Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Kyk: Hanlie Retief gesels met Deidre Le Hanie
Een vals noot sal Hanie demp nie

‘Geen van daai gospelliedjies wat ek 25 jaar lank elke naweek in kerke regoor die land gesing het, sou kon uitjubel hoe ek gevoel het toe ek hoor ek is die ATKV se nuwe bedryfshoof nie.

“Ek het op my knieë op die riempiesmat neergesak en gesê, Here, dankie. Vir my was dit ’n wonderwerk.”

Dié Wes-Randse oud-IT-baas se hallelujas is intussen verswelg deur ’n plaag murmurerings uit Afrikaanse geledere.

Deidre Le Hanie se heel eerste ATKV-mediakonferensie, in Engels, met Cosatu as genooide gas, het ’n storm laat losbars wat twee weke later steeds woed.

Haar bekendstelling van die ATKV se Afrikaans Plus-inisiatief het die indruk gelaat dat die ATKV, wat nou op soek is na ’n miljoen lede, wegstaan van Afrikaans en ’n meertalige organisasie word.

Ek weet nou dit was ’n fout om my eerste perskonferensie op die Engelse media te teiken, sonder om die Afrikaanse steunbasis van die ATKV eers in ag te neem.

Het die ATKV nou net die TKV geword, bulder dr. Pieter Mulder van die VF Plus.

Le Hanie het ook ’n syfer- en bestuursagtergrond soos haar voorganger, skryf die Beeld-redakteur, Barnard Beukman, maar haar lomp onthulling van Afrikaans Plus loop die gevaar om meer skade as goed te doen. “As die fyn aanvoeling vir kommunikasie oornag verlore is, het die organisasie ’n probleem.”

Dis bepaald anders as Japie Gouws, haar voorganger en Afrikaans se koelste nerd, wat ATKV-projekte altyd eers tot in die harte van die organisasie se lojale kernbasis kon rieldans.

Vrydagoggend, pas geland ná die dagbreekvlug uit Johannesburg, kom Die Probleem die Kaapse lughawe se roltrap op. Al van ver af sien jy sy is snaarstyf gespanne.

“Ek het nie dié sien kom nie,” sê Le Hanie en haar hande bewe effens terwyl sy ’n sluk uit 'n waterbottel neem.

“Toe ek Maroela Media (Solidariteit se nuuswebwerf) se berig oor Afrikaans Plus lees, het dit gevoel of die aarde onder my ingee. Ek het geweet die mense wat dit gaan lees, gaan nét so geskok wees, en dit gaan baie, baie wild raak hier rondom ons. Wat toe absoluut gebeur het.”

Le Hanie het reeds meer as 200 e-posse en briewe van ontstelde ATKV-lede persoonlik beantwoord.

“Daar is woedende mense wat vir my skryf. Ek verstaan dit heeltemal. Van die briewe is baie kras. Hulle voel ons het ’n nuwe strategie, dat Afrikaans nie meer ons kernbesigheid is nie, en dat ons gaan fokus op ander mense wat Afrikaans nie respekteer nie. Dis 100% nonsens.”

Die ATKV was altyd ’n veilige, versoenende plek buite die politiek, sê sy.

“Dis nou geskaad weens die indruk wat op die perskonferensie gewek is. Ek is so spyt daaroor. Daar is nou wantroue teenoor my en die ATKV. My geloofwaardigheid het ’n erge knou gekry. En, nog erger, ná 87 jaar, die ATKV s'n ook.

Die bemarking van Afrikaans Plus het nou geboemerang.

“Ek kan verduidelik tot ek blou word, die skade is gedaan. Ons weet almal wat met Afrikaans by universiteite en skole aan die gebeur is, daar is ’n aanslag op ons taal. Mense het gedink dis wat nou ook by die ATKV gebeur.”

Alles gaan oor persepsies, sê sy, en die spanning trek aan haar gesig.

“Japie sê altyd so mooi ons veg nie vir Afrikaans nie, ons bemark dit. Die bemarking van Afrikaans Plus het nou geboemerang.”

“Maroela se opskrif: ‘ ’n Nuwe strategie vir die (A)TKV’ het onmíddellik die indruk gelaat dat ek wegbeweeg van Afrikaans.

“Ek het ook gesê ons is trots Afrikaans, maar nie selfsugtig so nie. Dit lyk toe asof ek sê Afrikaanse mense is selfsugtig.”

Ironies is dit nié ’n nuwe strategie nie. Die ATKV het al verskeie sulke projekte aangepak, hulle wil dit net verder uitbou.

En as Afrikaans Plus ’n dawerende sukses is, gaan die ATKV oorslaan Engels toe om vir dié mense voorsiening te maak?

“Nee, nuwe lede moet hulle vereenselwig met die missie en visie van die ATKV. Ons werksaamhede bly in Afrikaans. Dis nie Afrikaans óf 'n inheemse taal, soos ek aangehaal is nie, maar Afrikaans én ’n inheemse taal.”

Sy het ’n paar magtige vyande teen haar gemobiliseer, knik sy, en die gaping wyd gelaat vir die FAK wat dit blitsig benut het met ’n “Moenie die toekoms van #Afrikaans blus met ? #plus nie”-werwingsveldtog.

“Ons moet eerder hande vat in die Afrikaanse kultuurnetwerke, nie vyande maak nie.”

Sy het ’n lang vergadering met dr. Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, gehad oor Maroela Media se berig. “Hy het onderneem om met die betrokkenes te praat oor regstellings.”

Ná twee maande by die ATKV het sy gereken sy verstaan die interne werkinge van die organisasie.

“Ek kon egter nog nie die speelveld van die Afrikaanse kultuurgemeenskap reg lees nie. Ek dink as ek die speelveld beter verstaan het, het ek dalk dit anders hanteer.

“Ek dink ek was onkundig. Naïef, eintlik, maar ek glo die meeste Afrikaanse mense gee om vir ons land en ons kinders se toekoms, dat ons as taalgemeenskappe moet hande vat.”

As die ATKV se ledetal nie groei nie, kan hulle nie aanhou om selfs die huidige projekte te finansier nie, benadruk sy.

Dis goed sy glo in wonderwerke, word ook nou gesê, want dit gaan nodig wees vir haar plan om die ATKV se huidige ledetal van 70 000 tot ’n miljoen te laat groei teen Januarie 2018 . . .

Nee, lag sy effe verbouereerd, dis maar net haar droom. ’n Inspirasie.

“Ek weet as mense die boodskap oor die ATKV reg kry, gaan hulle die regte ding doen en aansluit.”

Maar ons het nou gehore bereik wat ons nog nooit vantevore kon nie.

Die projek was haar eie inisiatief, sê sy, en die direksie steun haar 200%.

“Ek weet ook nou dit was ’n fout om my eerste perskonferensie op die Engelse media te teiken, sonder om die Afrikaanse steunbasis van die ATKV eers in ag te neem. Maar ons het nou gehore bereik wat ons nog nooit vantevore kon nie.”

Sy wou die “miljoene Afrikaanse mense bereik wat net Engelse media lees, soos ek al die jare. Ek weet hulle gee om vir Afrikaans en hul kinders se toekoms in Afrikaans, maar weet nie watter juweel die ATKV is nie”.

Dis nie in die organisasie se DNS om hul projekte aan die groot klok te hang nie. “Dis daarom kritiek belangrik om dié mense te bereik.”

Le Hanie het as sekretaresse op 30 met aandklasse verder begin studeer. Dit was moeilik, veral met twee jong kinders van wie een, haar dogter, Downsindroom het.

“My ouma en oupa het 18 jaar lank by ons gebly, en ek sal nooit die bord warm kos vergeet wat sy elke aand spesiaal vir my gehou het as ek moeg daar aankom nie.”

In haar 11 jaar as besturende direkteur van ’n IT-maatskappy het die omset van R280 miljoen tot R1,5 miljard gegroei.

“Ek was baie gelukkig daar, maar ná 18 jaar was ek reg vir ’n nuwe uitdaging.”

Soos die naam van hul ou gospelgroepie, was dit tyd vir travelling on.

Hoe sy by die ATKV beland het, is iets wat sy met onblusbare begeesterdheid vertel. In Januarie, nadat sy bedank het by die IT-maatskappy, was sy op ’n kort vakansie in Umhlanga voordat sy haar meestersgraad in mentorskappe sou aanpak.

Die middag lê sy daar in haar board shorts op die strand, bietjie verveeld en lus om weer met haar lewe aan die gang te kom. Haar selfoon lui en die werwingsagent vra: Hoe’s jou Afrikaans? En wat weet jy van die ATKV?

Wel, um, hulle het met kore en redenaarskompetisies te doen . . .

Later, agter in die kar op pad terug Gauteng toe, lees sy drie ATKV-jaarverslae en . . .

“En . . . ek het my hart verloor op hierdie organisasie. Oombliklik. Ek het net geweet ek wil hier wees,” lag sy diep.

Kop eerste ingeplons. Sy neem selfs lesse vir ’n “keuriger” Afrikaans as haar Wes-Randse straatweergawe.

“Die korporatiewe wêreld waar ek was, is Engels. Ek wil nie kom met my skewe en verdraaide Afrikaans nie, want ek wil hê die organisasie moet trots wees op my.”

As kind het sy vakansietye “tonne” Afrikaanse fiksieboeke gelees. Deesdae lees sy graag biografieë. Bill Venter s? het haar geroer. “Hy het regtig swaargekry as kind, maar homself daaruit gelig.” Nelson Mandela s? was “absoluut ’n ongelooflike inspirasie”.

Jy kan nie die Wes-Rand uit haar haal nie, lag sy. “Ek is in my ouma se huis in Madelinestraat, Florida, gebore en ek wou nog nooit op enige ander plek bly nie.”

Haar stiefpa was ’n “stoere Engelsman”, haar ma ’n “stoere boervroutjie van die plaas” wat 30 gospel-CD’s op haar kerfstok het.

“Ons het in die Pinksterkerk grootgeword, en gospel is tradisie.”

Dit voel bietjie vir haar of die ATKV met al sy lojale lede nou haar gesin geword het.

Dié wat nou vir haar vra of die ATKV sy Christelike basis by die venster gaan uitgooi, kry ’n ferm nooit. “Dis deel van die ATKV se waardes en ook my persoonlike geloofsoortuiging. Daar’s nie ’n manier hoe ek my eie geloof gaan prysgee nie. Maar dit beteken ook nie ek is perfek nie.”

Sy is agt jaar gelede, ná ’n huwelik van 26 jaar, geskei.

“My werk het my ingesluk, en ek het perspektief verloor. Ons eet nog steeds Sondae almal saam, hou tot partykeer saam vakansie. My seun werk saam met my eksman in die konstruksiebedryf. Ons is ’n hegte familie.”

Om haar huis en haar lewe met ’n Downsindroomkind te deel, is “wonderlik spesiaal”, maak sy hart oop.

“Sy bel my selde by my werk, maar ás sy bel is dit op presies die regte tyd wanneer ek haar stemmetjie net moes hoor. En dan val die laste van die hele wêreld net daar van my skouers af.

“Sy het haar troue volledig in 'n plakboek beplan en verander heeltyd daaraan, soos sy nuwe idees kry. Nou moet my kind nog net ’n man kry . . . en dis moeilik, in haar situasie.

“My lewe gaan eintlik daaroor om vir haar te voorsien sou iets met my gebeur.”

Dit voel bietjie vir haar of die ATKV met al sy lojale lede nou haar gesin geword het. Dis hoekom hierdie treinsmêsh so erg is. Hoekom sy, iewers tussen geblus en begeesterd, nou die trane vir ’n tweede keer hier voor haar koue cappuccino terugdruk.

“Ek het nie eintlik geslaap vandat hierdie krisis gekom het nie. Dis rof. Ek sal alles gee om nie die kosbare organisasie te skaad nie. Gee my net ’n kans.”

Meer oor:  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.