly van Afrikaans se vriendelike, verwelkomende kant, die misbruikte woordjie “lekker”. So ja, voer aan dat die voorgestelde beleid onvermydelik is, voer selfs kwaliteitsredes aan, voer aan dat dit die Afrikaner se apartheidskuldlas is, voer aan dat ’n aggressiewe benadering meer vyande gaan maak, maar asseblief, moenie probeer troos en sê Afrikaans is in die feeste se veilige hande nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.