Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Mondli Makhanya: Wie is die ANC se ware opposisie?
Mondli Makhanya

Verlede Vrydag, terwyl die wêreld se magtigste mense die vierde nywerheidsrevolusie in Davos, Switserland, debatteer het, het ’n afvaardiging ANC-ondersteuners in Kaapstad op straat piesangs aan opposisielede uitgedeel.

Ingeval iemand dink hierdie was ’n gebaar van vrygewigheid, moenie jou laat flous nie. Die skare wat op die DA se hoofkantoor toegesak het, was nie daar om liefdadigheidswerk te doen nie. Hulle was daar om die DA te vertel presies hoe rassisties hulle (die DA) is. Die piesangs was ’n lomp rekwisiet om die DA te verbind aan Penny Sparrow, wat vroeër vanjaar swart mense met ape vergelyk het.

Die regerende party se optog na ’n opposisieparty se kantoor is een van die helderste voorbeelde van hoeveel inisiatief die ANC verloor het wanneer dit kom by die daarstel van die agenda van Suid-Afrikaanse politiek.

Wanneer die formele politieke kalender vandeesweek begin, sal die EFF weer eens in die kollig wees en die meerderheidsparty dwing om soos ’n afkophoender rond te skarrel.

Nadat hulle vir groot gedeeltes van 2014 en 2015 hul aandag aan die EFF gewei het, het hulle hul visier vanjaar na die DA verskuif.

Aan die begin van die jaar het die onthulling dat Sparrow ’n DA-lid is, in die ANC se skoot geval en hulle het die murg behoorlik uit dié karmenaadjie gesuig. Ná die DA-LP Diane Kohler Barnard se omstrede sosialemediaflater verlede jaar is Sparrow as’t ware deur die gode gestuur.

Toe begin die ANC se leiers, beeldpoetsers en sosialemediabrigade die DA karnuffel in ’n doelbewuste poging om die publiek te oortuig dat die DA ’n teelaarde vir rassiste en ’n broeikas vir wit oorheersing is. Elke week probeer die ANC die DA swartsmeer en reageer hulle toksies op elke uitspraak van ’n opposisieleier.

Wanneer dit egter kom by die werklike probleem van rassisme, het die regerende party geen leierskap gebied nie en eerder besluit om rassisme as ’n verkiesingstruuk aan te wend. Nadat hy uitoorlê is deur die DA-leier Mmusi Maimane se deurdagte ingryping oor raskwessies, was die ANC se onbeholpe reaksie om dit ’n “groot, regstreekse TV-foefie” te noem – blote “lippediens oor nierassigheid”.

Toe die DA ’n reuseplakkaat opgesit het waarop pres. Jacob Zuma geblameer word vir grootskaalse werkloosheid, het die ANC die opposisieparty van rassisme beskuldig. Toe die DA ’n optog vir werkskepping in Johannesburg gehou het, het die ANC in ’n verklaring gesê die DA het mense R100 elk betaal om aan die optog deel te neem.

“Ten einde hul rassistiese agenda te bevorder, het die DA besluit om armlastiges uit te buit om die belange van ’n wit minderheid te bevorder,” het die ANC gesê.

Hy het voortgegaan: “Hoewel ons die vryheid van assosiasie en protesaksie respekteer, beskou ons die DA se foefie as ’n belediging vir demokrasie. Hulle gebruik werklose swart gesigte om hul rassistiese agenda te verbloem. Dié optrede bevestig weer eens dat die DA, met sy gehuurde sogenaamde swart leiers, steeds ’n plek is waar rassisme koning kraai en wat floreer op die mishandeling van swart mense om wit kapitaal te probeer beskerm.”

Dit is allermins oorspronklik.

In die komende weke sal die EFF waarskynlik weer die regerende party se agenda bepaal, iets wat hy sedert sy vorming twee en ’n half jaar gelede met trots doen. In dié tyd het Julius Malema en sy luitenante die kitaar geslaan en die ANC moes noodgedwonge dans. Of dit nou politieke skandale, beleidskwessies of politieke geleenthede was, die ANC moes volg en nie lei nie.

Met betrekking tot beleidskwessies het dié jong party die ANC as’t ware gedwing om retoriek te uiter wat nie ooreenstem met sy eie beleid nie. Kyk byvoorbeeld na die grondkwessie – iets wat vir lank ’n bysaak was vir die ANC. Met die aankoms van die EFF en sy fokus, begin die ANC skielik militant klink oor dié kwessie.

Vroeër dié maand het Zuma geklink soos ’n afgewaterde weergawe van Malema toe hy by die ANC se herdenkingseremonie oor grond gepraat het.

“My probleem is, die bron van armoede, ongelykheid, werkloosheid, is grond – wat gevat is, nie gekoop is nie, [maar] gesteel is. Maar die regering moet dit terugkoop asof dit verkoop is. Dit is nooit verkoop nie; dit is afgeneem – gesteel. Jy het middele nodig wanneer jy armoede wil oplos. Ons krap nog net aan die oppervlak van dié probleem.”

Dit was ’n besliste afwyking van die ANC se denke en die regering se beleide wat die onregte van die verlede erken maar wegbeweeg het van die toewysing van blaam. Dié beleide, wat oor die afgelope twee dekades verfyn en weer verfyn is, is prakties en goed deurdag.

Die ANC – rigtingloos en oorweldig deur binnegevegte – kan nie dink nie en kan nie lei nie.

Maar daar staan die leier van die party en wyk af van sy organisasie se standpunte. Malema moes trots geglimlag het toe sy eertydse held hom so napraat. Wanneer die formele politieke kalender vandeesweek begin, sal die EFF weer eens in die kollig wees en die meerderheidsparty dwing om soos ’n afkophoender rond te skarrel.

Dit is egter nie die enigste politieke teenstand wat die ANC se pas aangee nie. Verlede jaar was dit jong snuiters wat die ANC ore aangesit het. Tydens die #RhodesMustFall- en #FeesMustFall-veldtog het die ANC bontgestaan om te probeer bybly met die straataktiviste. Toe die ANC agterkom dat hy misluk het met die voorsiening van leierskap op twee belangrike kwessies – nasionale samehorigheid en praktiese implementering – het hy hopeloos te laat probeer om vir hom ’n plek op die skoolgrond oop te boelie.

Volgens aanduidings is hierdie nie ’n fase wat gaan oorwaai nie. Die ANC – rigtingloos en oorweldig deur binnegevegte – kan nie dink nie en kan nie lei nie. Hy kan bloot reaktief reageer op die meeste van die land se probleme. Die ANC is kreupel en kan nie meer helder dink nie.

Dit is waarom dit makliker is om bloot piesangs uit te deel.

Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Mmusi Maimane  |  Anc  |  Eff  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.